Die Christen se Oorlog in die Geesteswêreld
My Persoonlike Ontdekkingsreis

deur
Elmer Grobler

Psa 42:5: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof — die verlossing van sy aangesig!”
Die Here het my hierdie afgelope paar jaar deur ‘n skool begelei wat ek glo Hy wil dat ek met Sy kinders moet deel. Om dit wat die Here my geleer het met andere te deel is nie maklik nie, veral omdat dit nodig is dat ek myself en my gesin sal blootstel. Dit was ‘n moeilike besluit, maar ek glo dit is wat die Here wil hê dat ek moet doen. Ek glo die Here het ‘n hoër doel met hierdie verhaal en daar is andere wat hierdie getuienis moet hoor! Hier is my verhaal.
In die skool van ‘Hard Knocks’
Na my bekering en na die Here my ingelei het in die oorwinningslewe in Jesus Christus meer as dertig jaar gelede, het ek die oortuiging gehuldig, en was dit my persoonlike ervaring dat, behalwe vir oorwinning oor die mag van sonde, die wêreld en omstandighede, daar vir die Christen ook oorwinning is oor depressie, vrees, bekommernis en angstigheid in Jesus Christus. Gedurende hierdie fase van my bediening het ek Die Dissipelmaker tydskrif uitgegee, waarvan sommige artikels op hierdie webblad gepubliseer is. Ek dank die Here vir hierdie fase van my lewe waartydens die Here my gegrondves het in die fundamentele waarhede van die Woord.

Ongeveer twintig jaar na my bekering het ons as gesin deur ‘n fase van beproewing gegaan waartydens ek vir die eerste keer moes erken dat ek nie oorwinning oor depressie kon verkry nie. Ons het die een terugslag en mislukking na die ander beleef, tot op ‘n punt waar ek selfs begin twyfel het aan my geloof. Gedurende hierdie tyd het ek intense depressie begin beleef waartydens ek uitgeroep het tot God vir ‘n deurbraak. In die proses moes ons ook ons plasie verkoop — wat toe uiteindelik die deur na ‘n deurbraak sou oopmaak. Hierdie was ‘n spesiale fase in ons geestelike opleiding waardeur die Here vir ons gestuur het en die gevolg hiervan was ‘n leerskool in gebedsoorlogvoering. Die Here het kosbare waarhede met betrekking tot geestelike oorlogvoering en gebed gedurende hierdie tyd aan my geopenbaar, waarna Hy weereens aan my oorwinning oor depressie gegee het. Die Here het ons voorberei vir ‘n spesiale bediening waartydens ons hierdie opleiding sou nodig hê — selfs veel meer as wat ek toe verstaan het.

Kort daarna het die deurbraak gekom! Hierdie ondervinding het uitgeloop op ons internet bediening aan die onbereikte wêreld, Projek KuberWêreld, waardeur ons miljoene mense met die Evangelie van Jesus Christus bereik het, en steeds bereik. Min het ek egter besef dat die skool waardeur die Here ons gestuur het, bedoel was om ons voor te berei vir ‘n groter oorlog wat nog sou kom!

‘n Aantal jare later het ‘n baie groter oorlog sy tol geëis! Ons was bestem om as oorwinnaars uit hierdie oorlog te tree, maar helaas, die Satan het dit uiteindelik reggekry om ons huwelik van bykans dertig jaar te verwoes, ons gesin uitmekaar te skeur, ons finansieel te vernietig, en probeer steeds met alle mag ons bediening ook verwoes. Die een deur na die ander het vir my toegegaan, die een projek na die ander het skipbreuk gelei. Facebook het ons evangeliese webblaaie geblokkeer en dit is duidelik dat hierdie hele aanslag van die vyand ten doel het om hierdie bediening aan die onbereikte wêreld te vernietig. Op 70-jarige ouderdom het ek my soos Job op ’n emosionele ‘ashoop’ bevind.
Onkant betrap!

Ek moet erken dat hierdie aanslag my totaal onkant betrap het. Ek was veronderstel om dit wat die Here my geleer het met betrekking tot gebeds– en geestelike oorlogvoering te gebruik om die oorwinning oor die vyand se aanslag te behaal, maar ek het misluk! Ek het op die deurbraak wat die Here vir ons gegee het by die voordeur gefokus, sonder om waaksaam te wees teen die aanslag van die vyand by die agterdeur. Alhoewel ek geestelik staande gebly het in die stryd, het die vyand alles rondom my verwoes. Weereens moes die Here my in die waarhede van gebeds– en geestelike oorlogvoering skool.

Terwyl ek met die verbrokkeling van my huwelik en gesin geworstel het, was ek oneffektief in die oorlog wat in die geesteswêreld aan die gang was — ten spyte daarvan dat ek Ef 6:12, “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug”, uit my kop geken het!

Ek het die ergste vorm van depressie in my hele lewe begin beleef. Ek het die donkerste tye van my lewe wat ‘n mens jou kan voorstel hierdie afgelope tyd beleef. Gedagtes van selfmoord het in my kop rondgemaal en op ‘n keer het ek dit doelgerig beplan. Dit is slegs die genade van God, en die gebedsondersteuning van my gebedsvriende wat my deurgedra het!

Ek het nooit geweet dat ‘n toegewyde kind van God deur sulke donker dieptes en uiterste depressie kan gaan nie. Waar was die beloftes van God waaraan ek nog altyd vasgehou het? Gedurende hierdie tyd het ek angstigheid, vrees, bekommernis en depressie beleef soos iemand wat nog nooit tot verlossing gekom het nie! Alhoewel ek aan die beloftes van die Woord van God bly vashou het, het dit vir my in die hitte van depressie niks beteken nie! Dikwels het dit vir my gevoel of God my verlaat het! Dikwels het dit vir my gevoel asof my geloof op sand gebou was! Die worsteling in my siel was intens. Hoe is dit moontlik? Hoe is dit moontlik dat so iets met ‘n toegewyde kind van God kan gebeur? Waar het ek die spoor byster geraak? Hoe het ek by hierdie punt uitgekom?

Miskien is daar iemand wat hier lees, wat met my stryd kan identifiseer. Jou stryd is waarskynlik anders, maar die gevolge daarvan is dieselfde — vertwyfeling, wanhoop, angstigheid, vrees, depressie. Iemand moet tog net nie vir jou ‘n Bybelversie gee en maak asof die oplossing in ‘n boksie is wat jy net moet oopmaak nie — want dit is nie!

Vir die eerste keer het ek begin wonder, het my vrou dalk ‘n soortgelyke stryd gestry wat daartoe gelei het dat sy by die punt gekom het waar sy verklaar het: “Ek kan nie meer nie!” Ek kon nooit verstaan wat sy met hierdie verklaring bedoel het nie. Wat kon sy nie meer nie? Waarom kon sy nie meer nie? Ek het ook nooit die antwoord op hierdie vrae gekry nie. Het sy dalk ’n eensame emosionele stryd gestry wat ek nie verstaan het nie? Het ek haar dalk gefaal in haar stryd? Na twee jaar van ‘n gebroke huwelik en my eie stryd, begin die prentjie vir my al duideliker word.

Op soek na antwoorde

Ek het met erns gesoek na antwoorde vir my stryd teen depressie. Meer as een toegewyde kind van die Here het my aanbeveel om mediese hulp te kry en medikasie te neem. Ek weet dat depressie dikwels gediagnoseer word as ‘n fisiese probleem. Die term “mental illness” word ook toenemend gebruik om depressie te beskryf. Terwyl ek nie in beginsel beswaar het teen mediese hulp vir depressielyers onder sekere omstandighede nie, het ek egter diep in my binneste geweet dat my probleem — en die oplossing — lê dieper as die fisiese. Daar is ‘n geestelike oorsaak — en ek moet dit vind! Indien ek medikasie sou neem sal die simptome dalk verlig, maar ek sal nooit by die werklike oorsprong van my probleem uitkom nie.

Ek het ook geweet dat my depressie nie eenvoudig ‘n gebrek aan geloof in God en Sy Woord is nie. Ek het aanvanklik gedink dat dit die emosionele gevolg is van my omstandighede en die verlies van my huweliksmaat en gesin. Ek meen, wie sal nie met depressiwiteit worstel onder sulke omstandighede nie? My depressie is eenvoudig simptomaties van my omstandighede en ek sal daaroor kom — het ek gedink. Net wanneer ek dink nou is ek weer op oorwinningsgrond, kom daar weer ‘n wolk van duisternis oor my gemoed. Wat my begin bekommer het, is dat ek nie hierdie nuwe ervaring van duisternis meer in verband kon bring met my omstandighede nie.

In die weke en maande wat gevolg het, het ek egter tot nuwe insigte gekom. Hier is my verhaal.

My ontdekkingstog

Soos reeds genoem, het ek onder groot frustrasie, die afgelope aantal maande beleef hoe Facebook Projek KuberWêreld se evangeliese webblaaie blokkeer. Na ‘n periode van navorsing en opvolg van leidrade, kom ek toe eindelik agter die kap van die byl. Die rede waarom dit gebeur is omdat die lande van die onbereikte wêreld wat ons teiken met ons advertensies, meesal die Evangelie en Christelike geloof vyandig gesind is. Hulle sien ons advertensies as ’n bedreiging omdat ons sulke massas mense in hierdie lande met die Evangelie bereik. Geestelikes vanuit hierdie lande, wat hoofsaaklik Moslems, Hindoes en Boeddiste is, argumenteer en protesteer teen ons Evangeliese webblaaie deur negatiewe kommentaar op Facebook te pos, hoofsaaklik in Arabies en hulle eie tale, wat ek nie kan verstaan nie.

Gedurende die eerste agt maande van 2019 alleen, het meer as 61,000 mense op een of ander wyse op ons advertensies gereageer. Alhoewel daar ’n positiewe aspek daaraan verbonde is omdat dit ’n indikasie is dat ons groot getalle mense met ons advertensies bereik, verklap dit ook die rede waarom Facebook ons webblaaie blokkeer — die oorgrote meerderheid van hierdie reaksies is negatief! Facebook se kruipers tel dit op en vertolk dit asof ons webblaaie aanstootlike inhoud sou bevat, en blokkeer dan ons webblaaie. Vandaar die kommentaar van Facebook: “Your message couldn't be sent because it includes content that other people on Facebook have reported as abusive."

Ek het egter ontdek dat daar ‘n 4-5 uur venster is waartydens ek ‘n nuwe advertensieveldtog onder ‘n nuwe webadres na die onbereikte wêreld kan loods voordat Facebook die webblad blokkeer.

Wat ek daarná ontdek het, het my egter grootliks ontstel!  

Kort nadat ek so ‘n nuwe 4-uur venster advertensieveldtog geloods het, het ek ‘n geweldige oppressie (of depressie, soos ek dit ervaar het) in my gees, my gemoed en my gedagtewêreld begin beleef — in so ‘n mate dat ek wil sterf! Alles het net pikswart rondom my geword.

Ek het hierdie oppressie aanvanklik gladnie verbind met Projek KuberWêreld se advertensieveldtogte nie (soos ek ook hierbo verduidelik het), maar dit eenvoudig beskou as my gemoedstoestand as gevolg van die verbrokkeling van my huwelik en gesin, en my omstandighede.

Dit het my egter uitgedryf om baie ernstig die aangesig van die Here te soek vir antwoorde. ‘n Gebed wat ek meer dikwels en met meer erns begin bid het, was om te sterf — ek wou hemel toe gaan! Tot op ‘n dag dat die Here vir my gesê het om op te hou so bid — jou werk hier op aarde is nog nie voltooi nie. Terwyl ek myself op ’n keer weer in so ‘n staat van depressie bevind na ‘n 4-uur venster veldtog, stuur ek ‘n kort gebedsversoek uit na ‘n paar van my vriende wat soos volg gelui het: “Bid asseblief vir my. Ek het gebedsondersteuning dringend nodig.” Binne ‘n uur of twee na ek die boodskap gestuur het, het daar vir my verligting gekom. My depressie het soos ‘n wolk van my gelig! Iemand het vir my gebid — en hulle het nie eers geweet wat my probleem was nie!

Om ‘n lang storie kort te maak, die Here het my begin insig gee in die ware bron van my geestelike oorlog. Een van die dinge wat vir my duidelik geword het, was die opmerklike verband tussen die aktivering van ‘n nuwe advertensieveldtog en die aanvalle van depressie wat ek daarna beleef. Ek het toe besluit dat ek nie weer so ‘n advertensieveldtog gaan aktiveer sonder dat ek ‘n gebedsgroep gemobiliseer het wat gedurende daardie tyd vir my sal bid nie.

Vir die eerste keer het ek begin verstaan dat daar ’n duidelike verband bestaan tussen my gemoedstoestand, sowel as die verbrokkeling van my huwelik en gesin — en Projek KuberWêreld se advertensieveldtogte!

Die prentjie

Terwyl ek oor hierdie dinge gepeins en mediteer het in gebed, het die volgende prentjie vorm aangeneem:

  • Die miljoene mense in die Onbereikte Wêreld (waar Islam, Hindoeisme en Boedisme heers — met okkultiese verbintenisse, wat die Evangelie vyandiggesind is) wat ons bereik het die afgelope aantal jare deur die bediening van Projek KuberWêreld.

  • Gedurende die vroeër jare het groot getalle mense in hierdie lande ‘n geloofstap op die internet geneem en hulle name op ons gebedslyste (op ons rekenaar) geplaas. Op ‘n stadium was daar meer as 4,000 name van soekendes en bekeerlinge op ons gebedslyste. Ek was egter bewus van die feit dat hierdie lys ook name van vyandige persone bevat met verkeerde bedoelings. Gedurende die later jare het ek agterkom dat feitlik niemand meer hulle name op ons gebedslyste plaas nie (vermoedelik as gevolg van vrees vir intimidasie en vervolging).

  • Ongeveer vyf of ses jaar na ons met Projek KuberWêreld begin het, het ons huwelik en gesin verbrokkel, is ons huis verkoop, terwyl baie ander dinge ook verkeerd geloop het. Alhoewel ek van meet af besef het dat hierdie dinge te make het met ‘n demoniese aanslag op ons huwelik en gesin, het ek eers nou die volledige prentjie begin sien.

  • Duidelik neem die prentjie ‘n vorm aan: die geweldige aanvalle op my huwelik, gesin en bediening, en daarna aanvalle van depressie, vervolging, mislukkings en ander negatiewe ervaringe — wat blykbaar ‘n klimaks bereik wanneer ek ‘n nuwe advertensieveldtog aktiveer en ‘n vloed van negatiewe reaksies in Arabies en ander tale gepos word op Facebook, wat daartoe lei dat Facebook ons webblaaie blokkeer.

Die geestelike oorlog geïdentifiseer

Ek weet daar is sommige wat hier lees wat moontlik moeilik sluk aan die rigting waarin my verhaal besig is om te beweeg. Ek kan jou verseker, ek sou ook moeilik daaraan gesluk het as dit nie was vir die skool waardeur die Here my ‘n aantal jare tevore gestuur het nie. Gedurende hierdie tyd het ek heelwat boeke oor geestelike oorlogvoering gelees wat aan my ‘n basiese kennis gegee het van die geesteswêreld, onder andere die boeke van Rebecca Brown, Paul Billheimer, E M Bounds, Watchman Nee, Jesse Penn-Lewis en andere. Dit het daartoe gelei dat ek selfs ‘n seminaar aangebied het oor geestelike oorlogvoering gedurende 2010. Min het ek egter besef dat my grootste leerskool nog in die toekoms sou lê — en dat my primêre insig nie uit boeke sou kom nie!

Vir die eerste keer het ek begin verstaan dat my gevolgtrekking dat daar ’n duidelike verband bestaan tussen die verbrokkeling van my huwelik en gesin, en Projek KuberWêreld se advertensieveldtogte, heeltemal in die kol is! Die Here het aan my openbaar dat my huweliks– en gesinsverbrokkeling, sowel as my depressie verband hou met ‘n geestelike oorlog waarin ek en my gesin ons bevind — waarop ons nie voorbereid was nie! Ten spyte van al my kennis en insig, het ek besef dat die oorlog in die geesteswêreld iets veel intenser, groter en dieper is as wat ek verstaan het tot nou toe. Die oorlog in die geestewêreld is nie wetenskapfiksie, ouvrou-stories of samesweringsteorieë nie — dit is werklikheid! Ek het tot die volgende gevolgtrekking gekom:

Ons gesin se geestelike band met die internet bediening van Projek KuberWêreld het ons ‘n teiken gemaak vir bose magte vanuit die heidense en okkultiese wêreld, onder andere deur die negatiewe reaksies op sosiale media, wat klaarblyklik sy hoogtepunt bereik wanneer daar ‘n aktiewe advertensieveldtog aan die gang is. (1)

(1) Sommige mag dalk wonder nou hoekom sou dit met ons gebeur en nie met ander internet evangelisasie bedieninge nie. Daar is ander faktore wat ‘n rol speel waarop ek nie in hierdie artikel in besonderhede ingaan nie.

Ek het ook gaan lees en luister op die internet na kundiges oor hierdie onderwerp en vanuit betroubare bronne kon ek hierdie diagnose bevestig. ‘n Stelling wat Jesse Penn-Lewis in haar boek, War On The Saints, gemaak het, het ook tydens my geestelike stryd telkens in my gedagtes opgekom. In haar boek verduidelik sy onder andere die negatiewe impak wat verkeerde en misleide gebede van Christene op ander Christene kan hê. Met ander woorde, wat ons bid en die dinge wat ons uitspreek oor iemand anders het ‘n effek op daardie persoon in die geesteswêreld — positief of negatief. Ek beoog om in volgende artikels hierop uit te brei.

Dus, wat het gebeur in ons geval? Geestelikes vanuit die Moslem, Hindoe en Boedistiese gelowe, weerstaan Projek KuberWêreld se Evangelie webblaaie, pos negatiewe kommentaar (waaronder vloeke) op Faceboek en op die sosiale media wanneer ons ‘n advertensieveldtog loods. Hierdie is aktiwiteit in die geesteswêreld wat aan demone ’n instrument gebied het om geestelike aanvalle op my, my huwelik en my gesin te loods. Hierdie geestelike aanvalle het ten doel gehad om ons bediening te neutraliseer deur ons huwelik en gesin te vernietig.

My worsteling vir antwoorde

Die vraag waarmee ek geworstel het is, hoe het dit gebeur dat ons as kinders van die Here slagoffers in plaas van oorwinnaars in hierdie oorlog geword het? (Ek wil darem hier byvoeg dat ons nog nie die stryd verloor het nie en ek glo vas dat ons uiteindelik as oorwinnaars uit die stryd gaan tree! Ek glo die Here is besig om ‘n pad met ons te loop en ons verder te leer sodat ons ‘n seën en hulp vir andere kan wees. Oënskynlik lyk (en voel) dit egter op die oomblik of ons slagoffers in hierdie oorlog is.)

Gedurende ons eerste huweliksberadingsessie toe ek en my vrou nog bymekaar was, het ons berader tot die gevolgtrekking gekom dat ek en die kerk waar ons aanbid ’n vloek oor haar gebring het. Op daardie stadium het ek gedink hy weet nie waarvan hy praat nie. Ek het egter later tot die gevolgtrekking gekom dat sy diagnose van ‘n vloek reg was, hy het slegs die bron daarvan verkeerd gehad. Die bron was Projek KuberWêreld se arbeidsveld — nie ek of ons kerk nie! Die vloek was ook nie slegs oor haar nie — ons hele gesin was geteiken.

Wat was die simptome of tekens van hierdie demoniese aanvalle uit die heidense en okkultiese wêreld op ons gesin?

Dit het die vorm aangeneem van misleidende en depressiewe gedagtes en emosies waarvan ons die bron misken het. Omdat ons die bron misken het, het ons die oplossing gemis.

In plaas van oorwinning, het hierdie gedagtes en emosies gelei tot moedeloosheid, negatiwiteit, depressiwiteit en geestelike blindheid en -hardhorendheid wat die deure net wyer oopgemaak het vir toenemende demoniese teistering — weereens, waarvan ons die bron misken het. Dit het verder gelei tot verdeeldheid, misverstande, konflik, en uiteindelik huweliks– en gesinsverbrokkeling. Dit het vir my duidelik geword dat my vrou en ons kinders waarskynlik hierdie neerdrukkende simptome en aanslae van emosionele teistering beleef het toe hulle nog in die huis was. Ek besef nou dat hulle waarskynlik met emosies en gedagtes geworstel het wat ek (en hulle) nie verstaan het nie en die bron misken het.

Die pad na herstel en oorwinning ...

Die vraag waarop ek egter ‘n antwoord soek is, hoe was dit moontlik dat ’n vloek — vanuit watter bron ookal — ons as kinders van die Here se huwelik kon vernietig? Hoe is dit moontlik dat ‘n kind van die Here die slagoffer kan word teen Satan en sy bose magte in die geestelike stryd? Staan ons dan nie aan die kant van die oorwinning nie? Watter betekenis het die oorwinning van Jesus Christus aan die Kruis dan vir ons as kinders van die Here?

Is ons regtig aan die wenkant? Op 12 September 2019 skreeu die Christelike nuusmedia se opskrifte: “Jarrid Wilson, pastor and mental health advocate, dies by suicide” — die tweede selfmoord net hierdie jaar waarvan ek weet, van ‘n bekende pastoor van ‘n groot evangeliese gemeente in die VSA. Om nie eers te praat van die talle Christenhuwelike en huwelike van leraars en pastore wat op die ashoop van verbrokkelling lê nie. Depressie en huweliksverbrokkelling is twee van die grootste gevolge van die geestelike oorlog in die lewe van kinders van die Here. Is daar iets wat ons as kinders van die Here nie verstaan nie? Lê die antwoord nie dalk op die terrein van die oorlog in die geestewêreld nie? Weet ons genoeg van hierdie onderwerp? Is ons oop genoeg vir meer kennis oor hierdie onderwerp, of is ons teologiese boksies dalk te klein?

Oproep tot eensgesindheid

Voor ek hierdie artikel afsluit wil ek net eers ‘n oproep tot eensgesindheid maak. Ek weet dat sommige van die gedagtes wat ek hierbo gedeel het vir sommige radikaal of versgesog klink en somtyds bots met ons teologie. Ek het egter tot die gevolgtrekking gekom dat my teologie dalk in die pad kan staan van dieper insigte in die Woord wat die Here aan my, ons gesin en Sy Kerk wil openbaar. Daar is verborge waarhede in die Woord van God wat ek glo die Heilige Gees aan ons wil openbaar. Daarom het ek myself voorgeneem om myself oop te stel vir alles wat die Here my wil leer en die volle waarheid van God’s Woord, terwyl ek die Heilige Gees vertrou om my van dwaling te bewaar.

Ek wil graag beklemtoon dat ek nie daarop aanspraak maak dat ek meer waarheid het as andere nie! Inteendeel, my gesindheid is een van ‘n leersame gees en ‘n dienskneg. Ek is immers self nog in God se skool. Naas God en Sy Woord, onderwerp ek my aan my leraars en leermeesters as my meerderes. Ek wil dus ‘n beroep doen op elkeen wat my artikels lees, moet dit asseblief nie as ‘n instrument van verdeeldheid lees of gebruik nie. Dit is moontlik om in liefde met mekaar te verskil oor dinge wat ons anders verstaan, terwyl ons eensgesind bly oor die kernwaarhede van die Evangelie. Mag die Here aan ons onderskeiding gee! Bowenal — mag die Here ons in eensgesindheid saambind!

Ek wil graag hierdie vraag beantwoord: Is daar oorwinning vir my en jou in hierdie oorlog? Natuurlik! Absoluut! Jesus Christus het die oorwinning behaal aan die Kruis! Ek glo dit met my hele hart! Dus, ons fokus is nie op die oorlog nie — maar op die oorwinning! Die probleem is egter dat ons dikwels, soos in my geval, die oorwinning mis omdat ons nie die oorlog en ons eie slagveld verstaan nie. Hiermee vra ek dan asseblief vir jou gebedsondersteuning.

Spesiale versoek tot gebedsondersteuning

Hiermee rig ek ‘n vriendelike, tog dringende versoek tot jou wat hier lees, om ‘n gebedsondersteuner te word. Plaas asseblief my en my gesin se name op jou gebedslys en tree asseblief in gebed vir ons, ons huwelik, ons gesin en ons bediening in! Ons staan op die voorpunt van ’n geestelike oorlog en ons het jou gebedsondersteuning nodig!

Hierbo het ek gevra, hoe is dit moontlik dat so iets met ‘n toegewyde kind van God kan gebeur?  Ek het intussen antwoorde op hierdie vrae begin vind. Die eerste antwoord gaan ek sommer hier en nou gee, en die antwoord is — ek het die intensiteit van die geestelike oorlog waarin ons betrokke is, onderskat en ek het gefaal om, behalwe vir ons bediening, ‘n doeltreffende gebedsondersteuningsbasis vir ons as gesin in plek te stel!

Liewe broer en suster in Jesus Christus, as jy tot hiertoe gelees het, is dit my oortuiging dat die Here jou roep as ‘n gebedsondersteuner vir my, my gesin en ons bediening. Ek weet daar is baie ander persone, bedieninge en aksies waarvoor jy reeds bid. Ek weet ook dat jou gebedslysie waarskynlik al langer is as waarvoor jy kans sien. Dit is egter my oortuiging dat die Here ons wil toerus om meer effektief te bid ook vir mekaar en andere, en aan ons groter insig wil gee in gebedsoorlogvoering. Ek wil graag ook luister na jou insette. Miskien het die Here sekere waarhede aan jou geopenbaar wat ek nie gesien het nie.  

As jy gewillig is om aan te meld as ‘n gebedsondersteuner en gewillig is om nou en dan ‘n WhatsApp boodskap en/of ‘n epos, insluitende my toekomstige artikels te ontvang, stuur asseblief vir my jou naam en van, selnr en eposadres (as ek dit nog nie het nie) na my foon by 072-2022-744, of na hierdie eposdres: ‘admin@sepprograms.com’, met die onderwerp: ‘Gebedsondersteuner’. Daar is geen verdere verpligtinge hieraan verbonde nie, behalwe jou onderneming om so dikwels as die Heilige Gees en ek jou herinner, vir my en ons te bid.

Ek gaan nie weer ‘n Projek KuberWêreld advertensieveldtog na die onbereikte wêreld aktiveer totdat ek tevrede is dat ek ‘n groot genoeg gebedsondersteuningsbasis het wat aktief is in gebed vir my, ons huwelik en gesin, en die bediening nie!

As die Here dit op jou hart lê om hierdie getuienis aan iemand anders te stuur wat dit moontlik ook moet lees, is jy welkom. Ek versoek net dat jy selektief sal wees en nie hierdie getuienis op ‘n groot skaal of op WhatsApp groepe sal versprei nie. Dit is my gebed dat dit by andere sal uitkom wat, soos ek, worstel met ‘n geestelike stryd van een of ander aard, en ‘n begeerte het om meer effektief te word in hul gebedslewe en bediening.

Het jy “ja” geantwoord op die Here se roepstem as gebedsondersteuner? Dan het ek vir jou ...

Vier spesiale gebedsversoeke

1. Bid asseblief saam met my vir die herstel van my huwelik en ons gesinsverhoudinge.

Hier is 'n bietjie agtergrond om jou geloof te versterk. Daar is nog nie ‘n egskeiding nie en vir solank daar nog nie ‘n egskeiding is nie, kan die Here ‘n wonderwerk doen! Ek is oortuig dat die Here ons huwelik wil herstel en die Here het aan my geloof gegee om Hom daarvoor te vertrou, ten spyte van die afwesigheid van alle menslike hoop! By God is alles moontlik! Bid asseblief dat die Here Homself persoonlik aan elkeen van ons as gesin op ons eie vlak en volgens ons behoefte sal openbaar!

Ons huwelik is ‘n verbondshuwelik wat die Satan probeer vernietig, maar ek staan hom en sy werke teë in die Naam van Jesus Christus! Staan asseblief saam met my in hierdie stryd! Die kinders van die Here kan nie bekostig om hierdie oorlog te verloor nie — daar is net te veel op die spel! As my huwelik in ‘n egskeiding eindig sal nie slegs ek ‘n verloorder wees nie — die Kerk van Jesus Christus sal saam my ‘n verloorder wees! Staan asseblief saam met my in die gebed vir ons huwelik en gesin! Dit gaan nie oor my nie — dit gaan alles oor God en die eer van Sy Naam!

(Sommige sê vir my ek moet ‘n egskeiding aanvaar en aangaan met my lewe. Hulle sê ek moet my huwelik “aan die Here oorgee”. My vraag is, hoe gee mens jou huwelik aan die Here oor deur in te stem tot ’n egskeiding? As ‘n hof dit sou doen is dit ‘n ander saak. As ek dit sou doen gee ek my vrou en kinders aan die wil van Satan oor, steek ek die witvlag op in die geesteswêreld en aanvaar ek ‘n neerlaag teen Satan en sy bose magte. Meer nog — ek getuig dat God nie by magte is om ons huwelik te herstel nie! Hoe kan ek so iets doen?)

2. Bid asseblief vir my, my vrou en ons kinders se beskerming teen demoniese aanslae in ons gemoedere en gedagtes — veral gedurende ’n aktiewe Projek KuberWêreld adverstensieveldtog. Bid asseblief teen alle demoniese aanvalle van depressie en angstigheid teen ons, en myself in die besonder. Pleit die bloed van Jesus Christus oor ons gemoedere en gedagtes.

3. Bid vir jou eie huwelik en gesin. Bid vir julle as gesin se beskerming — na gees, siel en liggaam. Pleit die bloed van Jesus Christus oor elke lid van jou gesin. Proklameer die oorwinning van die Kruis oor jou huwelik en elke lid van jou gesin.

4. Bid vir die leraar(s) van jou gemeente en hulle huwelike en gesinne. Elke leraar van ‘n gemeente staan aan die voorpunt van ‘n geestelike stryd. Bid vir hulle as gesin se beskerming — na gees, siel en liggaam. Pleit die bloed van Jesus Christus oor hulle en hulle gesinne. Proklameer die oorwinning van die Kruis oor hulle huwelik, gesin en bediening. Vind uit of hulle spesiale gebedsbehoeftes het.

Haak jou eie gebedslys by hierdie gebedsversoeke aan.

Baie dankie aan elkeen wat saambid!

Elmer Grobler

Lees gerus meer oor die Christen se geestelike oorlog

Ken Jou Vyand - Deel 1
Ken Jou Vyand - Deel 2
Ken jou Vyand - Deel 3

Leef In Oorwinning