Leef In Oorwinning

Geloof In Die Proefbuis

deur
Elmer Grobler

Het jy ooit as 'n jong kind die verleentheid ervaar deur aan 'n ander oom se broek vas te klou terwyl jy gedink het dis jou pa? Die wêreld is vol stories oor verwarde identiteit, en in die Christendom van ons tyd is dit geen uitsondering nie. Ons leef in 'n tyd van toenemende misleiding en afvalligheid -- in absolute harmonie met die profesieë van die Bybel oor die laaste dae voor Jesus se wederkoms. Daarom het ek onder andere, die artikel, 'Die Ander Jesus', geskryf.

Die doel van 'Geloof In Die Proefbuis' is om aan die fondament van jou geloof te skud -- met die uitsluitlike doel om te verseker dat jou geloof nie op 'n valse fondament gebou is nie.

Ek wil graag seker maak dat jy nie, geestelik gesproke, aan 'n ander oom se broek vasklou nie. Ek wil aan die hand van twee artikels aan die fondament van jou geloof skud -- let wel, dit is nie 'n vyandige skud nie, dit is liefdeskud! As die fondament van jou geloof verkrummel met die lees van hierdie artikels, beskou dit as 'n liefdesdaad van Jesus Christus wat na jou toe uitreik om die fondament van jou geloof te herstel -- om jou na jou regte pa toe te lei. Die eerste artikel is: 'Jou Sonde Is Dalk Nie Vergewe Nie!' Jy kan die boodskap by hierdie skakel lees. Die ander artikel waardeur ek aan die fondament van jou geloof wil skud, is 'Geloof In Die Proefbuis'. Hierdie artikel het ek oorpronklik as 'n ope brief aan die adres van my kinders gerig en die oorspronklike titel was:

‘n Brief Aan My Dogters - met 'n kopié aan my seuns

My liefste dogters, ek is baie lief vir julle en julle het elkeen ‘n baie spesiale plekkie in my hart. Ek is trots op julle en ek dank die Here vir die pragtige dogters wat Hy vir my gegee het. Wanneer ek aan julle dink, gaan my gedagtes onwillekeurig na die verhaal van Ester in die Bybel — ‘n dogter wat ‘n koningin geword het. Net soos Ester is jy ook bestem om ’n koningin te word. As jy in 'n lewende verhouding met Jesus Christus staan, is jy ’n prinses van God — ‘n koningin in wording. God is besig om jou voor te berei om deel van die bruid van Jesus Christus te wees met Sy wederkoms.

Soos Mordegai in die verhaal van Ester, en elke Christenpa, het ek ook ‘n verantwoordelikheid teenoor die Here ingevolge my roeping as profeet en priester van my huis, en daarom die verteenwoordiger van God in jou lewe, om jou te lei, te vermaan en te leer in die vrese van die Here — om jou voor te berei vir koninginskap. Ek wil graag enkele gedagtes met jou deel oor jou identiteit as Christenmeisie en -vrou — jou identiteit as prinses van God.

Dit wat ek vir jou wil sê het ek al voorheen met jou gedeel, onder andere in my artikel, 'Die Christen Se Indentiteitskrisis', maar miskien het ek dit nog nooit so mooi aan jou verduidelik nie. Dit is ook nie slegs op jou van toepassing nie, maar op elke Christenvrou en -dogter — ook nie slegs vroue en dogters nie, maar elke Christenpa, -man en -seun — daarom skryf ek aan jou in die vorm van ‘n ope brief. Ek wil graag hê dat jy moet weet, wat ek vandag met jou wil deel, kom uit ‘n hart van opregte liefde — in die eerste plek, my liefde vir Jesus Christus, en tweedens my liefde vir jou. Dit is my gebed dat jy my hart sal verstaan en dat jy jou hart vir my sal oopmaak.

Jy gaan miskien net-nou teensinnig verder lees aan hierdie brief, maar ek vra jou om my uit te luister. Lees asseblief hierdie brief tot op die einde — eers dan sal jy die volledige prentjie sien. Ek belowe jou — dit sal die moeite werd wees! Ek het vir weke aan hierdie paar bladsye geskryf en vir twee jaar met die Here geworstel voor ek dit gepubliseer het. Ek het elke woord wat hierin staan twee keer geweeg op die skaal van God se woord. Dan het ek eers weer daaroor gaan bid en vir die Here gevra, “Here, moet ek dit regtig só sê?”

My vorige ope brief wat ek aan jou geskryf het was, ‘Hoe om jou ware doel en roeping in die lewe te vind’. Ek vertrou dat jy dit gelees het. As jy dit gelees het sal jy die verband van hierdie boodskap goed verstaan. Die onderwerp van hierdie skrywe het egter spesifiek met jou as dogter en vrou te doen — en dit gaan oor jou kleredrag. Nou weet ek presies wat jy dink en hoe jy voel. Jy hou nie daarvan dat iemand met jou oor jou kleredrag praat nie. Ek weet — en vir baie jare in my lewe het ek self daarteen gerebelleer wanneer andere dit doen! Maar ek vra jou, gee my ‘n kans om my saak te stel. Wat jy daarmee doen is jou eie saak — en ek belowe ek sal hierna nooit weer met jou oor jou kleredrag praat nie.

Jou identiteit as Christen

Waarom is kleredrag hoegenaamd ‘n kwessie in Christenskap? Waarom is kleredrag so belangrik? Waarom nou kleredrag uitlig asof dit ‘n fundamentele Bybelse kwessie is? Kleredrag is sekerlik nie die enigste, of selfs belangrikste saak met betrekking tot my identiteit as Christen nie. Waarom nie liewer praat oor liefde vir God en my medemens nie? Dit is presies waaroor ek wil praat! Daar is egter ‘n faset van ons liefde vir God en ons medemens wat baie Christene, en moontlik ook jy, nie verstaan nie, naamlik, die uitleef en uitdra van ons getuienis as Christen. Dit is hierdie saak wat ek graag aan jou wil verduidelik.

Jare gelede toe ek nog in die besigheidsbestuurswêreld was, moes ek op ‘n keer personeel aanstel. Onder andere het ‘n man aansoek gedoen vir die pos, wat sonder ‘n das vir die onderhoud opgedaag het. Voor ek nog met hom 'n onderhoud gevoer het, het ek klaar besluit hy is nie geskik vir die pos nie! Goed, ek weet tye het verander — maar waarom dink julle het ek hierdie man afgekeur vir die pos op grond van sy voorkoms? Die rede was omdat hy die maatskappy se verteenwoordiger moes wees by die instansies met wie ons sake gedoen het — en dit was belangrik dat die beeld wat hy as persoon sou skep by ons kliënte, in harmonie moes wees met die professionele beeld wat ons as maatskappy wou uitdra.

Die heel eerste kontak wat die wêreld met jou as mens het, is deur jou voorkoms — nog voordat jy ‘n woord met enige iemand gepraat het. Deur net na jou te kyk het mense reeds ‘n opinie van jou gevorm — en as hierdie uiterlike opinie bots met wie jy van binne is, het jy ‘n probleem met jou getuienis as Christen. ‘n Christen (en elke ander mens) word gelees. Daarom staan daar in 2 Kor 3:2,3: “Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart.” Ek wil egter nie verder uitbrei op hierdie onderwerp nie aangesien ek reeds hieroor geskryf het in my artikel, ‘Die Christen se Identiteitskrisis’.

Jou voorkoms verraai jou hart

Liewe dogter en vrou, jou voorkoms is 'n getuienis van jou hart. Jou ‘skinny pants’ verraai jou hart! Daar is natuurlik baie ander voorbeelde van kleredrag wat die toestand van jou hart verraai. Elke mode wat jou 'sexy' laat lyk val in hierdie kategorie. Ek gaan egter in hierdie artikel slegs praat van ‘skinny pants’ as verteenwoordigend van elke ander vorm van ‘sexy’ kleredrag. Ek weet — almal dra dit! Dit is juis die probleem met die mode-wêreld — almal dra dit!  Dit is waarom dit 'mode' genoem word.

‘Wat is nou so ‘n groot sonde aan my kleredrag — kyk net hoe pragtig lyk hierdie dogters op die foto hiernaas?’ -- wonder jy dalk. Laat ek dit aan jou verduidelik. Ek praat met jou as ‘n man — jou kleredrag is ‘n struikelblok vir seuns en mans omdat dit verleidelik is. Mans word seksueel geprikkel deur dit wat hulle sien — terloops, dit is eintlik waarom jy so aantrek, nie waar nie? Jy wil gesien word! Wanneer ‘n man wat nie die Here ken nie, na jou kyk, skop sy ongeheiligde verbeelding in werking en voltooi die prentjie vir hom. Jou kleredrag gee aanleiding tot sonde in sy gedagtewêreld, wat later kan oorgaan in ‘n sondige daad.

Laat ek dit vir jou verduidelik aan die hand van ‘n illustrasie wat jy goed sal verstaan. Jy is baie lief vir sjokolade en dit het daartoe bygedra dat jy gewig opgetel het. Jy het egter daarin geslaag om jou liefde vir sjokolade te oorwin en jou oorgewig onder beheer gebring. Jou vriendin is egter ook baie lief vir sjokolade en sy bied elke dag vir jou sjokolade aan. Dit is presies wat jou kleredrag met mans doen — met een groot verskil — jou vriendin speel met sjokolade, maar jy speel met sonde! Jou vriendin smokkel met jou gewig — maar jy smokkel met lewens vir wie Jesus Christus gesterf het aan die Kruis!

Jou kleredrag sê veel meer van jou as wat jy besef

Liewe dogter en vrou, jy besef dit nie, en jy verstaan dit moontlik ook nie — maar jou kleredrag getuig van rebellie teen God en Sy Woord. Soos ons reeds hierbo genoem het, dra jou kleredrag 'n boodskap uit -- dit is 'n getuienis van wie jy is. Jou 'skinny pants' getuig van rebellie in jou hart. Ek weet jy stem moontlik nie saam nje en jy sien dit waarskynlik nie so nie. Jy moet egter onthou dat vir 'n Christen gaan dit nie oor hoe jy oor jouself voel en dink nie, maar wat andere in jou sien. Dit gaan oor jou getuienis in hierdie wêreld -- want dit is die Here se primêre en hoogste doel vir jou hier op aarde.  Jou verleidende kleredrag is ‘n simbool of teken van jou rebellie teen God se doel en plan vir jou lewe! Jy mag baie liefdevol en godsdienstig wees. Jy mag selfs elke dag bid en Bybellees, maar jou ‘skinny pants’ skree uit: ‘Los my uit — ek wil ek wees en leef soos ek wil!’ Om dit anders te stel -- jou 'skinny pants' getuig dat jou 'Eie Ek' nog op die troon van jou lewe sit.

Ek wil graag seker maak dat jy hierdie saak mooi verstaan, want ek weet dat daar baie verwarring onder Christene oor hierdie onderwerp bestaan. Dit is nie jou kleredrag wat die sonde is nie — dit is die rebellie in jou hart, waarvan jou kleredrag getuig, wat die sonde is! Jy sê, maar jy is nie ‘n rebel nie — jy is ‘n wonderlike voorbeeldige meisie met hoë morele standaarde. Die Bybel sê in Jer 17:9: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” Lees gerus verder.

Met jou verleidelike kleredrag verbreek jy agt van God se tien gebooie

  • Jy verbreek die eerste gebod wat sê dat jy die Here jou God moet liefhê met jou hele hart, terwyl jou kleredrag wys dat jy eintlik jouself meer liefhet as vir God.
  • Jy verbreek die tweede gebod wat sê dat jy nie ‘n beeld mag maak en aanbid nie, terwyl jy die beeld van jou liggaam aan die wêreld vertoon, wat deur sommige wat na jou kyk vereer word.
  • Jy verbreek die derde gebod wat jou verbied om die Naam van die Here te misbruik terwyl jou kleredrag getuig van rebellie teen God.
  • Jy verbreek die vyfde gebod wat sê dat jy jou aan die gesag van jou ouers moet onderwerp en hulle moet respekteer en gehoorsaam.
  • Jy verbreek die sesde gebod wat jou verbied om moord te pleeg, terwyl jy sommige hel toe stuur wat in sonde val as gevolg van jou kleredrag.
  • Jy verbreek die sewende gebod wat jou verbied om seksualiteit buite die huwelik te bevorder. Jy pleeg egbreuk, want jy nooi elke ander man wat na jou kyk uit om in sy gedagtes met jou egbreuk te pleeg.  
  • Jy verbreek die negende gebod wat jou verbied om valse getuienis af te lê. Jou kleredrag getuig van ‘n sondige lewe terwyl jy jouself ‘n Christen noem.
  • Jy verbreek die tiende gebod wat ons verbied om iemand anders se vrou te begeer, terwyl jy deur jou kleredrag aanleiding daartoe gee dat ander mans jou begeer.

Maar ons staan nie meer onder die wet nie ...

As jongman wat op ‘n stadium van my lewe gerebelleer het teen, wat ek vertolk het as, preutse en outydse Christelike standaarde, het my oorlede pa my ook gefronteer met die Woord. My antwoord aan hom was dat ons nie meer onder die wet staan nie, maar onder die genade. Sy antwoord aan my het my egter tot besinning geruk. Hy het my as volg geantwoord: “Alle mense in die wêreld is óf onder die wet, óf onder genade — as jy nie onder genade is nie, is jy onder die wet!” Dit beteken dat, as jy onder genade is, is die bewys daarvan dat jy begeer om God te behaag en Sy wet te onderhou deur die Heilige Gees wat in jou woon — en as jy nie onder genade is nie, is jy onder die wet en sal jy deur die wet geoordeel word! Vir 'n meer in diepte behandeling van die vervulling van die wet, lees gerus  my artikel, ‘Die Kerk se Identiteitskrisis’.

Die Bybel sê in Rom 7:7: ”Wat is dan ons gevolgtrekking? Dat die wet van Moses sonde is? Beslis nie. Inteendeel, ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.”” (NAV)

Deur jou verleidende kleredrag wys jy dat jy nie jou eie en andere se inherente sondige toestand, gedagtewêreld en emosie verstaan nie. Daarom moet ’n mens tot bekering kom om reddende geloof te kan uitoefen. Geloof in Jesus Christus sonder bekering, het geen inhoud en betekenis nie. Dit is nie moontlik om te sê jy glo in Jesus Christus sonder dat jy van jou sonde verlos is nie — want dít is wat Jesus kom doen het!

Miskien dink jy ek is ‘n Fariseër

Sommige mag dalk sê, maar Jesus het Hom met sondaars vereenselwig — Jesus het sondaars lief. Jesus het nie die vrou wat in owerspel betrap is en deur die Fariseërs gestenig wou word, veroordeel nie, maar vrygespreek. Dit is waar dat Jesus sondaars liefhet — maar Hy het Homself nooit met sonde vereenselwig nie! Inteendeel, Hy haat sonde! Jesus het met Sy eie lewe vir sonde betaal en Hy het vir die owerspelige vrou gesê: “Gaan en sondig nie meer nie.” Jesus het gekom om jou van jou sonde te verlos! Jesus sê ook vir jou: “Ek vergewe jou — gaan en wees vir my ‘n getuienis van reinheid! Jy is My prinses — My koningin in wording!”

'n Vrou wat waarlik gered is, van sonde verlos is en die Evangelie verstaan, wil nie met die sondige wêreld verbind word en so lyk nie!

Voel jy ek is veroordelend?

Nee, ek veroordeel jou gladnie! Ek beoordeel jou net. Ek beoordeel die getuienis van jou liggaamstaal -- op dieselfde manier dat ek beoordeel wat in jou hart aangaan deur jou woorde en dit waaroor jy praat -- en jy my. Ek beoordeel jou aan die hand van die Woord van God om jou te help om by die waarheid van die Woord uit te kom! Daar staan in 2 Kor 13:5: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.” (NAV) Liewe dogter, vrou, seun, man, die doel van hierdie artikel is om aan die fondament van jou geloof te skud sodat jy kan seker maak dat jou geloof nie op 'n valse fondament berus nie. As jy nie absoluut seker is dat jy gered is nie, volg asseblief hierdie skakel.

As jy glo dat jy gered is, het ek ‘n finale woord vir jou.

Is jy ‘n struikelblok vir andere?

Liewe vrou en jongdame, as jy ‘n getuienis van wedergeboorte en redding het, en jy trek so aan, moet ek vir jou sê is jy ‘n struikelblok vir andere! In plaas daarvan dat jy ‘n getuie is vir Jesus Christus waartoe jy geroep is, is jy ‘n struikelblok vir die Evangelie — en is JY deel van die oorsaak dat minstens 66,000 mense in die wêreld elke dag sonder Jesus Christus sterf! Die ongeredde wêreld kyk na jou en hulle dink jy is een van hulle. In plaas daarvan dat jou voorkoms ‘n brief van Christus is wat hulle van hulle sonde moet oortuig, sus jou voorkoms hulle aan die slaap in hulle sonde!

As jy ‘n prinses van God is, moet jy soos ‘n prinses lyk

Let wel, jy hoef nie onversorg en soos ’n grafsteensanger, spook of ‘n non te lyk as Christenvrou nie! Daar is Christenvroue wat heeltemal na die teenoorgestelde uiterste beweeg. As jy onversorg en soos die dood lyk, is jy ook besig om ‘n verwronge getuienis as Christenvrou na buite uit te dra. Dan is jy ook ‘n struikelblok vir baie jong meisies wat dink hulle moet soos jy lyk as hulle tot bekering kom! Dit is moontlik om mooi en elegant aan te trek en jouself te versorg, sonder om jou liggaam te vertoon en ‘sexy’ te wees. Die woord ‘sexy’, hoort nie in die woordeskat van ‘n Christen nie!

Moet egter nie toelaat dat die duiwel jou besig hou met ‘nonsense’ nie. Die duiwel spring op en af van blydskap wanneer hy dit reggekry het om jou fokus te verwyder van die sentrale boodskap van die Evangelie. Die duiwel gee nie om hoe jy lyk nie, solank hy net jou getuienis as Christenvrou kan vernietig — solank jy net nie effektief is om andere met die Evangelie te bereik nie! Solank jy net nie soos ‘n prinses van God lyk nie!

As die duiwel jou nie duskant die kruin van geestelike bruikbaarheid en vrugbaarheid kan hou nie, sal hy jou probeer oor die kruin stoot, anderkant af — net solank jou getuienis geen impak maak vir die Koninkryk van God nie. Die duiwel sal jou so besig hou met die voorkoms-sindroom dat elke vrou wat mooi lyk en haarself versorg vir jou ’n struikelblok is. Solank jy net kan help om groter verdeeldheid onder Christene aan te blaas en so min as moontlik siele te wen vir Jesus Christus!

Het die kerk sy sout verloor?

Die wet van God is vir baie kerke vandag iets wat verby gegaan het. Daar word nie meer oor sonde en die gevolge daarvan gepreek nie. In baie kerke vandag word hoofsaaklik oor liefde, lewe-spreek, en positiewe geloof gepreek, terwyl die kerk Sondae soos ‘n rock-konsert lyk. Mans en vroue kom met denim-jeans, en vroue met ‘skinny pants’ en mini rokkies kerk toe sodat daar amper geen verskil is tussen Saterdagaand se partytjie en Sondag se kerkdiens nie! Hoe tragies dat sommige kerke geen standaard meer het nie!

Phylicia Masonheimer ('n pastoor se vrou) skryf in haar artikel, 'Modesty, Yoga Pants and 5 Myths You Need to Know': "The issue here is not that I wore yoga pants. The issue isn’t yoga pants at all, but the principle of the matter. The pants are skin tight. You can see every curve of my lower body. Not only is it attractive to Mr. M, but from several informal interviews, comments and input from other men, it’s a recurring blind spot with Christian women everywhere. It’s about how hot I look, or how I want to dress, regardless of what anybody thinks."

Kyle Donn skryf in sy artikel, ‘The Dangerous Allure of “ Sexy Christianity’. “..., “I’ve got style…and heart.” And when our “style” starts to get a little too close to our “heart,” our faith begins to become as skin-deep as the skinny jeans we like to wear. … Because Sexy Christianity feels pretty good until someone throws a stone at you…or starts a thread of gossip about you…or sends you hate mail…or bullies your kid. … Our culture has hijacked our faith, given it a make-over and has begun selling it for cheap.” … (For the apostles) the Gospel was the hill they would literally die on, and there was nothing cool about it. The world hated them for it. Here is where “Sexy Christianity” starts to crumble. … When a believer is more interested in the idea of loving Jesus than actually loving Jesus, then that is not Christianity. … And we ought to wage a war of wrath upon it — mortifying, dismembering and crucifying it, and then putting it in a tomb where it belongs. … As Martin Luther once said, “A religion that gives nothing, costs nothing and suffers nothing is worth nothing.”

Ek wil saamvat. Ek hoor jy sê Christenskap is ‘n saak van die hart — nie van uiterlike voorkoms nie. Goed en wel, maar jou ’skinny jeans’ en mini rokkie vertel boekdele wat in jou hart aangaan! Ek hoor jy sê, maar ek kan na Jesus toe kom net soos ek is — ja maar jy kan nie by Hom bly net soos jy is nie! Jy kan op ‘n Sondag kerk toe gaan met jou ‘skinny jeans’ net soos jy is — maar as jy aanhou om so kerk toe te kom, het jy of nog nooit in die kerk waar jy besoek die Evangelie gehoor en gesien in die mense rondom jou nie, of jy is verblind en verhard deur jou sonde!

'n Openbaring van jou hart

Ek het aan die begin gesê jy sal die volledige prentjie eers teen die einde sien. Indien hierdie boodskap 'n gevoel van opstandigheid of rebellie in jou hart veroorsaak, het ek my doel bereik. Jy mag hierdie stelling vreemd vind. Waarom sou ek rebellie in jou hart wil ontketen? Wel, jy sien, want as hierdie boodskap dit gedoen het, is dit waar die probleem lê! Die probleem lê nie alleen by jou kleredrag nie. Die probleem wat ek wil aanspreek is die toestand van jou hart -- en hoe jy reageer op hierdie boodskap, openbaar dit!

Het hierdie boodskap 'n opstandigheid of rebellie in jou binneste ontketen? Weet dan dat God besig is om die toestand van jou hart aan jou te openbaar! Daardie opstandigheid of rebellie wat jy ervaar is die simptoom van 'n onheilige hart. Jy mag miskien dink dat ek die oorsaak van jou probleem is, maar daardie opstandigheid wat jy ervaar is die werklike gevoel wat in jou hart leef teenoor God.

Daar sal sommige wees wat sal oordeel dat ek wetties is. Daar sal sommige wees wat sal oordeel dat ek 'n doodspreker is. Daar sal selfs sommige wees wat sal oordeel dat ek 'n vloek oor jou uitspreek. Moenie jou aan die neus laat lei deur misleidende retoriek nie. 'Moenie aan 'n ander oom se broek vasklou nie.' Daar is slegs een reaksie wat jou sal vry maak -- dit is verootmoediging! Verootmoedig jou voor God. Verootmoedig jou by die voet van die Kruis, in geloof op die volmaakte verlossingswerk van Jesus Christus. Laat hierdie toestand van jou hart jou uitdryf na God toe en soek Hom met jou hele hart. Vertrou Hom om jou hart te reinig van alle sonde en rebellie, en jy sal 'n oorvloedige lewe deelagtig word wat jou hoogste verwagtinge sal oortref!

As jy verlang na 'n aanraking van God -- as jy begeer dat die Here moet afbuig na jou toe en vir jou 'n wonderwerk doen -- as jy soek na 'n ingryping van God in jou lewe -- as jy verlang na die Here se glimlag oor jou lewe, is daar slegs EEN reaksie van jou kant wat dit sal te weeg bring -- verootmoediging! Nie ontkenning nie, nie weerstand nie, nie selfverdediging nie, nie positiewe geloof nie, nie lewe-spreek nie, nie geloof in jouself nie - slegs verootmoediging! "En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie." Deut 8:2. In Psa 51:16,17 skryf Dawid: "'n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; 'n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal 'n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God." (NAV)

‘n Oorvloedige, doelgerigte lewe is jou erfenis

Liewe dogter en vrou, seun en man, Jesus Christus is die Fontein van ware lewe. Jesus nooi jou uit om te kom drink by die fontein van die lewe. Jesus sê vir jou: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Joh 7:37.  

Waarom wil jy drink by die gebarste waterbakke van die wêreld? Jy sal drink en drink maar nooit versadig word nie! As jy eers by die fontein van die lewe gedrink het, sal jy jou aptyt en dors vir die plesiere en bevrediging van die wêreld verloor. As jy by Jesus Christus se fontein van lewende water kom drink sal dit jou lewe vul met ‘n onuitputlike versadiging.

Jesus Christus nooi jou uit na ‘n lewe van intieme gemeenskap met Homself en ‘n oorvloedige, doelgerigte lewe van oorwinning oor sonde, Satan en die wêreld! As jy eers hierdie lewe gesmaak het sal jy nooit weer terug verlang na die standaarde van die wêreld en die vleispotte van Egipte nie. As jy meer wil weet omtrent die oorwinningslewe wat elke Christen se erfenis is in Jesus Christus, lees asseblief 'Word Vry!'

Moenie vergeet om ook 'Jou Sonde Is Dalk Nie Vergewe Nie!', te lees nie.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
Leef In Oorwinning