Die Christendom van ons tyd het weinig begrip van die ware krag en implikasies van die Bybelse waarheid van ‘vergifnis’ – en die afwesigheid daarvan in die lewe van ‘n belydende Christen. Die Heilige Gees het my opnuut kom belas met hierdie basiese waarheid en hierdie artikel is die gevolg.
Vir die afgelope tien jaar worstel ek met ‘n verbrokkelde huwelik en gesinsverhoudinge. My huwelik – wat ek geglo het gebou was op die waarheid van die Woord, het na 26 jaar onverklaarbaar verbrokkel en sewe jaar later uitgeloop op ‘n egskeiding. Na intense innerlike stryd en elke moontlik poging om versoening te probeer bewerkstellig, bly dit (ten tye van die skryf van hierdie artikel) steeds ‘n onvervulde saak. Vir meer agtergrond, lees gerus die artikel, Die Vloek Van Verwerping, by hierdie skakel.
Na tien jaar(!) hoor ek steeds stemme dat ek die oorsaak van ons egskeiding was. Daar is klaarblyklik splinters in my oog wat ek nie raaksien nie. Lê die probleem dalk op ‘n dieper vlak? Wat vra die Here van my? Wat wil die Here hê moet ek doen of nie doen nie? Maandagoggend 5 Oktober 2026 om 01:00 in die nag maak die Here my wakker en gee my die antwoord. Dit was die oorsprong van hierdie artikel.
Miskien het jy een of ander ‘n worsteling van jou eie – dan nooi ek jou uit om dit wat die Here aan my openbaar het, te lees.
Vergifnis is die fundamentele bron en basis van ‘n lewende verhouding met God in Christus Jesus. Vergifnis is die bron van ewige lewe. Vergifnis is die bron van alle geestelike lewe en ook van herlewing. Vergifnis is ook die kragbron van die Christen se menslike verhoudinge.
Die beginpunt van Christelike lewe is die sekerheid dat my sonde vergewe is in Jesus Christus. Die Evangelie in ‘n neutedop behels die feit dat Jesus Christus vir my sonde aan die Kruis gesterf het en daarom kan ek vergifnis ontvang deur geloof en in 'n persoonlike, lewende verhouding met God in Jesus Christus staan. Vergifnis is die enkele Bybelse waarheid wat die fondament vorm van die hele Christelike geloof.
Om te vergewe beteken nie dat ek noodwendig saamstem met die ander persoon nie. Dit beteken ook nie dat ek my daarvan moet onthou om die waarheid te praat in liefde, en in die waarheid van die Woord te wandel nie.
Dit beteken egter wel dat ek gewillig is om my verskille met die ander persoon respekvol uit te praat soos en wanneer nodig; en waar ons nie tot ‘n vergelyk kan kom nie, in liefde, vergifnis en vrede vorentoe te beweeg terwyl ek waak teen ‘n gesindheid van vergelding en verwerping.
Daar bestaan ‘n oppervlakkige siening in ons tyd dat wanneer ek tot bekering en redding gekom het, Jesus al my sonde van die verlede, hede en die toekoms vergewe. Terwyl daar ‘n element van waarheid in is, is dit slegs helfte van die waarheid. Geen sonde word vergewe sonder belydenis en bekering nie.
Jesus leer vir ons in Mat 6:9-13: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; ...”
In vers 14 en 15 lees ons: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”
Daar lê ‘n diep geestelike waarheid hierin opgesluit wat baie Christene nie verstaan nie. Daar is ‘n voorwaarde om vergifnis te ontvang – ek moet andere vergewe. As daar iemand is wat ek nie kan vergewe nie, is mý sonde ook nie vergewe nie – en dit veroorsaak ‘n kortsluiting in my geestelike lewe en verhoudinge. Om in ‘n lewende verhouding met Jesus Christus te staan, moet al my sonde vergewe wees. Om van al my sonde vergewe te wees, moet ek elkeen wat teen my gesondig het van harte vergewe.
Om te kan vergewe moet ‘n mens eers God se vergifnis ontvang – en om die verlossende krag van die Heilige Gees te ontvang moet ‘n mens vergewe. Die rede waarom baie Christene nie die krag van die Heilige Gees ervaar in hulle lewens nie, is omdat hulle nie die volle krag van vergifnis ervaar nie. Het jy al vergifnis ontvang van jou eie onvergifnis?
Om te kan vergewe moet ‘n mens eerstens oortuig wees van jou eie sondige toestand. Die rede waarom baie ‘goeie’ mense nie ‘n kragtige getuienis van bekering het nie is omdat hulle nog nooit onder oortuiging van hulle eie sondige hartstoestand voor God gekom het nie. Hulle het slegs ‘n intellektuele kennis van, en ‘n belydenis gemaak dat hulle “in sonde ontvang en gebore is”.
Verdeeldheid en onversoenlikheid tussen Christene en in die huwelik bedroef en blus die werk van die Heilige Gees in die lewe van ‘n Christen, in ‘n gemeente, en in die huwelik. Wanneer die Heilige Gees geblus word het dit geestelike doodsheid en liefdeloosheid tot gevolg. Daar is ‘n gebrek aan oortuiging van sonde. Daar is ‘n gebrek aan geestelike vrug. Daar is ‘n gebrek aan geestelike lewe. Geestelike blindheid is aan die orde van die dag. Vormgodsdiens seëvier. Gebroke verhoudinge en verbrokkelde huwelike word ‘n normaliteit. Dit alles gebeur terwyl die kerk-kerk en godsdiens-godsdiens spel onverpoos voortgaan.
Die oorsaak van onversoenlikheid is bedekte inherente hoogmoed. Dit is die idee dat ek nie so sondig is soos daai persoon met wie ek nie kan of wil versoen nie.
Die broeikas van onvergewensgesindheid is die gedagte dat iemand anders meer of groter sonde as jy het – en dat versoening slegs kan plaasvind as die ander persoon belydenis van sy of haar ‘sonde’ teenoor jou doen.
Hierdie is die splinter-in-die-oog sindroom waarvan Jesus in Mat 7:3-5 praat: “En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.”
Onvergewensgesindheid is ‘n subtiele sonde waarop ‘n Christen bedag moet wees. Dit steek sy kop uit op maniere wat nie altyd onmiddellik duidelik is nie. Onvergifnis is ‘n sonde wat groei en begin met ‘n saadjie. Voor jy jou kom kry het dit wortel geskied en takke gekry.
Onvergewensgesindheid is nie alleen om ‘n wrok teen iemand te koester nie. Onvergifnis openbaar homself in verskeie vorme – onder andere, geïriteerdheid, hiper-sensitiwiteit, vermyding, kritiek, eie-geregtigheid, selfverdediging, vingerwys, verdeeldheid, onversoenlikheid, verwerping, liefdeloosheid, bitterheid, rebellie, ensomeer.
‘n Belangrike simptoom van onvergewensgesindheid is verwerping. Die Vloek Van Verwerping, gaan in meer besonderhede op hierdie onderwerp in.
Die rede waarom Christene mekaar kritiseer en verwerp is as gevolg van ‘n gebrekkige eie-sondebesef. Daar is slegs een rede waarom iemand nie kan vergewe nie, dit is weens ‘n gebrekkige besef van jou eie sondige toestand.
Die fundamentele rede waarom daar kragteloosheid onder Christene en in die Kerk is, is as gevolg van ‘n gebrekkige sondebesef. Die rede waarom baie kerke vol lidmate sit maar daar geen geestelike krag is nie, is weens ‘n gebrekkige sondebesef. Die gevolg van ‘n gebrekkige sondebesef is onvergewensgesindheid en verdeeldheid.
In Ef 3:14-21 lees ons: “... dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. ...”
Vergifnis stel die Heilige Gees vry om sonder enige hindernis of obstruksie in en deur my lewe te werk. Vergifnis stel die werking van die Heilige Gees – Sy liefde en oorwinnende krag – vry in en deur my lewe.
In 2 Kor 2:14-16 lees ons: “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. ...”
‘n Christen wat die krag van vergifnis verstaan, versprei ‘n aangename geur teenoor andere wat die krag van vergifnis ervaar en verstaan, terwyl hy of sy 'n doodsreuk versprei teenoor diegene wat hulle verset teen die waarheid van die Woord. Terwyl ‘n Christen andere moet vergewe, mag ons nooit met sonde kompromie maak nie. Daar is ‘n groot verskil tussen die verwerping van iemand se sonde en die verwerping van die persoon.
Vergifnis moet nooit verwar word met swakheid nie. Die duiwel wil Christene laat glo dat ‘n gees van vergifnis sinoniem is met die oorsien van sonde. Vergifnis beteken nie om andere se sonde te vergewe nie, maar om hulle te vergewe vir hul negatiewe gesindheid teenoor jou. Om kompromie te maak met sonde sal jou van geestelike krag beroof – en om nie te vergewe nie sal dieselfde gevolg hê.
Hou vas aan die woord: Rom 8:1-4: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
Die Bron van vergifnis is Jesus Christus. Geen mens kan in menslike krag vergewe nie. Dit sal nie help om ‘n besluit te neem om te vergewe nie – dit sal nie werk nie. Jy moet eers self vergifnis ervaar om te kan vergewe. Die probleem is dat baie Christene ‘n gebrekkige sondebesef het en min of geen behoefte aan God se vergifnis het nie.
Mag ek vir jou vra – het jy ‘n getuienis van wedergeboorte? Weet jy van ‘n dag in jou lewe toe Jesus Christus jou sonde van die verlede vergewe het en jou kom lewend maak het deur Sy Gees? Is jy seker van jou redding? Indien nie, nooi ek jou om hierdie artikel te lees: Hoe Om Weer Gebore Te Word. As jy wel sekerheid het, lees gerus verder.
In Luk 7:37-47 lees ons die verhaal van ‘n vrou wat ‘n sondares was, wat ‘n albaste fles met salf gebring en agter by sy voete gaan staan en geween het; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf. Die Fariseër by wie Jesus aan huis was maak toe beswaar, maar in vers 47 maak Jesus hierdie belangrike uitspraak: “Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.”
Die geheim van herlewing in jou eie geestelike lewe in 'n neutedop is:
Om te kniel by die Kruis, jou sonde van onvergewensgesindheid (en elke ander sonde) opreg te bely en jou rug daarop te draai.
Jy moet die Here Jesus Christus vertrou om jou te vergewe, te reinig en te verlos van onvergewensgesindheid en alle inwonende sonde.
Jy moet ‘n stap van geloof neem en jou lewe algeheel en onvoorwaardelik aan Jesus Christus oorgee; en jy moet die Heilige Gees vertrou om jou te heilig en te vervul.
Om meer te weet en verstaan van die Geesbeheerde lewe, beveel ek hierdie webblad aan: Die Geheim van ‘n Oorvloedige, Doelgerigte Lewe. Daar is ook ‘n modelgebed wat jy kan bid.
Die volgende webblad kan ook vir jou tot groot hulp wees. Gaan kyk gerus na die opgawe van artikels wat hier beskikbaar is: Leef In Oorwinning.