Leef In Oorwinning

Wanneer God nie Antwoord nie

deur
Elmer Grobler

Antwoord God altyd?

In Jer 33:3 sê God: “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.”, en in Psa 50:15 lees ons: “... en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” Beteken dit dat God altyd antwoord wanneer ek roep? Antwoord God altyd elkeen van my gebede?

Het jy al die ervaring gehad dat jy vir mense skryf of boodskappe stuur en hulle antwoord jou nie? Ek beleef dit konstant in my lewe. Ek het al vir verskeie persone en organisasies geskryf van wie ek nooit ‘n antwoord ontvang het nie. Ek het ook al vir baie vriende en kollegas boodskappe gestuur wat my nooit geantwoord het nie. Behalwe dat dit uiters frusterend is, getuig dit van ‘n gesindheid van minagting. As mense jou doelbewus ignoreer omdat hulle nie tyd het vir jou, of dink dat jou boodskap belangrik is nie, is dit is om die minste te sê, onbeskof.

Natuurlik kan ‘n mens nie op elke boodskap wat mense stuur reageer nie. Daar is dalk omstandighede wat verhoed dat mens dadelik kan reageer. Dit is ook ongelukkig so dat baie misbruik maak van jou eposadres en jou “spam” met allerhande gemors. Nou moet jy maatreëls tref om die kaf van die koring te skei. Jy stel dan jou “spam filter” so dat jou program die meeste van die gemorspos na die “spam”-vakkie toe stuur. Ongelukkig kan dit gebeur dat die program sommige belangrike pos verkeerdelik na die gemorspos vakkie toe herlei en jy ’n belangrike boodskap mis.

Het jou boodskap in God se gemorspos vakkie beland?

Het jy al ernstig tot die Here gebid oor 'n saak en Hy het jou nie geantwoord nie? Dit is ‘n moeilike vraag om te beantwoord, nie waar nie. Want miskien voel dit vir jou of God jou nie geantwoord het nie, terwyl Hy jou wel geantwoord het, maar op ‘n heel ander manier as wat jy verwag het. Dit mag egter wees dat jou gebed in Sy gemorspos vakkie beland het — maar ek wil jou verseker, God se “gemorspos filters” maak nooit ‘n fout nie!

Dit is egter ‘n feit dat ‘n enorme aantal gebede in God se gemorspos vakkie beland eenvoudig omdat dit “spam” is. Wanneer ek op die sosiale media sien waarvoor mense alles andere tot gebed oproep, moet ek vir jou sê, dink ek God se gemorsposvakkie is tjok en blok vol! God antwoord slegs gebede wat binne die raamwerk van Sy ewigheidsplan vir die mens, die Kerk en die wêreld is! Daarom sê Jak 4:3: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” (NV) God beantwoord slegs gebede wat volgens Sy wil is, en Sy wil word bepaal deur Sy ewigheidsplan vir die mens, die Kerk en die wêreld, soos ons dit in die artikels, ‘God se Skeppingsdoel vir die Mens’, ‘Die Bruid van Christus - Feit of Fobie?’ en ’God se Doel en Plan vir jou Lewe’, verduidelik het.

Het Jy al vir God Geantwoord?

Ek wil egter in hierdie artikel nie so seer stilstaan by die vraag of God jou geantwoord het nie, maar of jy al vir God geantwoord het? Hoeveel boodskappe het jy al van God ontvang waarop jy nie gereageer het nie? Dit is ongelukkig so dat daar ‘n oorweldigende hoeveelheid gemorspos en “scams” na ons toe kom in die naam van “God” en ”Jesus”, en baie van ons het al ons geestelike “spam filters” so hoog gestel dat daar dikwels belangrike boodskappe van God in ons geestelike gemorspos vakkies beland. Ons het eintlik geestelik so stomp geword van al die “spam” dat ons dikwels die stem van die Here nie hoor nie! Daarom het ons onderskeiding nodig!

Onderskeiding is die groot behoefte van die Christendom van ons tyd! In die eerste plek moet jy kan onderskei tussen jou eie gedagtes en gevoelens, en die stem van die Heilige Gees. Die stem van God kom altyd deur die Woord — die stem van die Helige Gees systap NOOIT die Woord van God nie! Daarby moet ons ook sê die Heilige Gees gebruik nooit die Woord buite die konteks van God se ewigheidsplan vir die mens, die Kerk en die wêreld nie. Sommige misbruik die Skrif om hulle persoonlike doelwitte en aardse begeertes te bevredig. Onderskeiding sal maak dat daar nie belangrike boodskappe van God in ons gemorspos vakkies beland nie. Daarom het ons kennis van die Woord nodig. Lees gerus, ‘Is die Bybel nog relevant vir ons moderne wêreld?

Daar is egter ‘n ander waarheid omtrent God se boodskappe wat ons moet verstaan. Om God se boodskap te kan hoor moet ek ‘n gees van onderworpenheid, nederigheid en verootmoediging hê. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (Jak 4:6.) God praat dikwels nie deur belangrike, beroemde, begaafde of welsprekende persone nie — maar deur eenvoudige, nederige, ongekwalifiseerde, toegewyde boodskappers. God het heel dikwels vir jou ‘n boodskap deur die persoon van wie jy dit nie wil hoor nie, as minder belangrik beskou, of wat nie volgens jou kwalifiseer as God se boodskapper nie. As jy nie jouself onderwerp aan die gesag van die Bybel as die onfeilbare Woord van God, sowel as God se gedelegeerde gesag oor jou lewe nie — jou man, jou ouers, jou geestelike leiers, jou onderwyser, of selfs die regering nie, sal jy sekere boodskappe van God nie hoor nie. Dit sal tussen jou geestelike gemorspos beland. Wanneer iemand hoogmoed of opstandigheid in sy of haar hart het, praat die Here dikwels met so ‘n persoon juis deur daardie persoon wat hy of sy minag!

God Roep Jou!

Die Here Jesus Christus roep elke mens op aarde! Eerstens, roep Hy elkeen tot bekering. Het jy al Sy stem gehoor? As jy wat hier lees dalk nog nie die getuienis van wedergeboorte het nie, volg hierdie skakel waar ek vir jou stap vir stap verduidelik hoe om weergebore te word. Tweedens, roep Hy elke weergebore Christen tot heiligmaking en ‘n oorgegewe lewe. Het jy al geantwoord op Sy roepstem? Het jy al jou lewe ten volle en onvoorwaardelik aan Jesus Christus oorgegee vir Sy doel en plan met jou lewe? Het jy ‘n getuienis dat jy met die Heilige Gees van God vervul is? Is jy ten volle tot God se beskikking vir Sy doel en plan vir jou lewe, die Kerk en die wêreld? God wag op jou antwoord! Gaan kyk gerus of hierdie boodskap van God nie dalk in jou geestelike gemorspos vakkie beland het nie. Jy sal God se boodskap by hierdie skakel kry.

God Roep Jou tot Diens!

Die Here roep elkeen van Sy kinders tot Sy diens — daar is geen uitsondering nie! As jy sê jy is ‘n kind van God, is jy ‘n geroepene! Die vraag is net, het jy al God se roepstem gehoor? Sommige roep Hy tot voltydse diens, andere tot deeltydse diens — maar Hy roep almal! Liewe Christenvriend, jou eerste en primêre roeping is om ‘n sendeling te wees! As jy ‘n Christen is, is jy ‘n sendeling! ALLE Christene is sendelinge! As jy nie ‘n sendeling is nie, is jy nie ‘n Christen nie — so eenvoudig soos dit!

Jesus Christus het elkeen van Sy volgelinge gestuur om ‘n getuie vir Hom in hierdie wêreld te wees. ‘n Gestuurde is ‘n sendeling, en ‘n sendeling is ‘n gestuurde. Nadat die Here my geroep het in Sy diens, het ek geweet van vandag af is ek ‘n sendeling — ‘finish en kla’! Ek was daarna by besigheidsprojekte betrokke om ons finansieel te help onderhou en somtyds het ek gevoel soos ’n voltydse sakeman. Elke keer wanneer ek ‘n vorm moes invul waar my beroep gevra is het ek egter ingevul, “Sendeling”, want ek het geweet ek is eerstens ‘n sendeling, tweedens ‘n sakeman.

Elke Christen is gestuur om minstens die volgende te doen:

1. Om daar waar God my geplaas het ‘n getuie vir Hom te wees.

2. Om deur my gebedslewe betrokke te wees by die uitdra van die Evangelie na die wêreld

3. Om met ‘n deel van my finansies betrokke te wees by die uitdra van die Evangelie na die wêreld

4. Om ‘n deel van my tyd tot God se beskikking te stel vir die uitdra van die Evangelie na die wêreld

Die vraag is, waar en hoe wil Hy jou gebruik? Wel, ek kan nie hierdie vraag vir jou beantwoord nie, maar as jy onvoorwaardelik tot Sy beskikking is, sal Hy jou daarin lei. Ek kan jou egter help met ‘n baie belangrike oorweging. Die Here roep ELKE Christen om, bo en behalwe jou plaaslike gemeente en ander sendingbetrokkenheid, ook doelgerig betrokke te wees by die bereiking van die Ongeëvangeliseerde Wêreld. (Han 1:8)

Die Ongeëvangeliseerde Wêreld is daardie gedeelte van die wêreld wat grotendeels ontoeganklik is vir die Evangelie en waar die Christendom verbode is - Handelinge 1:8 noem dit die 'Uiterste van die Aarde'. Groot dele van die Onbereikte Wêreld kan effektief, en in baie gevalle, slegs bereik word met behulp van die internet en digitale media. Lees gerus die artikel, ‘Die 10-41-Venster’, vir meer inligting.

Wil God jou dalk nie antwoord nie?

Wag jy dalk op God vir ‘n antwoord? Miskien wag Hy op jou vir ‘n antwoord! Die groot vraag is — het jy al op God se roepstem vir jou lewe geantwoord? Of is Sy boodskap aan jou dalk in jou gemorspos vakkie? As jy hierdie boodskap tot hiertoe gelees het, wil ek vir jou sê hierdie is ‘n boodskap van God aan JOU! Die Here wil JOU gebruik om die Onbereikte Wêreld te help bereik met die Evangelie, want dit is die belangrikste werk van die Kerk en dit is die hooftaak waarmee God besig is in die wêreld, omdat Jesus Christus haastig is om Sy Bruid te kom haal — en Sy Bruid verteenwoordig sal word deur elke volk, stam en taal! Volg die skakel hieronder om te hoor of die Here dalk 'n boodskap vir jou het.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

Leef In Oorwinning