Die Christen se Oorlog in die Geesteswêreld
Ken Jou Vyand

| Deel 1 | Deel 3 |

Deel 2

deur
Elmer Grobler

(Hierdie artikel het ek reeds in 1998 vir die eerste keer gepubliseer. Ek publiseer dit nou (Des 2019) weer op die internet met enkele aanpassings.)

Die Voorwaardes of Grond vir Demoniese Werking

"Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” Luk 22:31,32.

Ons het in Deel 1 die werklikheid van die demoniese stryd waarin die Christen homself bevind, behandel. Ons het gesê dat elke Christen onvermydelik in hierdie stryd betrokke is, of hy dit nou wil weet of nie! Ons het ook gesê dat Satan en sy demone op elke terrein betrokke is waar die voorwaardes vir hulle aktiwiteite vervul word en waar hulle ’n toegangspoort kry! Satan en sy demone beperk nie hulle aktiwiteite tot die okkultiese en ongeredde wêreld nie, maar funksioneer op enige plek en op enige terrein waar hulle grond (die reg of toestemming) vir hulle optrede verkry!

Daar bestaan drie grade of terreine van demoniese werking. Die eerste is demoniese aktiwiteit of verdrukking ('oppression'); die tweede is demoniese binding of verblinding; die derde  is demoniese besetting. Demoniese besetting, wat die derde graad van demoniese werking is, is die toestand waarby Satan dit reggekry het om die WIL van ’n persoon só te beset dat hy nie meer op eie inisiatief kan reageer nie, maar suiwer as ’n marionet van die Satan optree. ’n Christen kan nie demonies besete wees nie! Want dit impliseer dat die Satan in beheer van sy Wil is, en hy daarom nie aan Jesus Christus kan behoort nie.

‘n Christen kan egter wel deur demone verduk, verblind of gebind word op een of meer terreine van sy innerlike mens!

Demone kan met ’n Christen kommunikeer, met ander woorde aan hom gedagtes en emosies administreer, sonder sy toestemming - sonder dat enige reg of toegangspoort aan hulle gegee is - maar hulle kan nie die fakulteite van die Christen se Wil, Intellek, Emosie of Liggaam manipuleer tensy ’n reg of toegangspoort aan hulle gegee, of deur hulle verkry is nie!

Demone kan, behalwe gedagtes, prentjies, idees, emosies, gemoeds- en geestestoestande, ook struikelblokke, probleme, siektes, beproewinge en versoekinge van buite oor ’n Christen se lewe bring sonder sy toestemming! Maar hulle kan nie die Christen se Wil, Intellek, of Emosie van binne manipuleer sonder sy toestemming nie.

Kom ons gaan kyk kortliks na die Bybelse grond vir bogenoemde bewerings. In Lukas 4:1-13 lees ons die verhaal van Jesus se versoeking deur die Satan in die woestyn. Ons sien hier duidelik dat die Satan met Jesus van buite kon kommunikeer, maar dat Jesus hom weerstaan het en dat hy geen toegangspoort, toestemming, of reg kon vind waardeur hy toegang tot Jesus se innerlike lewe kon verkry nie!

In die geval van Judas was dit egter ’n ander storie. Ons lees in Luk 22:3 en Joh 13:27 dat die Satan in hom ingevaar het. Hoe het die Satan dit reggekry, om sommer so in Judas in te vaar? Hy het ’n reg en ’n toegangspoort verkry! Want ons lees in Joh 13:2 dat die duiwel toe al klaar vir Judas op die gedagte gebring het om Jesus te verraai.

Alles het dus by ’n gedagte begin - ’n gedagte wat deur die Satan ingegee was!

In plaas daarvan om die gedagte te verwerp en die Satan te weerstaan, het Judas die gedagte vertroetel en so toestemming verleen vir verdere demoniese optrede. Hy het ’n toegangspoort oopgemaak en aan die Satan die reg gegee om hom te gebruik!

Daar bestaan drie hoofvoorwaardes of -gronde vir demoniese werking. Hierdie gronde is die ‘wette’ of beginsels wat moet geld om aan Satan en sy demone ’n wettige reg vir optrede te gee. Daarbenewens bestaan daar talle ander toegangspoorte wat die deur kan oopmaak vir demoniese werking. Ons gaan in hierdie uitgawe stilstaan by die eerste twee hoofvoorwaardes of -gronde vir demoniese optrede.

Satan en sy demone kan óf ’n wettige reg hê om op ’n bepaalde terrein te funksioneer, of hulle kan dit wederregtelik doen. Demoniese aktiwiteit begin gewoonlik met wederregtelike optrede in die lewe van ’n Christen. Met ander woorde, wat ons sê is dat die Satan geen reg het in die lewe van ’n Christen nie, want die Christen behoort aan God - Satan het geen reg in sy lewe nie! Nie waar nie? Nou as hy dan geen reg het nie, hoe is dit dan moontlik dat demone in ’n Christen se lewe kan funksioneer? Die antwoord is, deur die vervulling van die voorwaardes vir hulle werking - deur ’n reg of grond wat deur hulle verkry is! Dit bring ons dan by die vraag: wat is hierdie voorwaardes, of gronde vir demoniese werking?

Hierdie drie voorwaardes of gronde is: SONDE, MISLEIDING, en PASSIWITEIT VAN DIE VERSTAND - en hierdie voorwaardes geld vir Christene sowel as nie-Christene.

Satan vra nie eers vir jou of jy ’n Christen is voordat hy in jou lewe funksioneer nie - hy soek net ’n grond of voorwaarde vir sy werking!
1. Sonde

As daar bewustelike sonde in jou lewe is wat jy vertroetel of aan vashou - kan jy verseker wees daar is grond in jou lewe vir die funksionering van demone! Dit beteken egter nie dat alle sonde demoniese bindinge is nie. Op watter stadium ’n sonde oorgaan tot ’n demoniese binding, weet ons nie verseker nie. Maar wat ons wel weet is dat alle sonde ’n toegangspoort vir demoniese werking is. Petrus het Jesus verloën, maar daarna opregte berou getoon. Sy sonde het duidelik nie oorgegaan tot ’n demoniese binding nie. Judas het Jesus verraai as gevolg van ’n demoniese aktiwiteit in sy gedagtewêreld. Hoe lank Judas hierdie sondige gedagte gekoester het, weet ons nie. Maar wat ons wel weet is dat sy sonde oorgegaan het tot ’n demoniese besetting.

Liewe kind van God, die Here wil hê dat jy sal klaar speel met sonde in jou lewe. Jesus Christus wil jou vry maak van die mag van sonde! Omdat ons die aspek van sonde in ander artikels behandel, volstaan ons hier met hierdie gedagte.

2. Misleiding

Jesus sê vir die Fariseërs (die vormgodsdienstiges van daardie tyd): “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. ..... En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen  waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen.” Joh 8:44.

Die fout wat ons maklik kan maak, is om te dink dat sonde alleen, toegang vir die Satan in ’n mens se lewe kan gee. Dit is egter net hier waar baie Christene onkant betrap word. Daar is ’n tweede voorwaarde of reg vir die werking van Satan en sy demone in die lewe van ’n Christen, wat baie meer subtiel en minder ooglopend as die eerste is, naamlik, Misleiding. Dít is die rede waarom so baie kinders van die Here met demoniese bindinge rondloop - meeste van hulle totaal onbewus daarvan!

Wat presies bedoel ons met ‘misleiding’? Ons bedoel daarmee die glo van ’n sogenaamde ‘waarheid’ - ’n woord, idee, gedagte, gevoel of ingewing in my binneste - wat eintlik ’n leuen van die Satan is. ‘Misleiding’ is die aanvaarding van ’n leuen van die Satan in my Intellek of Emosie as die waarheid. Net soos die vrymakende krag van die Evangelie in my lewe ’n werklikheid word deur geloof in die waarheid, net so word die bindinge en verblindinge van die Satan ’n werklikheid in my lewe deur die glo van die leuen!

Die oomblik dat ’n kind van die Here ’n leuen van die Satan glo, gee hy aan demone grond, en het hy aan ’n voorwaarde voldoen, vir verdere demoniese werking.

Soos ons reeds uitgewys het, kommunikeer die Satan op ’n voortdurende basis met kinders van die Here! Demone kan gedagtes en emosies in ’n Christen se Gedagtewêreld en Emosie plant. Hy kan ook met ’n Christen kommunikeer deur middel van visoene en drome. Die kind van die Here moet dus elke impressie wat in sy innerlike lewe ontstaan toets vir die oorsprong daarvan voordat hy dit aanvaar as die waarheid. ’n Gedagte kan van drie moontlike bronne kom - van myself, van Satan en sy demone, of van God.

Die groot gevaar hiervan is dat die Satan hom soos ’n engel van die lig vermom! (2 Kor 11:14.) Hy maak of hy die Heilige Gees is! Hierdie misleiding van die Satan is geweldig subtiel en iemand wie se hele lewe, gees, siel en liggaam, nie volkome onder die heerskappy van die Heilige Gees is nie, sal sekerlik op een of ander terrein van sy lewe deur die Satan mislei word!

Die gawe waaraan die Kerk van Jesus Christus  die grootste behoefte het vandag, is die gawe van onderskeiding!

Kom ons gaan kyk vir ’n oomblik na ’n baie bekende voorbeeld in die Bybel. Dit is die verhaal van die sondeval. Toe die Satan vir Eva mislei het, het hy nie in sy swart toga, met vurk in die hand en oë wat gloei soos vuur, twee horings op sy kop, en in ’n blou rookwolk wat stink van swael, aan Eva verskyn nie. Hy het homself vermom as een van die wyse diere van God se skepping wat al in die Paradys was nog voordat Adam en Eva daar was. ‘’n Slang wat praat?! Wat ’n wonderlike intelligente Goddelike wese!’ - het Eva waarskynlik gedink. Eva het immers nie eers geweet van die bestaan van Satan nie. Sy het nie eers geweet dat daar so iets soos kwaad was nie. Sy was opreg onskuldig en baie naïef - sy het geglo dat alles wat God gemaak het goed moet wees - ook hierdie wonderlike intelligente slang. Om nie eers te praat van al sy ondervinding wat hy al in die Paradys opgedoen het nie!

Ons lees in Gen 3:1: “Maar die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: ‘Het God werklik gesê julle mag [nie van al die bome] in die tuin eet nie?’” Sien jy hoe subtiel is die duiwel? Hy val nie met die deur in die huis deur vir Eva te sê: “Man, God het nie vir julle die waarheid vertel nie - kom ek vertel nou vir julle die volle waarheid!” nie. Hy vra vir Eva of God gesê het dat hulle nie van al die bome in die tuin mag eet nie. Met ander woorde, hy weerspreek nie vir God nie - hy suggereer slegs ’n halwe of verdraaide waarheid. Daardeur plaas hy eerstens ’n vertwyfeling in Eva se gedagte: ‘Is dit regtig wat God gesê het en is dit wat Hy bedoel het - het God nie dalk iets anders gesê of bedoel nie?’

Nou is Eva ontvanklik vir verdere suggesties van Satan en hy slaan verder toe. In vers 4 lees ons: “Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterf nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”

Wéér kom die Satan met ’n slenter - hy maak nie vir God tot leuenaar nie - hy praat namens God en vertel vir Eva wat God eintlik bedoel het toe hy vir hulle gesê het hulle moenie van die boom in die middel van die tuin eet nie. Eva het kop en pootjies in die Satan se slagyster getrap en so het die sondeval gebeur. Jy sien, Eva het nie bedoel om aan God ongehoorsaam te wees nie - sy het nie ’n ongehoorsame hart gehad op daardie stadium nie! Eva was ’n Geesvervulde vrou toe die Satan met haar gekommunikeer het! Al wat gebeur het is dat die Satan haar mislei het want sy sê in Gen 3:13: “Die slang het my mislei [bedrieg], en ek het geëet.”

Die oomblik dat ’n kind van die Here ’n leuen van die Satan glo, word ’n voorwaarde vervul, en grond verleen vir die werking van die Satan in daardie kind van die Here se lewe!

Op presies dieselfde manier bedrieg en mislei die Satan vandag nog talle Geesvervulde manne en vroue!

Jesus sê in Joh 8:32: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” Die waarheid maak vry - die leuen bind! En Satan is die vader van die leuen.  

Hoe werk dit?

In Sy groot soewereiniteit het God bepaal dat geloof die instrument sal wees wat die mens in ’n lewende verhouding met God bring! Dit is deur geloof dat ons gered word. Dit is deur geloof dat ons weergebore word. Dit is deur geloof dat ons heilig gemaak word. Dit is deur geloof dat ons met die Heilige Gees vervul word! Dit is deur geloof dat ons genesing ontvang. Dit is deur geloof dat ons oorwinning oor sonde en Satan verkry. Dit is deur geloof dat God gebed antwoord. Inteendeel, niks gebeur in ’n Christen se lewe sonder geloof nie! Die Christelike lewe is ’n geloofslewe!

Dit is egter belangrik dat ons sal verstaan wat geloof werklik is! Want geloof bring jou nie alleen in die regte verhouding met Jesus Christus nie, maar  geloof sluit ook die geesteswêreld vir jou oop!

Geloof is die sleutel wat die mens se innerlike lewe (jou siel en jou gees), oopsluit vir die geesteswêreld!

Met ander woorde, geloof sluit nie alleen die deur oop na God toe nie, maar ook na Satan en sy bose magte! Die Christelike geloof is dus nie slegs ’n kwessie van geloof nie - maar ’n kwessie van WAT jy glo! Dit gaan oor die INHOUD van jou geloof! ’n Christen is dus iemand wat in die Waarheid van die Woord glo!

Die Bybel sê uitdruklik vir ons in Jak 2:19 dat die duiwels glo ook! Soos ons so pas uit die verhaal van die sondeval gesien het, het die mens in die mag van Satan gekom deur sy leuens te GLO! Die hele mag wat die Satan en sy koningkryk oor die mensdom verkry het, is gesetel in sy vermoë om die mens in sy leuens te laat GLO! Geloof is dus ’n wonderlike gawe van God, maar as dit aangewend word om die leuen te glo, is dit ’n baie gevaarlike ding!

Ongeloof aan die anderkant, laat jou in geestelike duisternis sit! Om dieselfde rede is ongeloof baie gevaarlik as dit in die waarheid gesetel is! Jy sien, daar is geen neutrale grond nie! Iemand wat sê hy glo nie in God nie, is net so godsdienstig as die een wat glo - sy godsdiens is net in Satan gesetel, of hy dit nou wil erken of nie! 1 Joh 3:8 sê dat almal wat sonde doen aan die duiwel behoort! As jy nie in die waarheid glo nie, is jy in die mag van die bose!

Kom ek verduidelik dit vir jou. Sê nou maar jy glo nie in Jesus Christus as jou Verlosser nie, maar jy glo ook nie aan die duiwel en die hel nie. Dan is jy deur die Satan verblind en op pad hel toe, ten spyte van die feit dat jy nie aan die Satan en die hel glo nie! Die duiwel het jou geestesoë verblind - jy het ’n demoniese verblinding! Want jy glo nie in die waarheid van die Woord nie! Sê nou maar jy glo in Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser, maar jy glo nie aan die duiwel nie (as so iets moontlik is, want Jesus het juis gekom om die werk van die duiwel te verbreek - 1 Joh 3:8). Jy is dan miskien nie meer op pad hel toe nie, maar jy is nog steeds deur die Satan verblind! Jy het ’n demoniese verblinding en jy sal waarskynlik nie veel geestelik groei nie, want jy sal blind wees vir baie ander Bybelse waarhede wat stremmend op jou geloof inwerk!

Daar is drie geestelike wette in die Bybel met betrekking tot geloof.
  1. Geloof in die waarheid van die Woord, sluit die krag en werking van God die Vader, Jesus Christus, en die Heilige Gees in jou lewe oop! (Mat 9:29; Mat 21:21; Rom 4:5; Gal 2:20.)
  2. Geloof in die leuen van die Satan sluit die krag en werking van Satan in jou lewe oop! (Joh 8:43-45; Han 5:3; Rom 1:24,25; 2 Tes 2:9-12.)
  3. Ongeloof in enige faset van die waarheid van die Woord, insluitende Satan en sy bose magte, laat jou in geestelike duisternis ten opsigte van daardie betrokke faset van die Waarheid, en lei tot demoniese verblindinge in jou lewe. (Mat 13:58; Mat 17:19,20; Han 23:8; Mar 12:18,24; Rom 4:20; Rom 11:20; Heb 3:12,19.)

Kom ons gaan kyk nou na ’n paar voorbeelde ten opsigte van elkeen van hierdie drie wette.

1. Geloof in die Waarheid.

Ons het alreeds ’n paar van hulle opgenoem, maar kom ons gaan kyk weer daarna:

  • Wedergeboorte en redding vind plaas deur ’n stap van geloof in Jesus Christus as my Redder en Verlosser.
  • Die gawe van die doop en vervulling met die Heilige Gees kom deur ’n stap van geloof.
  • Algehele oorgawe vind plaas deur ’n stap van onvoorwaardelike geloof in Jesus Christus.
  • Goddelike genesing van my liggaam vind plaas deur geloof.
  • Oorwinning oor versoeking, sonde, benoudheid en beproewing, vind plaas deur geloof.
  • My gebede word beantwoord deur geloof.
  • Elke geestelike seën wat daar bestaan, word verkry deur geloof in die Waarheid van die Woord en die beloftes van God.
2. Geloof in die leuen.

Kom ons gaan kyk eers na ’n paar “Bybelse” leuens wat die duiwel baie mense laat glo. Ons begin by ’n paar leuens wat baie gewild is by sommige teoloë:

  • ’n Mens kan nie alles in die Bybel letterlik glo nie, soos byvoorbeeld die storie van Jona en die groot vis, ens. Daar is gedeeltes in die Bybel wat nie regtig deur die Heilige Gees geïnspireerd is nie, maar wat slegs ’n uitdrukking van die profeet se menslike verbeelding was.

    (2 Tim 3:16 sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer ...”)
  • Die Bybel is nie die enigste, volledige en volmaakte Woord van God nie. Die Bybel bevat wel die Woord van God, maar God het ook met die mens deur ander geskrifte, soos byvoorbeeld die Koran gepraat. Ons kan dus ook baie leer van ander godsdienste.
  • Jesus was nie regtig God in die vlees nie. Hy was slegs ’n profeet van God, soos byvoorbeeld Mohammed. Jesus is dus slegs een van baie paaie wat na God lei.

    (Jesus sê in Joh 14:6: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”)

Ons kom nou by leuens wat algemeen is onder selfs ware weergebore Christene.

Die gevolg hiervan is ’n demoniese verblinding in die terrein van die Intellek wat verhoed dat hierdie Christen by die dieper waarhede van die Woord uitkom en so groei in sy geestelike lewe.

Hy bly ’n babatjie in die geloof en is geslote vir sekere waarhede van die Woord:

  • God kyk na my deur die bril van Jesus Christus en sien nie meer my daaglikse sonde raak nie. Ek hoef my dus nie te bekommer oor die voortgesette teenwoordigheid van sonde in my lewe nie - dis normaal.

    (Die feit van die saak is dat God elke sonde in my lewe raaksien en dit Hom diep bedroef! Daarom moet ek in opregte gebrokenheid en verootmoediging voor Hom leef!)
  • Omdat wedergeboorte, reverdigmaking, hartreiniging en die doop of vervulling met die Heilige Gees almal dieselfde gawe is, het ek  reeds alles ontvang toe ek my hart vir die Here oopgemaak het. Ek hoef dus nie na enige dieper ondervinding of belewenis van die Heilige Gees in my lewe te soek nie.

    (Die feit van die saak is dat ek my volle hemelse erfenis in besit moet neem soos die Heilige Gees dit aan my openbaar deur Sy Woord, voordat dit sal realiseer in my lewe!)
  • Die duiwel kan my niks doen nie, want ek is ’n Koningskind. Ek hoef dus niks van die duiwel te weet nie - die Here sal my beskerm.

    (Ons het die gevaar van hierdie sienswyse reeds bespreek in Deel 1.)
  • Ek voel baie sterk oor ’n betrokke saak, of ek het ’n sterk en helder impressie in my gedagtes oor een of ander Bybelse “waarheid”, of ek het hierdie bonatuurlike openbaring gekry, wat ek vas glo van die Heilige Gees is, maar nie gewillig is om onvoorwaardelik aan die toets van die Woord te onderwerp nie.

    (Dit is die duiwel se taktiek om sterk impressies in my binneste te plant sodat ek gedryf voel om almal daarvan te oortuig. Dié wat met my verskil, dwaal eenvoudig! Dit is by uitstek die Satan se metode om verdeeldheid en skeuring onder Christene en in die Kerk van Jesus Christus te veroorsaak!)

Daar is nog talle meer sulke leuens van die Satan. Soos ons reeds gesê het, is die gevolg van die glo van so ’n leuen, ’n demoniese binding of verblinding wat daartoe lei dat ek geslote is vir alle waarheid wat bots met my persoonlike sienswyse, ek nie oortuigbaar is nie, en ek gladnie die waarheid van die Woord in hierdie betrokke saak kan raaksien nie.

Ek was persoonlik betrokke by ’n geval waar ’n Christen dame haar geloofsekerheid verloor het, en oortuig was dat sy God se genade verbeur het. Sy was dood ernstig om gehelp te word en het vrywillig vir berading gekom. Ek het ure met haar in die  Woord  spandeer en haar probeer oortuig van die genade en liefde van God, maar sy kon net nie die Bybel glo nie. Sy het voortdurend bevestiging gesoek deur ’n sogenaamde “profetiese woord” van iemand wat “direk” van God af hoor! Nadat ek haar goed ondervra het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat haar geestelike probleem begin het by ’n “profesié” wat iemand oor haar uitgespreek het! Sy het die leuen van die Satan geglo wat ’n ernstige demoniese binding tot gevolg gehad het!

Maar daar is ook talle ander leuens van die Satan waarmee hy Christene daagliks vang en in sy web van misleiding vasdraai. Baie Christene raak onskuldig by hierdie dinge betrokke.

Hierdie dinge lei tot demoniese bindinge wat verskillende vorme van geestelike blindheid en doofheid tot gevolg het.

Kom ons gaan kyk na enkeles daarvan:

  • “The power of positive thinking.” Dink en glo jou pad oop na voorspoed, sukses en gesondheid! “Think and grow rich!” “It’s all in the mind!”

    (Dit is ’n feit dat positiewe denke werk! Dit werk ewe goed vir Christene en ateïste! Daar is natuurlik ’n  groot verskil  tussen bloot ’n positiewe gesindheid [wat alle Christene behoort te hê,] en positiewe denke as ’n tegniek vir selfontwikkeling  en bonatuurlike  prestasie. Op een of ander stadium word ’n toegangspoort oopgemaak vir demoniese aktiwiteit en kry die persoon  bonatuurlike “hulp.” Hierdie “helpers” is demone wat die “It’s all in the mind” leuen verkondig! Uri Geller kon selfs lepels buig deur eenvoudig daarop te konsentreer!)
  • Omdat die Heilige Gees binne-in my woon, beteken dit dat ek eintlik ’n klein godjie is. Ek bid tot, en ontwikkel die “goddelikheid” binne-in my. My woorde het dus skeppingskrag.

    (Die inwaartse rig van  my gebed  veroorsaak  dat  dieselfde  beginsel  as  by die  vorige punt in werking kom. Kort  voor lank het  ek ’n demoniese “helper.” Die Bybel leer dat die Heilige Gees vir Jesus Christus verheerlik. Alhoewel die Heilige Gees in my woon, moet ek bid tot Jesus Christus wat in die hemel aan die regterhand van die Vader sit, en in totale afhanklikheid van Hom lewe!)
  • Visualisering. Visualiseer iets in jou verbeelding wat jy baie graag wil hê, en glo vas dat jy dit sal kry! “Name it - Frame it - and Claim it!”

    (Dieselfde beginsel kom hier in werking as by positiewe denke.)

Daar is nog vele ander, maar ons kan nie nou daarby stilstaan nie. Laat ons net kortliks verwys na die derde wet met betrekking tot geloof.

3. Ongeloof.

Ons het reeds gesê dat ongeloof in enige faset van die waarheid van die Woord, laat jou in geestelike duisternis ten opsigte van daardie betrokke faset van die Waarheid, en lei tot demoniese verblindinge in jou lewe. Laat ons slegs een voorbeeld noem:

  • ’n Mens kan nie verlos word van sonde in hierdie wêreld nie. Ons sal eers in die hemel heilig wees.

    (Vir solank as wat jy dít glo sal jy nooit die oorwinningslewe en die volheid van die Heilige Gees in jou lewe beleef nie! Jy sal vir die res van jou lewe in geestelike armoede voortploeter terwyl jy almal sal teenstaan wat getuig van ’n lewe van oorwinning oor sonde!)

Ken Jou Vyand word vervolg in Deel 3.

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
Leef In Oorwinning