Die Christen se Oorlog in die Geesteswêreld
Ken Jou Vyand

Deel 1

deur
Elmer Grobler

(Hierdie artikel het ek reeds in 1998 vir die eerste keer gepubliseer. Ek publiseer dit nou (Des 2019) weer op die internet met enkele aanpassings.)

Elke Christen is in hierdie lewe in ’n geestelike stryd betrokke. Elke Christen is egter nie in dieselfde soort stryd betrokke nie! Die aard van jou stryd sal bepaal waar jy geestelik staan op die pad van geestelike groei. Die normale geestelike stryd is ’n oorwinningstryd! As jy nie in ’n oorwinningstryd oor sonde, versoeking, Satan, die wêreld en jou omstandighede betrokke is nie, is jy in ’n verkeerde stryd betrokke! Die werklike stryd waarin elke Christen betrokke behoort te wees, is die stryd teen Satan en sy bose magte. Daarom staan daar in Ef 6:12: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte van hierdie sondige werêld, teen die bose geeste in die lug.

Baie Christene dink hulle is besig met geestelike oorlogvoering, terwyl hulle eintlik met burgeroorlog besig is.

Hulle is in ’n stryd met hulle sondige natuur gewikkel! Hierdie stryd beskryf ek elders in diepte. Dit is die stryd van Rom 7 en Gal 5:17: “Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en  daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.” Iemand wat nog met burgeroorlog besig is, is nie toegerus vir ’n konvensionele oorlog met Satan en sy bose magte nie! ‘Die Ses Fundamentele Bybelse Beginsels van ’n Oorvloedige, Oorwinnende, en Geesvervulde Lewe’ en die gebed wat daarop volg, sal jou help om ’n einde te maak aan burgeroorlog in jou lewe!

Ken jou vyand!

Die eerste stap in geestelike oorlogvoering is om jou vyand, die Satan, te leer ken! Baie mense wil nie meer weet van die duiwel nie vir verskeie redes. Sommige is bang, terwyl ander dit oorbodig ag. Die feit van die saak is egter dat niemand kan verwag om suksesvol uit die stryd te tree sonder om sy opponent te ken nie! Watter bokser sal in die kryt klim sonder dat hy iets weet van sy teenstander?

Ons lees in Lukas 4:6 dat die duiwel sy posisie in hierdie wêreld aan Jesus in die woestyn so stel: “Toe sê die duiwel vir Hom: ‘Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.’” In Joh 8:44 sê Jesus vir die Jode: “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.

Natuurlik het Jesus Christus die oorwinning oor Satan en sy bose magte behaal toe Hy opgestaan het uit die dood. Saam met Paulus in 1 Kor 15:55 en 56 kan ons uitroep: "Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?... God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus." Hierdie artikels gaan juis daaroor om te verseker dat ons weet en verstaan hoe om in die oorwinning te leef. Maar beteken dit nou dat 'n kind van die Here immuun is teen Satan en sy bose magte? Gladnie! Daarom waarsku Petrus ons in 1 Pet 5:8: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

Satan en sy demone is ’n werklikheid!

Satan en sy demone is ’n werklikheid en hulle speel ’n groter en meer werklike rol in die geestelike lewens van Christene as wat meeste mense besef! Hal Lindsey het jare gelede ’n boek geskryf met die titel, “Satan Is Well And Alive On Planet Earth” - en dit is geen oordrywing nie! Jy sal miskien verbaas wees om uit te vind presies hoe bedrywig en aktief Satan en sy demone in die lewens van Christene, hulle huwelike en die Kerk van Jesus Christus is — en nou haal ek nie ’n demoon onder elke bos uit nie!

Daar is twee gevare wanneer dit kom by geestelike oorlogvoering. Die een gevaar is om die hele tyd net met Satan en sy demone besig te wees. Daar is so iets soos ’n obsessie en ’n beheptheid met Satan en sy demone. Ons moet daarteen waak en dit vermy! Maar dit gesê, is daar ’n ander ewe groot gevaar, naamlik ’n gebrek aan kennis oor Satan en sy demone! Hierdie tweede gevaar, wat dalk groter is as die eerste een, is om kennis oor die Satan en sy demone te vermy. Die Satan wil ten alle koste verhoed dat sy aktiwiteite en strategieë ontbloot word - want Jesus sê in Joh 8:32 dat die waarheid jou sal vry maak — en deel van die waarheid is kennis oor die taktieke van die Satan!

Die eerste strategie wat Satan met groot sukses gebruik om kinders van die Here weg te hou van die waarheid, is vrees!

Daar is veral twee strategieë wat die duiwel met groot sukses gebruik om kinders van die Here weg te hou van die waarheid omtrent sy eie aktiwiteite, en die eerste is vrees! Die Satan probeer om ’n vrees by Christene te wek vir homself en daardeur te verhoed dat hulle meer kennis opdoen omtrent sy aktiwiteite in hulle lewens. Sommige is bang om te veel van Satan en sy bose magte te wete te kom omdat hulle ’n vrees het om in ’n konflik met die bose betrokke te raak. Jesse Penn-Lewis sê: “It is better to lose the ‘peace’ of ‘no-conflict’, than to remain in deception.”(1) Sy sê dat vrees vir die duiwel of weerstand teen meer kennis van die duiwel, kan altyd beskou word as van die duiwel self! (2) ’n Kind van die Here het geen rede om die Satan te vrees nie. Inteendeel, dit werk net andersom - die Satan vrees ’n kind van die Here wat sy gesagsposisie in Christus Jesus verstaan! ’n Kind van die Here het gesag oor Satan en sy bose magte! Daar staan in 2 Tim 1:7: “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

Die tweede strategie wat die Satan met groot sukses gebruik om kinders van die Here weg te hou van die waarheid, is onkunde!

Daar bestaan geweldig baie wanopvattings onder kinders van die Here met betrekking tot Satan en sy demone! Sommige Christene dink dat Satan en sy demone slegs opereer in die okkultiese wêreld en in die lewens van ongelowige en ongeredde mense. Hulle dink dat omdat hulle kinders van die Here is, hulle hulself nou buite die invloedsfeer van Satan bevind.

Dan is daar Christene wat glo dat as ’n mens vervul is met die Heilige Gees kan die Satan nie aan jou raak nie want jy is ’n Koningskind! Die feit van die saak is egter dat Satan en sy demone ’n werklikheid is in die Kerk van Jesus Christus en daarop uit is om elke (Konings)kind van die Here te probeer mislei en verlei!

Een van die grootste wanopvattinge omtrent Satan is dat al sy aktiwiteite maklik identifiseerbaar is want alles wat goed en mooi is kom van die Here en alles wat sleg, lelik en verwerplik is kom van die Satan! Dit is ’n groot fout! Jy sal verbaas wees om uit te vind hoeveel mooi, goeie en edel gedagtes, emosies en dinge in jou lewe, soos jy gedink het van die Here of van die Heilige Gees af kom, eintlik direk van Satan en sy demone afkomstig is! Die Bybel sê vir ons in 2 Kor 11:14,15: “... Satan self doen hom voor as ’n engel van die lig. Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. ..”  En in 1 Joh 4:1 staan daar: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef ...” Want in die lewens van Christene en in die Kerk doen demoniese geeste hulleself voor as die Heilige Gees!

Die feit van die saak is dat Satan en sy demone nie hulle aktiwiteite tot die ongeredde wêreld of diegene wat hulleself met die okkulte besig hou, beperk nie.

So werk Satan en sy demone ...
Satan en sy demone is betrokke op elke terrein waar die VOORWAARDES vir hulle aktiwiteite vervul word en waar hulle ’n TOEGANGSPOORT kry!

Daar staan in Ef 4:27: "... en gee aan die duiwel geen plek nie." Die Griekse woord wat hier vertaal is as 'plek', is 'topos', wat beteken, 'n voorwaarde, of 'n geleentheid, of 'n lisensie, of 'n skede.

Onkunde, misleiding en passiwiteit, is die drie grootste strategieë wat deur Satan gebruik word om aan hom en sy bose magte ’n toegangspoort in die lewe van ’n kind van God te verkry! Ons sal in Deel 2 verduidelik wat die voorwaardes en toegangspoorte vir demoniese aktiwiteit is.

Die gedagte dat Satan en sy bose magte magteloos is in die lewe van ’n Geesvervulde kind van die Here, is insigself ’n misleiding van die Satan! Die feit van die saak is dat Satan en sy bose magte aktief is in elke Christen se lewe, en daarop uit is om elke Christen se geestelike lewe asook sy huwelik te laat skipbreuk lei!

Die Christenhuwelik is ’n primêre teiken van die Satan. Die gesin is die Kerk van Christus in die kleine, en die huwelik is die uitdrukking van die Goddelike gesagstruktuur waardeur die krag van God vloei. As die Satan dit kan regkry om die Christen se huwelik te vernietig, dan het hy dit reggekry om die Kerk van Christus te verlam en die vloei van Goddelike krag te verhinder! Daarom eindig so baie Christenhuwelike in die egskeidingshof!

Miskien het jy al gehoor dat sataniste bid vir, en konsentreer op die verbrokkeling van Christenhuwelike. Ek het ’n paar jaar gelede gehoor dat die sataniste in sekere van ons land se stede op ’n sekere tyd van die dag op die hoë plekke in en rondom die stad in hulle motors, met die hoofligte aan en gerig op die stad, sit en bid vir die verbrokkeling van Christenhuwelike!

Satan se doelwit is presies die teenoorgestelde as dié van God. God sluit ’n verbond met sy kind in ’n verbintenis van eenheid - Satan wil daardie verbintenis verbreek. Die teenoorgestelde van ’n verbond of verbintenis, is ’n verbrokkeling — Satan wil ’n verbrokkeling of ’n verwydering bewerkstellig. Satan fokus hierdie verbrokkeling of verwydering op drie vlakke: 1. Hy probeer konstant om die Christen se verhouding met Jesus Christus te laat verbrokkel. 2. Hy konsentreer op die verbrokkeling van die huweliksverbond. 3. Hy fokus op die verbrokkeling van die eenheid tussen gelowiges deur verdeeldheid en skeuring in die Kerk van Jesus Christus aan te blaas.

Ek wil dit weer herhaal dat dit waarvan ons hier praat nie slegs spookstories is nie - die Christen is in ’n werklike geestelike oorlog betrokke — of hy nou daarvan wil weet of nie! Baie Christene is alreeds onwetend krygsgevangenes in hierdie oorlog! As gelowige is jy noodwendig deel van hierdie stryd! Jy is of ’n prooi van die Satan, of jy is ’n oorwinnaar in Christus — daar is geen neutrale terrein nie! Hoe meer kennis jy het oor die werking en strategieë van die duiwel en sy demone, hoe beter toegerus sal jy wees om hulle teen te staan.

’n Geslote intellek - ’n intellek wat gesluit is vir lig en waarheid - is ’n sekere waarborg van misleiding deur Satan op die vroegste moontlike geleentheid! (3)

Jesse Penn-Lewis sê dat kennis van die moontlikheid vir elke Christen om mislei te word, die intellek oop hou vir waarheid en lig van God - en dit is een van die primêre voorwaardes vir die beskermende krag van God!

Een van die tekens van demoniese teenwoordigheid in of deur die lewe van ’n gelowige, is teenstand of vyandigheid teenoor alle waarheid met betrekking tot die magte van die duisternis. Daarteenoor is openheid vir die waarheid ’n teken van die teenwoordigheid van die Heilige Gees in of deur ’n gelowige.

Ken Jou Vyand word vervolg in Deel 2.

(1)  War on the Saints - Jesse Penn-Lewis. Bls 94
(2) War on the Saints - Jesse Penn-Lewis Bls 148
(3) War on the Saints - Jesse Penn-Lewis Bls 50

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
Leef In Oorwinning