Die Christen se Oorlog in die Geesteswêreld
Ken Jou Vyand

| Deel 1 | Deel 2 |

Deel 3

deur
Elmer Grobler

(Hierdie artikel het ek reeds in 1998 vir die eerste keer gepubliseer. Ek publiseer dit nou (Des 2019) weer op die internet met enkele aanpassings.)

Die Voorwaardes of Grond vir Demoniese Werking - Vervolg

In Deel 2 het ons begin om die voorwaardes of grond vir demoniese werking te behandel. Ons het gesê dat daar drie hoofvoorwaardes of -gronde vir demoniese werking bestaan. Hierdie voorwaardes of gronde is: Sonde, Misleiding en Passiwiteit van die Verstand. In Deel 2 het ons die eerste twee voorwaardes behandel. Ons kom dan nou by die derde voorwaarde, naamlik:

3. Passiwiteit van die Verstand

"Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.” (Jak 4:7 en ook 1 Pet 5:9.) My verstand moet dus altyd in ’n aktiewe toestand wees sodat ek die duiwel kan weerstaan wanneer dit nodig is.

Die derde voorwaarde en grond vir demoniese werking is Passiwiteit van die Verstand. Soos ons al by herhaling verduidelik het, het God die mens met ’n WIL van sy eie geskape. Dit is hierdie eienskap wat die mens ’n entiteit in eie reg maak - ’n soewereine wese. Dit is die WIL wat verhoed dat enige ander mag, of dit nou God is, en of dit nou die Satan is, en of dit nou ’n ander mens is, hom wederregtelik en teen sy eie WIL kan manipuleer of gebruik.

Intellektuele passiwiteit het tot gevolg die vrywillige of geforseerde oopmaking en beskikbaarstelling van die fakulteite van die mens vir bonatuurlike magte, deur passiefmaking van die verstand en gevolglik die WIL.

Passiwiteit van die verstand is om in ’n staat van verlaagde bewustheid in te gaan in een of ander vorm, en op een of ander manier. Hipnose is die uiterste graad hiervan. Daar is egter verskillende maniere en vlakke van verstandelike passiwiteit. Voorbeelde hiervan is om aan niks te dink nie, om te probeer om jou verstand op een of ander wyse tot stilstand te bring, deur konsentrasieverlies, meditasie, sekere ontspanningsoefeninge, self-hipnose, ensovoorts.

Die mens se WIL is die sleutel van sy innerlike lewe. Deur die gebruik van jou WIL kan jy enige terrein van jou innerlike lewe oop- of toesluit, of vir God, of vir Satan en sy demone. Daarom lê ons groot klem in ons artikels op ’n algehele WILSOORGAWE aan God! Jy moet ’n aktiewe oorgawe van jou WIL aan God maak. En dit impliseer, benewens die eerste stap van oorgawe wat jy geneem het, om jou WIL op ’n voortdurende wyse aktief aan te wend om op elke moontlike terrein aan God en Sy WIL vir jou lewe gehoorsaam te wees! PASSIWITEIT van jou Wil beteken om nie jou WIL uit te oefen nie. Laat ek dit met ’n voorbeeld verduidelik.

Toe my dogtertjie Nalani, klein was, het sy niks van soen gehou nie. Dit was ’n groot stryd om haar so ver te kry om my te soen. Baie keer as ek ’n soentjie gevra het, het sy vir my gesê: “Nee, ek WIL nie.” Sy het haar WIL uitgeoefen en daar was niks wat ek daaraan kon doen nie. As ek haar dan sou soen, sou ek dit wederregtelik en teen haar WIL doen - dan het ek myself op haar af geforseer.

God forseer Homself nooit op ons af nie - Hy vra altyd ’n vrywillige WILSOORGAWE! Die Satan daarteenoor se taktiek is om homself op ons af te forseer. Hy doen dit egter dikwels op ’n baie subtiele manier.

Daar was nou twee maniere waarop ek wel ’n soentjie uit my dogtertjie kon kry. Die een was om haar te mislei of óm te koop. Ek kon vir haar sê, “as jy vir my ’n soentjie gee sal ek vir jou ’n “sweetie” gee!” En dit het elke keer gewerk soos ’n bom! Sy het besluit om nie haar WIL uit te oefen nie in ruil vir ’n “sweetie”. So vang die Satan vandag nog baie kinders van die Here! Hulle ontvang met graagte die Satan se “sweeties”.

Daar was egter ook ’n ander manier waarop ek ’n soentjie kon kry - naamlik om haar WIL passief te maak. Dit was deur ’n soentjie te steel wanneer sy nie in ’n posisie was om haar WIL uit te oefen nie. Ek kon byvoorbeeld vir haar mooi musiek speel of ’n storie vertel wat haar so betower dat sy nie bewus is van wat ek beplan nie, en wanneer sy heeltemal in vervoering is - woeps, dan steel ek ’n soentjie. Teen die tyd dat sy agterkom wat ek doen is dit te laat om haar Wil uit oefen en weerstand te bied. Dit is presies die Satan se doelwit met passiwiteit.

Dit is by uitstek Satan se taktiek om die mens se WIL passief te maak of te verlam, sodat hy sy fakulteite vir sy eie doeleindes kan gebruik!

Satan se doelwit is om die mens te beheer soos ’n mens ’n marionet of poppespel beheer. Die taktiek wat die Satan gebruik is om die WIL van die mens te neutraliseer deur dit passief te maak sodat hy die fakulteite van die mens se brein, sy Intellek en sy Emosie kan gebruik en beset. Okkultiese en New Age praktyke het by uitstek Passiwiteit van die Verstand tot gevolg. Meditasie, joga, hipnose, popmusiek, en  bewustheidsvernouingstegnieke, het almal dieselfde uitwerking - naamlik die passiefmaking van die WIL. Sodoende word die weg gebaan vir demoniese infiltrasie van die fakulteite van die innerlike mens.

Baie kinders van die Here raak sonder dat hulle dit besef, betrokke in demoniese passiwiteitstaktieke. Die Satan gebruik ’n magdom van taktieke om passiwiteit van die Wil te bevorder. Een van sy geliefkoosde taktieke is konsentrasieverlies in gebed en Bybelstudie. Dit is my oortuiging dat daar demone bestaan wie se hooffunksie dit is om gedurende Godsdiens beoefening die Christen se konsentrasie te breek wanneer hy in gebed, Bybelstudie of lofprysing verkeer. Ek ervaar dit persoonlik in my eie lewe.

Die oomblik dat jy jou dwalende gedagtes, of gebrek aan konsentrasie aanvaar as ’n normale resultaat van jou moeë liggaam of dit aan ander faktore toeskryf, het jy voorwaarde nommer twee vir die werking van demone vervul - jy het die Satan se leuen geglo. Dit gee aan hom die reg om voort te gaan met sy administrasie van konsentrasieverlies. Hierdie konsentrasieverlies word al erger en erger totdat jy later nie meer krag het om jou WIL uit te oefen om te konsentreer nie. Die gevolg is dat jy mettertyd nie langer as slegs ’n paar minute, of selfs gladnie meer kan konsentreer wanneer jy stiltetyd hou, bid, of Bybellees nie. So probeer die Satan om die terreine van jou Intellek en Emosie verder te verslaaf! Is hierdie dalk een van die redes waarom Christene so min tyd in gebed en die Woord spandeer?

Buitengewone konsentrasieverlies wanneer jy besig is met die Bybel, of gedurende gebed en lofprysing, is ’n aktiwiteit van die Satan!

Dit is met groot huiwering dat ek die volgende feite aan u deurgee omdat ek besef dat ek aan sommige aanstoot mag gee. Maar ek wil u verseker dat ek u een en almal baie lief het, en dat dit gladnie my doel is om te kritiseer nie. Ek het egter ’n verantwoordelikheid teenoor God en Sy Kerk om die misleiding van die Satan aan u uit te wys! Ek praat nie met u vanaf ’n troontjie nie, maar in alle nederigheid as een wat self in hierdie skool van die Here was en steeds is! Hoe moes die Here my nie ook af grond toe bring van my geestelike “derde hemel” nie! Ek het ’n duur prys betaal vir my eie foute en ek kom nie na u toe met ’n dogmatiese behandeling van teorieë wat ek hoofsaaklik uit boeke geleer het nie, maar ’n pad wat die Here met my gestap het deur harde ondervinding en die openbaring van die Heilige Gees in my binnekamer deur die Woord!

Ek het lank terug ’n artikel geskryf oor die verskynsel van verskillende dominansies onder kinders van die Here, naamlik die Intellek-dominante Christen en die Emosie-dominante Christen. By die Intellek-dominante Christen kry ons veral die probleem dat sy geloof, en daarom ook sy geestelike belewenis, dikwels beperk word tot dit wat hy intellektueel kan verstaan en verwerk. Wanneer my Intellek in ’n dominante posisie verkeer bo my Emosie, werk dit ongeloof in die hand, omdat ek geneig sal wees om net te glo wat ek sien of verstaan.

Alhoewel hierdie Christen net so onderworpe is aan misleiding as sy Emosie-dominante broeder, is die laasgenoemde egter meer vatbaar vir Intellektuele Passiwiteit as die eersgenoemde weens die dominante posisie van sy Emosie.

Intellektuele passiwiteit word bevorder deur ’n opwekking van die Emosie tot ’n dominante posisie!

Indien die Satan nie ’n persoon in ongeloof en vormgodsdiens vasgeketting kan hou nie, probeer hy om sy Emosie in ’n dominante posisie te kry. Die Wil is geneig om in simpatie te wees met die dominante fakulteit. Daarom bevorder die Satan ’n emosionele godsdiens onder weergebore Christene! Dit maak sy taak om sy prooi te lei na intellektuele passiwiteit oneindig makliker!

Die Emosie-dominante Christen moet dus veral op sy hoede wees vir misleiding in ’n emosie-belaaide atmosfeer in die erediens. Baie kinders van die Here kan nie onderskei tussen ’n natuurlik-emosionele atmosfeer in die kerk en ’n atmosfeer waarin die teenwoordigheid van die Heilige Gees ervaar word nie! Dit is egter ’n feit dat baie van die musiek en lofprysing in verskeie kerke op die opwekking van die natuurlike Emosie ingestel is. Ek wil dit graag uit die staanspoor duidelik stel dat ek nie hiermee wil insinueer dat lofprysing emosieloos moet wees nie. Al wat ek sê is dat daar ’n wesenlike verskil is tussen natuurlike- en geestelike emosie, en omdat die musiek en sang Christelik is, maak dit nie noodwendig die emosie wat dit opwek geestelik nie!

Lofprysing, aanbidding en prediking wat op die menslike Emosie gerig is, wek natuurlike emosie op - of die bron van die emosie nou Christelik van aard is of nie, maak geen verskil nie! Die oorsprong van natuurlike emosie is die Emosie - ’n fakulteit van die siel. Geestelike emosie daarenteen word verkry deur lofprysing, aanbidding en prediking in gees en in waarheid volgens Joh 4:23. Met ander woorde, die aanbidding moet eerstens deur die fakulteit van die gees van die mens, en tweedens in die waarheid van die Woord geskied. Die gevolg van sulke aanbidding is ’n manifestering van die vrug van die Heilige Gees, naamlik, Goddelike liefde, vrede, blydskap, ensovoorts - deur die menslike gees, wat die woning van die Heilige Gees is!

’n Mens kan nie die teenwoordigheid van die Heilige Gees opwek deur natuurlike emosie nie! Enige emosionele stemming wat as gevolg van sodanige opwekking ontstaan, is nie die teenwoordigheid van die Heilige Gees nie! Die tasbare teenwoordigheid van die Heilige Gees word ervaar as gevolg van ware aanbidding in gees en in waarheid! Die oorsprong van geestelike emosie is dus die menslike gees, deur die werking van die Heilige Gees, en nie die Emosie nie!

’n Absolute voorwaarde vir geestelike emosie is waarheid! (Lees gerus weer die gedeelte oor die drie geestelike wette in die Bybel met betrekking tot geloof wat ons in Deel 2 behandel het.) Waar daar waarheid is, sal daar geestelike emosie wees! Waar daar dwaling is, sal daar of ’n totale gebrek aan emosie wees, of daar sal ’n oorvloed natuurlike emosie wees! Die omgekeerde is ook waar. Waar daar geen emosie teenwoordig is nie, sal daar dwaling wees! En waar daar oorvloedige natuurlike emosie teenwoordig is sal daar ook dwaling wees! Die Geesbeheerde Christen kan duidelik onderskei tussen geestelike en natuurlike emosie. Die Christen wie se Emosie egter nie gekruisig is nie, sal nie die verskil kan onderskei nie, aangesien sy Emosie onder beheer van die natuurlike mens of die vlees is!

Christelike musiek en lofprysing wat op die opwekking van die natuurlike Emosie ingestel is, lei tot verstandelike passiwiteit, aangesien die Emosie tot ’n dominante posisie bokant die Wil en Intellek opgewek word. ’n Christen wat boonop nog Emosie-dominant is, sal baie maklik onder hierdie omstandighede intellektueel passief word. Daarom is daar geen verskil tussen Christelike popmusiek en sekulêre popmusiek nie. Albei is op die opwekking van die natuurlike emosie ingestel en die Christelike woorde van die een verander niks aan die inherente karakter daarvan nie! Die fokus van die hoorder verskuif vanaf die woorde van die lied na die gevoel wat deur die sang en musiek opgewek word. Die Satan vuur nou hierdie emosie aan omdat sy doelwit is om die Christen te beweeg om hierdie natuurlik-emosie-belaaide atmosfeer te aanvaar as die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Die oomblik dat dit gebeur, het hy ’n reg of grond verkry vir verdere misleidende optrede.

Om hierdie rede is dit uiters belangrik dat lofprysing en aanbidding nie op die opwekking van die natuurlike Emosie ingestel sal wees nie, maar wel op die verheerliking van Jesus Christus! Met ander woorde, die fokus moet wees op die waarheid en krag van die woorde en inhoud van die lied as ’n uitdrukking van my hartsgebed. Wanneer die musiek en die wysie van die lied my fokus verskuif vanaf Jesus Christus en Sy verlossingswerk na my eie Emosie, is intellektuele passiwiteit besig om plaas te vind! Jesus Christus word nie verheerlik deur ’n lekker gevoel in my binneste en die uitdrukking van daardie gevoel deur my liggaam nie, maar wel deur die WOORDE wat die belydenis van my hart en lewenswandel vertolk!

Verstandelike passiwiteit word verder bevorder deur die herhaalde sing van sekere woorde of ’n koortjie, om in die “stemming van die Heilige Gees” te kom.

Die herhaalde sing van die woord, “Halleluja”, is ’n voorbeeld hiervan. Nadat die woorde ’n paar keer oor en oor gesing is, verloor baie mense konsentrasie en ’n ontspanne atmosfeer en geestelike bewustheid kom oor die gehoor wat vertolk word as ’n teenwoordigheid van die Heilige Gees. Verskillende bonatuurlike manifestasies begin dan dikwels plaas te vind terwyl almal dink dat daar ’n wonderlike werking van die Heilige Gees is!

Wat in werklikheid gebeur is dat die Wil in ’n toestand van passiwiteit inbeweeg en die voorwaarde vervul is vir demoniese werking in die fakulteite van die Intellek of Emosie, wat lei tot nagebootste 'geestelike' manifestasies.

Die langtermyn gevolg hiervan is ’n gees van dwaling wat oor die gemeente kom. Omdat ons die leuen van die Satan glo, veroorsaak dit verdere demoniese bindinge en verblindinge wat lei tot verdere misleiding, terwyl ons eerlik onder die indruk verkeer dat dit alles ’n wonderlike werking van die Heilige Gees is! Die een buitengewone manifestasie lei na die ander, en die gemeente begin homself meer geestelik as andere beskou.

Dít wat ek hierbo vir u geskets het, is nie die produk van ’n ooraktiewe verbeelding nie!  Dit is gebaseer op werklikhede.

Dit is presies dieselfde beginsels waarop die meeste oosterse godsdienste funksioneer!

Transidentale Meditasie en Joga is uitstekende voorbeelde hiervan. TM en Joga vind groot aftrek in die weste en ook in ons eie land, en word op groot skaal deur die New Age beweging bevorder! In Amerika word hierdie tegnieke selfs in staatskole aan kinders geleer. Meeste westerlinge wat dit beoefen ontken dat hulle betrokke is by ’n godsdiens, hulle doen dit slegs as ’n sport of ontspannning. Maar wat hulle nie verstaan nie, is dat hulle in die proses die ‘wette’ of voorwaardes vervul vir demoniese werking!

TM en Joga is direk afkomstig uit die heidense godsdienste en van Hindoe Ghoeroes. Hierdie Ghoeroes beskou hulleself as “God” en beskik oor bonatuurlike magte. Hulle kan allerhande wonderwerke doen en die spreek in tale is ’n algemene verskynsel onder hulle. (Hiemee wil  ek nie die Bybelse gawe van tale ontken nie!)

Hulle bonatuurlike mag is gekoppel aan die feit dat bose magte deur hulle manifesteer, en die manier waarop dit plaasvind is deur verstandelike passiwiteit. Daar word onder andere gebruik gemaak van ’n “mantra” om die staat van bewustheid (“state of consciousness”) te verlaag - of soos ons reeds verduidelik het, die verstand passief te maak.

Wat is ’n “mantra”? ’n “Mantra” word beskryf as ’n “repetitious chanting.” ’n “Mantra” is  eenvoudig ’n woord (dit was oorspronklik die naam van ’n Hindoe-god, maar dit kan enige woord of kombinasie van woorde wees) wat herhaaldelik, oor en oor gebruik word met die regte geestesingesteldheid, wat die persoon dan in ’n verlaagde staat van bewustheid inlei. Die “mantra” word beskryf as ’n betowering (’n “charm” of “casting a spell”). Dit word ook beskryf as ’n hipnotiserings- of breinspoelingstegniek. Wanneer hierdie woord of woorde in die regte stemming, en byvoorbeeld met toe oë, oor en oor gesê word, word konsentrasie op die fisiese wêreld verbreek, en is die gevolg daarvan verstandelike passiwiteit. Dit is ’n vorm van self-hipnose.

Ons het vroeër verduidelik dat die herhaalde sing van sekere woorde of ’n koortjie, om in die “stemming van die Heilige Gees” te kom, dieselfde effek as ’n “mantra” kan hê. Die herhaalde sing van die woord, “Halleluja”, is ’n voorbeeld hiervan. Die Beetle popsanger George Harrison, wat diep in Hindoeïsme betrokke was, het ’n liedjie gesing met die titel, “My Sweet Lord.” Hierdie “Lord” waarvan hy gesing het, het niks met die Here Jesus te doen nie - hy het gesing van ’n Ghoeroe wat hy aanbid het as God! In die liedjie sing hy by herhaling die woord, “Halleluja!” George Harrison het persoonlik erken dat hy doelbewus in die liedjie die “chant” van ’n Hindoe-god deur die gebruik van die woord “Halleluja” as ’n “mantra” geïnkorporeer het, om te bewys dat die Christelike geloof en Hindoeïsme dieselfde is. Selfs die Naam Jesus, kan as ’n “mantra” gebruik word! (Hierdie is een van die redes waarom die derde gebod die ydelike gebruik van die Naam van God verbied!)

Die volgende paragrafie kom uit ‘CFT’s bi-weekly CHRISTIAN NEWS’ - Nr 14:

“SA PRIEST PROMOTES HINDU MEDITATION TECHNIQUE - Among the tried and tested ways of dealing with the problem of calming and controlling the mind is “the simple repetition of a sound or a word”, according to Albert Nolan, contributor and ex-editor of ‘Challenge’ magazine. Well known for his liberation theology views Fr. Nolan writes in his article ‘How to be still’, “In the East they call it a mantra. Some Christians call it a sacred word. What matters is that it works.” Nolan, a South African Catholic Priest, claims that early Christians used to repeat the name of Jesus, which became known in Christian writings as the Jesus prayer. He recommends sitting in an upright position with “your eyes closed for about 20 minutes just repeating your word or set of words.”

Wanneer die Satan dit eers reggekry het om ’n kind van God se WIL passief te maak, gaan hy voort om sy Intellek en Emosie geleidelik te verblind vir die waarheid en te verslaaf deur die leuen.

Bonatuurlike manifestasies is ’n algemene verskynsel in gemeentes waar verstandelike passiwiteit plaasvind.

Bonatuurlike manifestasies is egter geen waarborg dat God aan die werk is nie! Wees neutraal teenoor alle bonatuurlike manifestasies totdat jy seker weet van waar dit kom!

’n Mens kan nie die Heilige Gees blus deur nie oombliklik te reageer op elke ingewing van die oomblik en elke impulsiewe gevoel of gedagte wat by jou opkom nie! As jy nie seker is oor die oorsprong van iets nie, maak dit ‘n saak van gebed vir ‘n week of twee! Die Heilige Gees word eers geblus as jy Hom doelbewus onderdruk, of ongehoorsaam nadat Hy Homself duidelik aan jou openbaar het deur die Woord in sy korrekte konteks! Daarteenoor wil die Satan dat jy elke impulsiewe ingewing in jou binneste oombliklik moet aanvaar as van die Heilige Gees sonder om dit te toets!

Ons lees dwarsdeur die Bybel dat die Satan indrukwekkende wonderwerke kan doen! In Op 13:13,14 lees ons: “Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemel af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei.”

’n Sekere Ghoeroe, Sai Baba, het benewens wondergenesings van selfs terminale kankerpasiënte, alreeds ’n reënboog in die lug laat verskyn, water in petrol laat verander, verskillende soorte vrugte van dieselfde boom afgepluk, en beskik oor ’n “alwetende indruk” van mense se gedagtes. Die Satan is alreeds vir eeue in die tekens en wonders spel! - het iemand tereg opgemerk.

’n Boekie wat ek baie sterk wil aanbeveel by elke gemeente wat manifestasies van tekens en wonders beleef, is ’n boekie van Derek Prince: “Protection from Deception.” (Navigating through the minefield of signs and wonders.) Derek Prince sê: “I want to say something important  about  signs and wonders. They do not determine truth. It is very essential to understand that. Signs and wonders do not determine truth!”

Wat is die Simptome van ’n Demoniese Binding of Verblinding in ’n Christen?
  • Weerstand teen die waarheid. Die persoon maak toe, en sluit homself af vir alle kennis wat in konflik is met dit waarvan hy oortuig is, terwyl hy onwrikbaar glo dat hy deur die Heilige Gees gelei word en oor meer kennis en waarheid beskik.
  • Blindekolle. Daar bestaan terreine in ’n Christen se lewe wat nie onder die beheer van die Heilige Gees is nie. Andere sien dit raak maar die persoon self sien dit nie raak nie.
  • Geestelike blindheid en doofheid. ’n Persoon lees en hoor die Woord jaar in en jaar uit, maar die dieptes daarvan bly vir hom verborge. Daar is ’n sluier oor sy innerlike mens getrek. Hy groei nie in heiligmaking nie en die Woord werk geen verandering in sy lewe nie.
  • Vormgodsdiens. Iemand wat ’n vroom front voorhou en selftevrede Sondag na Sondag in die kerk sit terwyl sy hart vol doodsbeendere is.
  • ’n Halstarrige gees van vooroordeel teenoor Christene van wie hy verskil.
  • ’n Gesindheid van onversoenbaarheid, eiegeregtigheid, verdeeldheid, en skeuring teenoor ander Christene.
  • Verbrokkeling en onversoenbaarheid in die Christenhuwelik.
  • Kan nie konsentreer gedurende gebed en Bybelstudie nie.
  • Die vasklem aan ’n “openbaring” of ’n “manifestasie” van wat iemand glo van die Heilige Gees is, terwyl hy of sy onwillig is om dit onvoorwaardelik aan die Woord te toets en te onderwerp.
  • Geestelike “salwings”, “profesieë”, “gawes” en ander manifestasies wat manifesteer wanneer iemand passief is in sy gedagtewêreld, en waaroor die persoon geen beheer het nie. Gal 5:23 sê dat die vrug van die Heilige Gees is selfbeheersing. Enige sporadiese en onbeheersde manifestasie is dus duidelik nie ’n manifestasie van die Heilige Gees nie. 1 Kor 14:32 sê: “’n Profeet het immers beheer oor sy gees.”
Hoe kan ek Verhoed dat ek deur die Satan Mislei en Gebind word?
  1. Maak seker dat elke terrein van jou innerlike lewe, insluitend jou dominante terrein, gekruisig en onder die onvoorwaardelike heerskappy van God die Heilige Gees geplaas is. Die gebed op die Aksieblad sal jou help om dit te doen.
  2. Trek elke dag die gordel van die Waarheid aan. (Ef 6:14.) Moenie op jou eie insig en gevoel staatmaak nie, maar vertrou die Heilige Gees om jou deur die Woord in al die Waarheid te lei! (Joh 16:13.) Wees oop vir alle kennis oor die Waarheid. As jy nie seker is oor die ‘waarheid’ nie, onderwerp dit aan die toets van die Woord oor tyd in gebed.
  3. Staan neutraal teenoor alle bonatuurlike manifestasies totdat jy seker is van die oorsprong daarvan.
  4. Moenie enige impulsiewe ingewing, gedagte, of gevoel as van die Heilige Gees beskou sonder om dit eers aan die toets van die Woord en tyd in gebed te onderwerp nie!
Hoe word ek van ’n Demoniese Binding of Verblinding Verlos?

Moet iemand anders vir my bid en die duiwel in my lewe bind? Jy moet dit verkieslik self doen! Die Satan kan slegs uitgedryf, bestraf of gebind word waar hy wederregtelik optree! As hy grond het vir optrede sal dit niks help om hom te bestraf of te bind nie! Daarom moet jy met die bron van die probleem handel en nie met die simptoom nie! Demoniese oppressie is die gevolg van ’n reg of grond wat die Satan verkry het - en daardie grond moet teruggeneem word! Jy sal nooit waarlik vry kom tensy jy leer om jou eie Wil uit te oefen nie! Hoe? Deur die grond weg te neem vanwaar Satan en sy demone in jou lewe opereer, naamlik sonde, misleiding, en passiwiteit van die verstand.

  1. Elke terrein van jou lewe, insluitende jou dominante terrein, moet gekruisig en algeheel en onvoorwaardelik aan die heerskappy van die Heilige Gees oorgegee word, soos in die gebed op die Aksieblad.
  2. Elke sonde moet individueel by die naam bely en afgesweer word.
  3. Jy moet elke leuen van die Satan wat jy geglo het afsweer, en jy moet die waarheid bely! Trek die gordel van die waarheid aan!
  4. Jy moet alle passiwiteit van jou verstand afsweer en vermy, en daarop aandring om ten alle tye jou Wil uit te oefen in ’n toestand van verstandelike wakkerheid en helderheid.
  5. Jy moet elke toegangspoort permanent sluit in geloof, en enige verdere demoniese aktiwiteit daardeur hardop verbied in die Naam van Jesus Christus, en Hom vertrou om die toegangspoort te verseël deur die Bloed van die Lam.

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
Leef In Oorwinning