Leef In Oorwinning

Geloof Op Breekpunt – In Die Tyd Waarin Ons Leef

deur
Elmer Grobler

Die profetiese betekenis en belangrikheid van die tyd waarin ons leef

In Pred 3:1 lees ons: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: (OAV) Die New King James Version stel dit so: “To everything there is a season, A time for every purpose under heaven:” (Beklemtoning my eie)

Die tyd waarin ons leef het ‘n wesenlike invloed op ons Christenskap en die geloofsbelewenes van kinders van die Here. Waarom is die tyd waarin ons lewe belangrik? Wat het die tyd waarin ons leef met my geloofsbelewenes te doen? Veel meer as wat baie verstaan! Van watter tyd praat ons?

Ons leef in 'n unieke tyd -- en my oortuiging is dat ons vlak, en ek bedoel VLAK, voor die wederkoms van Jesus Christus leef. Hierdie tyd waarvan ons praat is die laaste dae. In hierdie artikel het ek God se Program in die Geskiedenis van die Bybel behandel, as jy dalk wonder op grond waarvan ek hierdie stelling maak. Daarom het ek geen twyfel nie dat ons in die tyd leef waarvan die volgende verse praat:

Mat 24:24: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.” (Beklemtoning my eie)

1 Tim 4:1: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang ... “ (Beklemtoning my eie)

2 Tim 3:1,2: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, ...” (Beklemtoning my eie)

2 Thes 2:1-3: “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, .... (3)  Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf ... “ (Beklemtoning my eie)

Ons leef tans in die tyd wat 2 Thes 2:3 “die afval” of “falling away” (NKJV) noem. Afvalligheid en misleiding is ‘n kenmerk van die Kerk reg deur die eeue, maar die Bybel leer dat daar ‘n spesiale tydperk of seisoen van afvalligheid en misleiding in die geskiedenis van die Kerk gaan plaasvind reg voor die wederkoms van Jesus Christus, wat sy klimaks gaan bereik met die openbaring van die Antichris. Hierdie tyd het ‘n invloed op kinders van die Here se geloofsbelewenis waarvan ons moet kennis neem.

Om meer te lees oor hierdie tyd, nooi ek u om die volgende artikel te lees: Vervulling van die groot afvalligheid en misleiding in die Kerk van die laaste dae

Watter invloed het hierdie tyd op die kerk en kinders van die Here se geloof?

  • Talle Christene is besig om hulle geloof te verloor terwyl sommige hulle geloof ‘dekonstrueer’ omdat die tradisionele geloofsbelewenis waarmee hulle bekend is net nie meer vir hulle werk nie.
  • Baie opregte Christene verval in hierdie tyd in geestelike vertwyfeling en moedeloosheid, terwyl geestelike depressie onder Christene besig is om teen rasse skrede toe te neem. Baie Christene haak vas by vrae soos, ‘Here, waarom?’. Ek was een van hulle! Is jy dalk ook een?
  • Evangeliese kerke en bewegings wat in die verlede sterk groei ondervind het, is besig om hulle krag te verloor en ondervind ‘n afname in ondersteuning.
  • Kerke wat kompromie maak met die wêreld en ‘n goed-voel evangelie verkondig ervaar dat die meerderheid steeds daarheen stroom.
  • ‘n Oppervlakkige evangelie en misleiding is besig om soos ‘n veldbrand te versprei en al hoe meer populêr te word, terwyl al meer Christene nie meer kan onderskei tussen die egte en valse nie. Lees gerus, 'n Ander Evangelie -- 'n Ander Jesus.
  • Die christelike kultuur van ons tyd is so ineengestrengel met die wêreld en die humanisme dat daar feitlik geen onderskeid meer is tussen die wêreld en sy kultuur en baie kerke nie – en is besig om ons kinders en die jeug in te suig in misleiding.

‘n Persoonlike getuienis

Die Here het my die afgelope paar jaar deur 'n skool gestuur wat ek met tye getwyfel het of ek gaan slaag. Dis net die genade van God dat ek oorwinnend gebly het. Onlangs het die Here my weer deur 'n beproewing gelei wat ek as die laaste strooi ervaar het. Ek het self al baie oor beproewing en lyding geskryf en ek het nooit kon droom dat ek self in ‘n situasie sou beland wat my tot op geloofsbreekpunt sou lei nie.

Ek kon nie glo dat die Here my as’t ware tot op die randjie van ‘n geloofsafgrond sou lei nie. Here waarom? Here, dit maak nie vir my meer sin nie! Here, ek het nog altyd gedink ek verstaan, maar nou verstaan ek nie meer nie! Here, wat van die beloftes van U Woord? Here, hoe kan U so met U kinders werk? 'n Geestelike stryd het in my gemoed gewoed soos nog nooit voorheen in my hele geloofslewe nie. Dit het vir my gevoel of die beloftes van God in Sy Woord nie meer geldig is nie. Alhoewel ek intellektueel in die Here en Sy Woord bly glo het en die Here my geestelik bewaar het, het dit dikwels vir my gevoel of my geloof op sand gebou is.

Ek het die Here egter nie vir 'n oomblik gelos nie en Hom bly vertrou vir 'n geestelike deurbraak, of om my te kom haal. Een middag, na nog 'n dag van geestelike worsteling, gaan ek weer soos dit my gewoonte is, op my gebedswandeling. Hierdie dag het ek, soos dikwels, min woorde gehad. Ek het net vir die Here gesê dat ek nie meer woorde het nie en die Heilige Gees gevra om vir my te bid en in te tree by die Vader met onuitspreeklike versugtinge volgens die wil van die Vader. (Rom 8:26,27.)

Terloops, ek het hierdie gebed al talle kere vantevore ook gebid, en het nie gedink die Here sou dit hierdie dag so letterlik antwoord nie -- maar Hy het! Kort voor die einde van my gebedswandeling gaan die lig vir my op. Die Here openbaar aan my waarom Hy hierdie beproewinge oor my lewe toegelaat het --en skielik maak alles vir my sin.

Die Here openbaar aan my waarmee Hy besig is in my en Sy kinders se lewens in hierdie tyd, wat onmiddellik my geloof weer op 'n vaste fondament geplaas het. Ek deel dit graag ook met jou, met die bede dat dit dieselfde resultaat ook in jou geloofslewe mag hê. Ek wil net noem dat hierdie nie slegs ‘n eenmalige ondervinding was nie. My geloofstryd het homself dikwels hierna weer herhaal, maar elke keer het die Here my weer teruggebring na hierdie waarhede.

Die Here het aan my openbaar dat Hy hierdie beproewinge in my lewe toelaat vir die volgende redes.

1. Die Here is besig om op ‘n unieke wyse met Sy Kerk en Sy kinders te werk in terme van ‘n unieke tyd op God se profetiese kalender.

God is besig om Sy Kerk te suiwer ter voorbereiding vir Jesus Christus se wederkoms. Die Here is besig om die kaf van die hooi, die stoppels van die goud, te skei. In 1 Kor 3:11-13 lees ons: “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. (12) En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — (13) elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.(Beklemtoning my eie.)

Na watter dag word hier verwys in vers 13? Ek het altyd verstaan dat dit verwys na die dag van die Here, met spesifieke verwysing na Sy wederkoms – wanneer die skape van die bokke, en die onkruid van die goeie saad geskei gaan word - en dat kinders van die Here hierdie “vuur” sal vryspring. Alhoewel dit ‘n deurlopende toepassing het, het dit egter vir my duidelik geword dat hierdie “dag”en “vuur” in die besonder ‘n verwysing is na die “uur van beproewing" van Op 3:10,11. Ons lees hier: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. (11)  Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.” (Beklemtoning my eie.)

Die Woord is dus duidelik dat “‘n uur van beproewing” en “dag” van “vuur” Jesus Christus se wederkoms sal voorafgaan waardeur kinders van die Here sal gaan en waarvan die doel is om Sy Kerk te suiwer. Die ses punte wat ons onder die tweede hofie hierbo beskryf het, pas volmaak in hierdie prentjie. Ek is oortuig dat ons nou in hierdie tyd van beproewing leef. Die Here is besig om Sy kinders deur die vuur te stuur om Sy Kerk te suiwer sodat slegs die goud, silwer en kosbare stene sal agterbly.

Dit is egter belangrik om te verstaan dat die institusionele kerk sal bly voortbestaan in vorm. Baie kerke sal steeds gevul wees deur misleiding, valse leraars en ‘n goedkoop evangelie in harmonie met Bybelse profesié. Daar sal nie ‘n fisiese skeiding kom tussen eg en vals nie – maar daar sal ‘n duidelik waarneembare geestelike skeiding kom wat gesuiwerde kinders van die Here sal onderskei.

Gaan jy deur moeilike tye? Voel dit vir jou of alles net te veel word? Worstel jy met geestelike depressie? Voel dit vir jou of jy die laaste strooi bereik het? Is jy op breekpunt? Lig jou kop op en kyk boontoe – God is in beheer – jy is in die skool van oorwinnende geloof! Jy is in die smeltkroes sodat alles wat nie goud of silwer of kosbare stene is nie, kan verbrand!

2. Die Here is besig om Sy kinders los te maak van die wêreld ter voorbereiding vir dit wat volg op God se profetiese program

Ons ken die boodskap van 1 Joh 2:15: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” Wat ons egter nie verstaan nie, is dat die Here besig is om ons te stroop van elke vorm van wêreldse sekuriteit en liefde, en elke kruk waarop ons steun -- ter voorbereiding vir Sy wederkoms en Sy profetiese program waarin ons onsself bevind.

Die Here het my letterlik gestroop van alles wat vir my kosbaar was. Ek het hierdie dinge nooit as wêreldliefde gesien nie, maar bloot as genadegawes van God in terme van die beloftes van Sy Woord vir dié wat Hom liefhet. Toe neem die Here dit van my weg soos in die geval van Job. Aanvanklik was my reaksie een van verontwaardiging. Here ek is U kind! Hoe kan U so met my werk? Dit is absoluut in stryd met wat U self vir my belowe het in U Woord! Dit voel vir my ek is onder die oordeel van God soos ‘n ongelowige, terwyl ek veronderstel is om ‘n geseënde van die Here te wees! Toe openbaar die Here hierdie waarhede aan my soos ek in hierdie artikel verduidelik – en skielik begin alles sin maak.

3. Die Here is besig om Sy kinders deur ‘n spesiale skool van oorwinnende geloof te stuur ter voorbereiding vir dit wat nog gaan volg op God se profetiese program

Liewe boetie en sussie in Jesus Christus, ek wil jou nie bang praat nie – inteendeel, ek wil jou bemoedig en aan jou die oplossing voorhou vir ‘n krisis wat op hande is. Maar jy moet weet dat ons onsself in swaar tye bevind en dit nog swaarder gaan word. Die Bybel waarsku ons uitdruklik in 2 Tim 3:1: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.” Niemand sal hierdie tye geestelik oorleef behalwe deur oorwinnende geloof nie!

Die Here moes my op breekpunt bring om die geheim van oorwinnende geloof aan my te openbaar. Oorwinnende geloof is geloof wat die breekpunt oorwin. Op breekpunt was ek ook op my kwesbaarste vir versoeking. Behalwe vir die stroop van alles wat vir my kosbaar was, het ek die afgelope tyd ongekende versoekinge beleef. Dinge waarmee ek reeds met my bekering meer as dertig jaar gelede afgehandel het, het gedreig om weer hulle kop uit te steek. Ek moes aggressiewe geestelike oorlog voer met behulp van die wapenrusting van Efesiërs 6 om oorwinnend te bly. Dank God vir Sy getrouheid. Dikwels het dit vir my gevoel asof dit bomenslik is, maar God het gesê: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee,sodat julle dit sal kan verdra.” 1 Kor 10:13.  

Dank God vir daardie dag op my gebedswandeling toe Hy hierdie waarhede aan my openbaar het. Dit was my geestelike behoud tot nou toe – in antwoord op die gebede van my gebedsvriende. Mag die Here ook vir jou lei in oorwinnende geloof wat die aanslae van die vyand in jou lewe sal trotseer.

4. Die Here is besig om jou voor te berei vir jou roeping vir hierdie tyd in God se profetiese program

Elke kind van God is 'n geroepene van die Here. Elke kind van God het 'n roeping -- voltyds of deeltyds -- maar jy is 'n geroepene! Weet jy wat jou roeping is? Ek het ook gedink dat ek weet wat my roeping is, totdat ek tot die besef gekom het dat die Here besig is om my voor te berei vir 'n heel nuwe fase in my roeping -- vir die tyd waarin ons leef. As jy wil weet of jy 'n spesiale roeping van die Here het, volg hierdie skakel.

Wat is die oplossing vir geloof op breekpunt?

Die Verbond. Jou verbond met God is die grondslag vir getrouheid -- getrouheid tot die dood toe! Die krag om getrou te bly tot die dood toe, is ingesluit in jou verbond met God. Keer terug na jou ‘huwelik’ met God. As jy nog nooit met Jesus Chistus in ‘n ‘huweliks’-verbond bevestig is nie, gee jou lewe in algehele oorgawe aan Hom oor. Om meer oor hierdie onderwerp te lees verwys ek jou na, ‘Die Geheim van ‘n Oorvloedige, Doelgerigte Lewe’ en ‘The Secret Of The Covenant’.

Ten slotte wil ek jou graag vertel van ‘n boek wat die Here my gelei het om te skryf met die titel: Seven Reasons Why Every Christian Must Prepare Spiritually For The Antichrist And Great Tribulation. Volg die skakel vir meer inligting.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
Leef In Oorwinning