Leef In Oorwinning

Die Ontnugtering

deur
Elmer Grobler
Talle belydende Christene sal eendag voor die regterstoel van Christus ontnugter word dat die geestelike gesag in die vorm van ‘n pa of ma, kerk, gemeente, leraar, leier of instrument, wat hulle op aarde verwerp het, die verteenwoordiger was van Jesus Christus in hulle lewens! Wanneer jy God se gedelegeerde gesag in jou lewe verwerp, verwerp jy God self.

In Mat 25:31-46 praat Jesus oor die oordeelsdag en in vers 40 en 45 maak Hy die volgende uitsprake: “Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. ... Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.”

Jesus Christus openbaar Homself dikwels aan ons op ‘n manier wat van ons verootmoediging vra, want verootmoediging is die ENIGSTE roete na Godgerigte geloof. Bybelse geloof fokus die aandag op God en Sy wil en plan vir jou lewe en dit vra van jou en my ‘n gesindheid van onderwerping, verootmoediging en selfverloëning.

God delegeer Sy gesag

God delegeer Sy gesag aan persone wat as Sy verteenwoordigers optree binne ‘n bepaalde orde. In die eerste plek het God Sy gesag aan Sy eniggebore Seun, Jesus Christus, gedelegeer. Jesus Christus delegeer weer Sy gesag aan Sy kinders in ‘n bepaalde orde. Ons lees onder andere in Mat 28:18-20: “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”

Die Bybel leer vir ons dat alle kinders van die Here ‘n koninklike, priesterlike en ‘n profetiese amp het — binne ‘n bepaalde orde, binne die gesagstruktuur waarbinne jy staan. In gesinsverband, staan die man onder die gesag van Jesus Christus, die vrou onder die gesag van haar man en die kinders onder die gesag van hulle ouers. Werknemers staan onder die gesag van hulle werkgewers, en lidmate onder die gesag van hulle gemeenteleiers. (Mat 15:4; Rom 13:1-7; Ef 5:22-33; Ef 6:1-9; Fil 2:29; 1 Pet 2:13-18; 1 Tim 5:17; 1 Tim 6:1; Tit 2:9.)

In terme van God se gedelegeerde gesag tree die persoon onder wie se geestelike gesag jy staan, namens God op in jou lewe. As jy God se gedelegeerde gesag oor jou lewe verwerp, verwerp jy God se gesag oor jou lewe.

Dit beteken nie dat jy noodwendig in alles moet saamstem met die gesag oor jou en dat hy of sy altyd reg is nie. Dit beteken ook nie dat die Heilige Gees nie direk met jou praat nie, maar die Here praat heel dikwels met jou en my deur iemand, en op ‘n manier wat van ons onderwerping, vernedering en selfverloëning vra. Die oomblik dat jy teen God se gedelegeerde gesag oor jou rebelleer of in opstand kom, sondig jy teen God en blus jy die stem van die Heilige Gees in jou lewe.

Vir hierdie rede is die vyfde gebod, eer jou vader en jou moeder, so belangrik. Hierdie gebod word op ‘n paar plekke in die Bybel beklemtoon. In Deut 27:16 lees ons: “Vervloek is hy wat sy vader of sy moeder verag; en die hele volk moet sê: Amen.” Om jou pa of ma te verag kom neer op die verwerping van hulle gesag en dit bring jou onder ‘n vloek. In Eph 6:2,3 lees ons: “Eer jou vader en jou moeder — dit is die eerste gebod met ‘n belofte — sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.” As jy een of albei van jou ouers se gesag verwerp, of hulle minag, sal jy jou ook nie aan die gesag van God en Sy Woord vir jou lewe kan onderwerp nie.

Wat is die gevolge van rebellie in ‘n kind van die Here se lewe?

Enige vorm van rebellie teen God, Sy gedelegeerde gesag en die gesag van Sy Woord in die lewe van ‘n Christen sal lei tot misleiding en geestelike blindheid. Die rede daarvoor is dat rebellie die werking van die Heilige Gees in die lewe van ‘n Christen blus. Die oomblik dat die Heilige Gees in die lewe van ‘n kind van God bedroef of geblus word, word ‘n deur vir misleiding oopgemaak, en as hierdie persoon volhard in rebellie kan dit daartoe lei dat hy of sy oorgegee word aan misleiding. In 1 Thes 5:19 lees ons: “Blus die Gees nie uit nie.” Rom 1:28 sê: “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, ...” Lees gerus Romeine 1:18-32. Ons lees ook in 2 Thes 2:10,11 dat God mense oorgee aan misleiding: “... omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, ...” Die praktyk bevestig vir ons dat hierdie verse nie slegs van toepassing is op ongelowiges nie, maar ook op sommige belydende Christene.

Wat maak rebellie anders as enige ander sonde? Rebellie impliseer dat dit 'n sonde is waarin jy volhard. Met ander woord, dit is nie slegs 'n sonde wat jy een keer gepleeg het nie -- dit is 'n sonde waarin jy voortdurend voortleef. Daarom word dit rebellie genoem. Dit is nie moontlik om vergifnis van rebellie te ontvang tensy jy jou daarvan bekeer nie. Eintlik is dit waar van elke ander sonde, maar rebellie demonstreer vir ons die gevolg wanneer ons in sonde volhard. Die oomblik wanneer 'n kind van God in een of ander sonde volhard, gaan dit oor tot rebellie teen God en is die gevolge soos ons dit hierbo beskryf het.

Wat is die oplossing?

Daar is slegs een oplossing vir rebellie — verootmoediging en bekering! Dit is ongelukkig nie ‘n populêre oplossing vir die oppervlakkige Christendom van ons dag nie, maar dit is die enigste oplossing wat sal verhoed dat jy eendag voor die regterstoel van Jesus Christus ontnugter word!

Twyfel jy of jy waarlik gered is?

Lees hier wat is die simptome van ware redding.

Lees hier hoe jy vandag gered kan word.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
Leef In Oorwinning