Leef In Oorwinning

Die Tien Belangrikste Dinge In Die Lewe Wat Elke Mens Moet Weet

deur
Elmer Grobler

As my kinders vir my sou vra, wat is die tien belangrikste dinge in die lewe wat ons moet weet, sou ek hulle as volg antwoord.

Een van die rykste, welvarendste en suksesvolste mense in die geskiedenis van die wêreld, het die volgende gesê:

“Ek was die President van die belangrikste land ter wêreld en my kantoor was in die belangrikste stad van die wêreld. Dit was my lewensfokus om die doel van die lewe en alles wat ‘n mens in hierdie wêreld kan bereik na te vors en na waarde te bepaal. ... Ek het alles in hierdie wêreld bestudeer en tot hierdie gevolgtrekking gekom: dit is alles ‘n mors van tyd en ‘n gejaag na wind!”

Die persoon wat hierdie uitspraak gemaak het is Koning Salomo, in Prediker 1:12-14, weergegee in my eie woorde. Wat belangrik is om te weet, is dat hierdie ervaring van Salomo tipies is van elke mens op aarde, behalwe vir die onderstaande tien belangrikste dinge in die lewe wat elke mens moet weet.

1. Die Bybel is die geïnspireerde Woord van God en die hoogste en finale gesag vir geloof en lewe.

Die Bybel is die enigste betroubare bron van waarheid omtrent God, die skepping en die ewigheid in die wêreld! As jy daaraan twyfel en die prioriteit van die Bybel en sy boodskap in jou lewe verwaarloos, is jy op ‘n afdraande pad na ‘n onseker toekoms wat sal eindig in ’n draaikolk van geestelike, emosionele en verstandelike hopeloosheid en duisternis! Moet jou nie laat mislei deur sogenaamde geleerde skeptici nie. Die Bybel het selfs vir hulle 'n antwoord in 1 Kor 1:18-21. Daar is geen ander bron van waarheid in die wêreld met betrekking tot die doel van hierdie lewe, die lewe na die dood en die ewigheid, waarop jy kan staatmaak nie -- nie eers Ateïsme nie! Volg hierdie skakel om meer te lees oor die redes waarom jy die Bybel kan glo.

2. Die basiese vereiste om die Bybel reg te verstaan is om die sentrale en wesenlike boodskap van die Bybel te verstaan.

Om dit te verstaan moet ‘n mens die Bybel as ‘n geheelboodskap van voor tot agter lees en bestudeer — en nie slegs die mooi gedeeltes, of ‘n stukkie hier en ‘n stukkie daar nie. Die Bybel is geskryf oor ‘n tydperk van tussen 1,400 en 1,800 jaar deur 40 verskillende skrywers, en bestaan uit 66 boeke, 1,189 hoofstukke en 31,240 verse — wat bestaan uit een samehangende boodskap — met elke boek en hoofstuk wat ’n onmisbare deel vorm van die geheelboodskap. Die Bybel bestaan uit God se progressiewe openbaring van ewige waarheid aan die mens, waarvan die kernboodskap saamgevat kan word in Sy doel met die skepping.

Die doel van die skepping is om 'n nageslag vir God en 'n Bruid vir Sy Seun te verwek na Sy beeld om saam met Hom oor die skepping te heers in ewigheid — en dit is waaroor die HELE geskiedenis van die wêreld gaan.

Die geskiedenis van die wêreld kan in vyf hooftemas saamgevat word, tewete:

1. Die skepping

2. Die sondeval

3. God se verbond met Israel — die Ou Verbond

4. Die eerste koms van die Messias, Sy kruisiging en opstanding — die Nuwe Verbond

5. Die tweede koms van die Messias en Sy heerskappy.

Om meer hieroor te lees volg hierdie skakel.

3. As Jesus Christus nie die sentrum van jou lewe is nie, is jou lewe soos ‘n skip op die see sonder ‘n roer en ‘n anker — jou bestemming is die rotse.

Jy sal nooit ware vervulling in hierdie lewe vind buite Jesus Christus se skeppingsdoel en -plan vir jou lewe nie.

God het die mens vir Sy doel geskape en elke mens word gebore met ‘n leegte in sy binneste wat net deur God gevul kan word. Om nie die boodskap van die Bybel en die Evangelie van Jesus Christus ernstig op te neem en dit jou lewensprioriteit te maak nie, is uiterste dwaasheid! As jou lewe nie ewigheidsgefokus is nie, is jy in ‘n doodloopstraat! As jy meer hieroor wil lees, volg hierdie skakel.  

Omdat jy êrens in die verlede ‘n sondaarsgebed gebid het en Sondae kerk toe gaan is geen waarborg dat jy gered en gereed is vir die ewigheid nie! As jou primêre fokus op hierdie lewe gerig is, moet jy weet jy is nie gereed vir die ewigheid nie! Dan moet jy tot bekering kom! Maak absoluut seker dat jy weergebore is! As jy nie 'n getuienis van wedergeboorte het nie, is jy verlore en oppad na 'n ewige verdoemenis. Niemand sal in die hemel kom, en niemand kan in ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus staan tensy jy weergebore is nie! Wedergeboorte beteken dat jy ‘n nuwe geestelike lewe ontvang het — en hierdie nuwe geestelike lewe is ewigheidsgerig! Elke persoon wat weergebore is, weet dit omdat hy of sy die getuienis van die Heilige Gees ontvang het dat hy of sy weergebore is. Volg hierdie skakel om meer te lees oor wedergeboorte.

4. Die Wet is in Jesus Christus vervul — maar nie opgehef nie!

Alle mense is of onder die wet, of onder genade. As jy nie onder genade is nie, is jy onder die wet en sal jy deur die wet geoordeel word! As jy onder genade is, is die wet op die tafel van jou hart geskryf en sal jy die wet wil onderhou!

Dit is van wesenlike belang dat jy hierdie waarheid sal verstaan om nie in ‘n web van misleiding vasgevang te word nie. Die wet bestaan uit drie elemente — die Morele Wet, die Seremoniële Wet en die Juridiese– of Strafwet. Jesus Christus het die Strafwet volkome vervul deur die straf vir oortreding van die wet op Hom te neem aan die Kruis van Golgota. Jesus Christus het ook die Seremoniële Wet kom vervul deur Homself as die volmaakte Paaslam te gee as volkome offer vir die sonde. Jesus Christus het ook die Morele Wet kom vervul deur Sy oorwinning oor sonde en die satan met Sy opstanding uit die dood. Deur geloof in Jesus Christus kom skryf Hy nou God se Morele Wet op die tafel van elke weergebore kind van God se hart. Om meer oor hierdie onderwerp te lees, volg hierdie skakel.

5. Jesus Christus het ‘n spesiale doel, plan en roeping vir jou lewe en Hy vra ‘n algehele oorgawe van jou hele lewe aan Hom.

Die Bybel noem dit heiligmaking. Daar staan in 1 Thes 4:3: "Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; ..." Jesus Christus is nie tevrede met ‘n halfhartige oorgawe nie. Jesus Christus wil jou herskep en gebruik vir Sy ewigheidsdoel.

Hy het ‘n baie spesiale taak vir jou in hierdie lewe wat slegs jy kan vervul.

Kan ‘n mens in die hemel kom met ‘n halfhartige oorgawe? Ek weet nie, maar wat ek wel weet is dat die eerste en groot gebod sê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” (Mat 22:37.) In Heb 12:14 staan daar: "Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; ..." Om Jesus Christus te volg behels ‘n verbond —  ‘n algehele oorgawe aan en onverbreekbare verbintenis tot Jesus Christus, wat impliseer 'n onderwerping aan die gesag van, en gehoorsaamheid aan Sy Woord, wet, wil en plan vir jou lewe. As jy meer wil lees oor die betekenis en implikasies van algehele oorgawe, volg hierdie skakel.

6. Jy kan Jesus Christus vertrou met jou hele lewe — gees, siel en liggaam.

God het die beste beroep, huweliksmaat, woning, finansiële- en gesondheidsplan vir jou en jou gesin, as jy gewillig is om Hom met jou hele hart te volg.

As jy jou lewe onvoorwaardelik aan Jesus Christus oorgegee het, kan jy Hom vertrou om vir jou en jou gesin te sorg en om jou oorwinnend in en deur alle omstandighede in hierdie lewe te lei en te bewaar tot die dag wat jy opgeroep word vir ewigheidsdiens, of Jesus Christus weer kom!

Jesus Christus sal jou nooit verlaat en jou nooit begewe nie! Die Bybel is vol beloftes vir elkeen van Sy kinders wat Hom met ‘n onverdeelde hart dien en volg. Jy kan Hom vertrou met jou hele lewe! Heb 13:5-8: sê “... want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen? ... Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”  Wil jy meer lees oor die seëninge van die Verbond? Volg hierdie skakel.

7. Die wesenlike- en kernboodskap van die Evangelie is versoening met God en jou naaste deur Jesus Christus.

In 2 Kor 5:17-21 lees ons: “En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen. Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”  

Om met God versoen te word, moet jy van sonde verlos word. Daarvoor het Jesus Christus aan die Kruis betaal met Sy eie Bloed.

Sonde bring altyd skeiding tussen jou en God. Dit is nie moontlik vir ‘n opregte Christen om in sonde voort te leef sonder dat dit sy verhouding met God skaad nie. Jou sonde sal een van twee dinge doen — dit sal of jou gewete so pla dat dit jou sal uitdryf tot bekering en verlossing, of dit sal die Heilige Gees in jou lewe bedroef en blus, en die deur oopmaak vir misleiding in jou lewe. Dit sal jou verhouding met Jesus Christus onderbreek vir solank jy daarin volhard. Jy kan nie met sonde speel nie — dit sal met jou speel! Speel klaar met sonde in jou lewe — daar is volle verlossing en bevryding van die mag van sonde in Jesus Christus. 2 Kor 5:17, die vers wat die gedeelte wat ons hierbo aangehaal voorafgaan, lees so: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”  Joh 8:36 sê: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”

Dit is ook nie moontlik om met God versoen te wees as jy in ‘n onversoende verhouding voortleef met ‘n ander mede-Christen nie. Dit is nie moontlik om in ‘n gebroke verhouding met jou huweliksmaat, jou kinders, jou ouers of jou naaste te leef en steeds ‘n lewende verhouding met Jesus Christus te hê nie. Dit is nie moontlik om in ‘n gebroke verhouding met jou man of vrou, pa of ma, of iemand anders te leef sonder om in ‘n gebroke verhouding met Jesus Christus te leef nie! Daarom haat God egskeiding en verdeeldheid onder Christene. As daar iemand in jou lewe is wat jy nie kan vergewe nie, sal die Here ook nie jou sonde vergewe nie. Lees gerus ook die artikel: Jou Sonde Is Dalk Nie vergewe nie.

8. God delegeer Sy gesag aan mense wat as Sy verteenwoordigers optree binne ‘n bepaalde gesagsorde.

In die eerste plek het God Sy gesag aan Sy eniggebore Seun, Jesus Christus, gedelegeer. Mat 28:18: “... Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” Jesus Christus delegeer weer Sy gesag aan Sy kinders in ‘n bepaalde orde. In gesinsverband, staan die man onder die gesag van Jesus Christus, die vrou onder die gesag van haar man en die kinders onder die gesag van hulle ouers. Werknemers staan onder die gesag van hulle werkgewers, en lidmate onder die gesag van hulle gemeenteleiers. (Mat 15:4; Rom 13:1-7; Ef 5:22-33; Ef 6:1-9; Fil 2:29; 1 Pet 2:13-18; 1 Tim 5:17; 1 Tim 6:1; Tit 2:9.) Wanneer en waar hierdie gesagsorde kortgesluit word in jou lewe, het dit ‘n negatiewe invloed op jou verhouding met God.

In terme van God se gedelegeerde gesag tree die persoon onder wie se geestelike gesag jy staan, namens God op in jou lewe.

As jy God se gedelegeerde gesag oor jou lewe verwerp, verwerp jy God se gesag oor jou lewe.

Dit beteken nie dat jy noodwendig in alles moet saamstem met die gesag oor jou en dat hy of sy altyd reg en onfeilbaar is nie. Dit beteken ook nie dat die Heilige Gees nie direk met jou praat nie, maar die Here praat heel dikwels met jou en my deur iemand, en op ‘n manier wat van ons onderwerping, vernedering en selfverloëning vra. Die oomblik dat jy teen God se gedelegeerde gesag oor jou rebelleer of in opstand kom, sondig jy teen God en blus jy die stem van die Heilige Gees in jou lewe. As jy nie onder die gesag van jou man, jou pa of ma, jou leraar, onderwyser, of die owerhede wat oor jou gestel is kan funksioneer nie, sal jy jou ook nie onder God se gesag oor jou lewe onderwerp nie.

Hier is ‘n voorbeeld. Vir hierdie rede is die vyfde gebod, eer jou vader en jou moeder, so belangrik. Hierdie gebod word op ‘n paar plekke in die Bybel beklemtoon. In Deut 27:16 lees ons: “Vervloek is hy wat sy vader of sy moeder verag; en die hele volk moet sê: Amen.” Om jou pa of ma te verag kom neer op die verwerping van hulle gesag en dit bring jou onder ‘n vloek. Lees meer hieroor in ’Die Ontnugtering’.  

9. Ons leef in die laaste dae vlak voor die wederkoms van Jesus Christus, waarvan ‘n belangrike teken grootskaalse misleiding is.

Dit is verstommend dat daar kinders van die Here is wat klaarblyklik geen wederkomsverwagting of -verlange het nie. Dit is my beskeie, maar oorwoë mening dat iemand wat bely om 'n Christen te wees maar geen wederkomsverwagting of -verlange het nie, ernstige ondersoek na die toestand van sy of haar geloof en verhouding met Jesus Christus moet doen. Hoe kan 'n vrou wie se man op kontrak oorsee werk, geen verlange hê na haar man se terugkoms en nie belangstel in die tyd wanneer sy kontrak voltooi sal wees nie? Dit is egter nie my doel om hier oor die tyd van die wederkoms te praat nie, maar wel oor die verskynsel van grootskaalse misleiding, wat een van die belangrikste tekens van die eindtyd is! (Volg die skakel as jy meer wil lees oor die tyd van Jesus Christus se wederkoms.)

Ek wil jou egter baie ernstig waarsku om seker te maak dat jy nie besig is om ‘n ander Jesus as Jesus Christus van die Bybel te volg nie!

Hierdie ander Jesus is ‘n baie populêre Jesus.

Daar is 'n baie populêre evangelie wat regoor die wêreld besig is om soos 'n veldbrand te versprei, waarvan selfverwesenliking die primêre bestanddeel is. Een skrywer noem dit "The False Gospel of You-be-you".  'n Ander skrywer noem dit 'The Dangerous Allure of “Sexy Christianity”'. Hierdie populêre, selfgerigte evangelie verkondig 'n ander Jesus wat baie meer aantreklik is vir die massas. Hierdie Jesus het jou lief net soos jy is -- in jou sonde. Hy is altyd aan jou kant en jy kan hom vertrou om jou in alles deur die lewe te help. Hy wil net hê dat jy gesond en gelukkig sal wees, en dat dit met jou goed sal gaan. Hy wil jou net seën — hy is in jou diens. Ek wil jou tog ernstig en dringend waarsku — alhoewel hierdie stellings elemente van waarheid bevat, is Jesus Christus van die Bybel ‘n heel ander Persoon! Maak asseblief doodseker dat jy besig is om Jesus Christus van die Bybel te volg. Lees hier meer oor die ander Jesus.

10. As jy Jesus Christus met ‘n onverdeelde hart wil volg en dien, sal jy vervolg word.

“En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” (2 Tim 3:12.) Wat meer is, is dat hierdie vervolging dikwels van hulle mag kom wat die naaste aan jou is — selfs van jou huweliksmaat, jou eie kinders en jou familie en vriende. In Mat 10:34-39 lees ons: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder. En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees. Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.” Ek wil tog hier noem dat hierdie punt nie teenstrydig is met punt 7 nie! Wat 'n Christen uniek maak is dat hy sy vyande en hulle wat hom haat kan liefhê. Jesus het ons dit immers beveel in Mat 5:44.

Daar bestaan 'n wanbegrip by sommige Christene dat die bewys van 'n opregte geloof is dat ongereddes en die wêreld aangetrokke tot die Christen sal wees. Die Woord leer egter vir ons anders. Ons lees in 2 Kor 2:15,16: "Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. ..." (Beklemtoning my eie.)

As jy geen vervolging ter wille van jou geloof in Jesus Christus beleef nie, moet jy doodseker maak dat jy op die regte pad is.

Om Jesus Christus van die Bybel met jou hele hart te volg en dien, is nie ‘n populêre pad nie. Jesus beskryf dit as ‘n smal weg in Mat 7:31. Dit is somtyds in botsing met jou kultuur, jou leefwêreld en selfs met jou eie gesin, familie en vriende.

Daarmee saam is egter ook 'n wonderlike belofte: Rom 8:31-39: "Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? ... Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? ... Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie."

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
Leef In Oorwinning