'n Ander Evangelie -- 'n Ander Jesus

deur
Elmer D Grobler

English version: A Different Gospel - Another Jesus
Ter verdediging van die Evangelie van Jesus Christus

Ek het onlangs na 'n boodskap geluister wat my in totale onsteltenis gelaat het. Alhoewel die boodskap self skokkend was, was die oorsprong van die boodskap vir my die grootste skok. As dit van 'n rand sektariese groep afkomstig was, sou ek my nie veel daaraan gesteur het nie. Die oorsprong van die boodskap is egter vanuit 'n populêre evangeliese kerkgroep waar sommige van my familie en vriende aanbid. Die misleiding slaan toe baie naby aan die huis en dit is die rede waarom ek nie kan stilbly nie. Net die gedagte dat sommige van my geliefdes en vriende in hierdie dwaling gevange mag wees, laat my in diepe onsteltenis.

Liewe vriende, ons leef in die laaste dae voor Jesus Christus se wederkoms, en ek is bevrees dat baie Christene geheel en al onbewus is van die misleiding wat besig is om in hulle geestelike kringe plaas te vind. Die Woord van die Here waarsku ons keer op keer. In Kol 2:4,8 lees ons: (4) "Ek beklemtoon dit, sodat niemand julle met vals redenasies mislei nie." (8) "Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, ..." (NV) In 1 Tim 4:1 lees ons: "Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang." (NV)

Hierdie profesieë is besig om in vervulling te gaan reg onder ons oë -- en dit is nader aan die huis as wat baie van ons besef! In hierdie artikel wil ek spesifiek fokus op die boodskap waarna ek hierbo verwys. Ek het nog nooit voorheen in my lewe krities geskryf oor 'n ander Christen of kerkgroep by naam nie. Hierdie sal die heel eerste keer wees en ek doen dit met vrees en bewing -- ek het geen ander keuse nie. Vrees -- nie vir die negatiewe reaksie of vervolging wat ek as gevolg van hierdie artikel verwag nie, maar vrees vir God om Hom in volle gehoorsaamheid te volg. Ek wil graag beklemtoon dat hierdie artikel geensins beskou moet word as 'n aanval op die persoon (persone) of kerkgroep(e) ter sprake nie, maar suiwer as verdediging van die Evangelie van Jesus Christus.

'n Verlore muntstuk, of verlore waarheid?

Die boodskap waarna ek verwys is getiteld, The Lost Coin deur Dr Fanie Briel, en hy praat klaarblyklik namens die Doxa Deo kerkgroep. Hierdie is by verre die mees ontstellende boodskap wat ek nog ooit gehoor het vanuit 'n evangeliese bron. Die misleiding is fundamenteel tot die Evangelie, tog so subtiel dat die meerderheid luisteraars dit moontlik nie eers optel nie. Ek moet my geliefdes, familie en vriende waarsku dat hierdie 'n valse evangelie is! Hieronder gee ek 'n opsomming van die boodskap, maar ek wil jou aanmoedig om na die hele boodskap te luister by die skakel hierbo.

Aanhaling: “We are not human beings having a spiritual experience. We are spiritual beings having a human experience.” … The reason Jesus died was because of His love. Jesus didn’t die to simply save people from hell. The reason He died was to plant them into His love. … God made all people in His image. People who are made in God’s image are not only Christians … we have 7 billion people walking on earth with the image of God inside them. … The only difference between a Christian and non-Christian is a Christian discovered the image of God inside of them. … Man has inherent value – every man and woman on this planet has merit to receive and deserve (God’s) love and to receive and deserve to be part of the family of God. … Every human being on this planet has inherent value. … We are all made in the image of God and all of us were included in the death and resurrection, reconciliation work and justification work of Jesus Christ 2000 years ago. … Do people only have value once they are saved? Or do God save people because of their inherent value? … The answer is Jesus Christ came to die for the entire human race because of our value. … We didn’t only have value after the cross. We had value before the cross – and that is why there is a cross. The cross is a sign of the value God placed on His creation – people made in His image. … We lead with grace and love – we don’t lead with truth. … The reason we reach out to the world is because of their value. Because they are so valuable, we want to reach out to them. (Not because they are lost in sin - EG.) … The problem we have in the church-world is that we made sin the overriding communication of salvation. Jesus never made sin the overriding communication of salvation. … (Really? – EG)

Vriende, hierdie lering ignoreer die Bybelse weergawe van, en gevolge van die sondeval. Dit ignoreer die realititeit en implikasie van die sondeval en die probleem van sonde. Dit leer dat Jesus aan die kruis gesterf het as gevolg van die mens se inherente waarde. Dit is geheel en al die teenoorgestelde van die Bybelse boodskap van die Evangelie. Die gevolge van die sondeval en die feit dat elke mens met 'n gevalle Godsbeeld, en geestelik dood in sonde gebore word, word heeltemal geïgnoreer of ontken. Elke persoon wat Jesus Christus op grond van hierdie evangelie aanneem bou op 'n valse fondament! Hierdie is 'n fundamentele dwaling en 'n valse evangelie!

Niemand kan en sal ooit gered word tensy jy by 'n plek kom waar jy verstaan dat jy 'n verlore sondaar is nie. Die liefde van God word juis daarin bewys dat Hy vir ons sonde gesterf het. Dit is nie moontlik om die liefde van God te verstaan of te beleef sonder 'n sondebesef nie! Rom 5:8 sê: ".. maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was." (OV) Die boodskap van die Evangelie van Jesus Christus is dat Hy gekom het om sondaars te red van die straf sowel as die mag van sonde. Die mees liefdelose ding wat enige iemand aan 'n ander kan sê, is dat hy of sy vir God aanvaarbaar is sonder 'n hartgrondige bekering van sonde -- want dit is 'n leuen! Die probleem wat ons in die kerk-wêreld het is nie dat ons sonde die oorheersende kommunikasie vir redding maak nie -- maar dat ons daarin misluk om die wortel van die mens se probleem, naamlik die gevolge van die sondeval en probleem van sonde effektief te kommunikeer en te beklemtoon.

Toets die fondament van jou redding

Ek wil herhaal, wat my in die besonder ontstel is dat hierdie dwaling geleer word in een van ons populêre evangeliese kerke waar baie van ons geliefdes, familie en vriende aanbid! Ek besef nou dat dieselfde valse lering subtiel omarm en geleer word deur baie ander kerke in die charismatiese- en vernuwingsbeweging. Nadat ek na hierdie boodskap geluister het, het die gekamoefleerde en subtiele dwaling van 'n afgewaterde evangelieboodskap in vele kringe oor die spektrum van die vernuwingsbeweging, kristalhelder begin word. Hierdie dwaling is ook aan die wortel van die voorspoedsteologie.

"Jesus het jou lief' was oor die eeue heen as't ware die 'handelsmerk' van die Evangelie, maar is deur 'n goedkoop en valse evangelie gekaap. Die liefde van God het 'n totale nuwe betekenis gekry. Die feit dat Jesus Christus gesterf het om jou van die straf en die mag van sonde te red vir Homself en vir Sy heerlikheid, is nou sekondêr. Die primêre betekenis van die liefde van God is dat Jesus vir jou gesterf het omdat jy so waardig is in Sy oë. Dit verteenwoordig 'n subtiele verskuiwing in klem van God in die sentrum van die Evangelie, na die mens in die sentrum. Hierdie verskuiwing van klem val goed op die oor en die misleiding is so subtiel dat meeste Christene nie eers die dwaling raaksien nie. Dit is waarom dit so gevaarlik is! Jesus Christus as die fokuspunt van die Evangelie word nou vervang met die mens as die fokuspunt.

Ek is nie 'n teoloog nie en ek beplan nie om 'n gedetaileerde kritiek van die bogenoemde boodskap te gee nie. Ek praat ook nie namens 'n kerk of kerkgenootskap nie. My evangelisasie bediening is interdenominasioneel en ek praat namens ware weergebore Christene oor kerkgrense. Jy hoef nie 'n teoloog te wees om die valsheid van hierdie lering duidelik te sien nie. Jy hoef slegs 'n weergebore Christen te wees wat tot ware bekering gekom het deur die oortuigingskrag van die Heilige Gees!

Gedurende Februarie 2017 het ek 'n artikel geskryf, getiteld, ''n Ander Jesus -- 'n Ander Evangelie'. Op daardie tydstip het ek dit geskryf met die primêre doel om my gesin, familie en vriende te waarsku teen die gevaar en invloed van 'n goedkoop evangelie. Ek was stom geslaan toe ek hierdie artikel weer na vyf jaar lees. Hierdie artikel is absoluut in die kol en profeties op koers met betrekking tot dit waarvan ons hier praat. Ek verwys jou dus na ''n Ander Jesus -- 'n Ander Evangelie' -- in Engels ‘AnotherJesus - A Different Gospel’, vir meer besonderhede met betrekking tot hierdie onderwerp. Lees dit asseblief ter wille van jou eie onderskeiding. Ek beveel verder ook sterk aan die volgende webbladsy 'Die Geheim van die Twee Lewensbronne'.

Deel hierdie artikel