Leef In Oorwinning

God se Doel en Plan vir JOU Lewe

deur
Elmer Grobler

Jy het seker al baie gehoor dat God ‘n wonderlike doel en plan met elke mens op aarde, en ook met jou lewe het. Die geheim van lewensgeluk is om jou doel hier op aarde te verstaan en dit te leef. Die grondoorsaak waarom mense hier op aarde ongelukkig is en ’n gebrek aan lewensvervulling beleef, is omdat hulle nie God se doel en plan vir hulle lewens verstaan en daarin leef nie.

Op die korttermyn kan baie dinge aan ‘n mens lewensvervulling gee, maar niks hier op aarde kan blywende lewensvervulling bied tensy jy binne God se doel en plan vir jou lewe leef nie! Elke vervullende lewenservaring hier op aarde, maak nie saak hoe ryk of suksesvol jy in die lewe is, of wat jy ookal in die lewe bereik het nie, kom tot ‘n einde en eindig op die ashoop van onvervulde drome — tensy jy God se doel en plan vir jou lewe verstaan en daarin leef!

Wanneer ‘n mens jonk is lyk die lewe vir ‘n mens so uitdagend. Jy vind vervulling in baie dinge. Ongelukkig kom alles vroeër of later tot ‘n einde. Laat ek vir jou net een voorbeeld gee. Die toerisme bedryf is een van die grootste bedrywe ter wêreld. Mense besoek ander dele van die land en die wêreld om te gaan vakansie hou, en soek na ander plekke en nuwe ervaringe met die hoop om ‘n vars belewenes van lewensvervulling te kry — om maar net weer te ontdek dat hulle volgende jaar weer moet gaan want die vervulling van verlede jaar se vakansie is behoue slegs op ‘n foto, video of ‘n gedagte van die verlede.

Die Doelloosheid Sindroom

Die Bybel verduidelik hierdie verskynsel baie duidelik in die boek Prediker, waarvan Salomo, die rykste en suksesvolste koning van sy tyd die skrywer is. Aan die einde van sy lewe het Salomo tot die volgende gevolgtrekking gekom: "Ek, die Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem. Ek het my daarop toegelê om alles wat in hierdie wêreld gebeur, te ondersoek en behoorlik te deurdink. ... Ek het alles wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk: alles kom tot niks, dit is 'n gejaag na wind." (Pred 1:12-14 NAV.) Tog stap elke mens op aarde Salomo se pad vanaf geboorte om maar net klokslag tot die dieselfde gevolgtrekking te kom — in hierdie lewe bevredig niks nie — tensy jy God se doel en plan vir jou lewe ontdek en leef!

Elke mens op aarde word gebore met, wat ek noem, die Doelloosheid Sindroom. Die Doelloosheid Sindroom is 'n direkte gevolg van die sondeval en die sondeval se handelsmerk. Daar bestaan twee Bybelse geheime wat elke mens op aarde moet verstaan om verlossing te verkry van die Doelloosheid Sindroom en blywende lewensvervulling te beleef. Die eerste is, jy moet verstaan hoe om God se doel en plan vir jou lewe te VIND. Tweedens, jy moet verstaan hoe om binne God se doel en plan vir jou lewe te LEEF.

Hoe om God se doel en plan vir jou lewe te VIND

Ek gaan nie lank stilstaan by hierdie onderwerp nie, want dit is bekende waarhede wat elke persoon wat in ‘n land woon waar die Bybel en die Evangelie vryelik beskikbaar is, reeds gehoor het — en as jy dit nog nie gehoor het nie, is dit eenvoudig omdat jy geen behoefte het om daarna te soek nie. Al wat jy hoef te doen is om jou Bybel oop te maak by Johannes hoofstuk 1. Die dinge van hierdie wêreld bevredig jou nog genoeg en jy dink dit sal altyd so aanhou. Jy dink dat wanneer hierdie seisoen van lewensbevrediging tot ‘n einde kom sal ‘n volgende aanbreek nadat jy die ‘regte’ aanpassings en skuiwe gemaak het, en dat dit so sal voortgaan tot aan die einde van jou lewe. Daar lê ‘n verrassing vir jou voor! Die hartseer van die saak is dat die verrassing vir baie eers op hulle sterfbed aanbreek en dit vir ewig te laat is om iets daaraan te doen!

Om God se doel en plan vir jou lewe te vind, moet twee dinge met jou gebeur. Een, jy moet weer gebore word! As jy nie ‘n getuienis het dat jy weergebore is nie, wil ek jou smeek, ter wille van jou eie lewensgeluk en dié van jou geliefdes, moenie rus voor jy nie die getuienis van wedergeboorte in jou hart het nie. As jy wil weet hoe om weer gebore te word, klik op hierdie skakel. Ek het hierdie webblad spesiaal vir my kinders geskep, maar dit is van toepassing op elke mens op aarde. Ag, en vergewe my maar dat ek ‘n pyn is, maar maak asseblief seker dat jy nie op ‘n valse fondament bou nie! Daar is talle, talle wonderlike mense wat as “Christene” en “kinders van die Here” saam op kerkbanke sit, waarvan meeste waarskynlik glo dat hulle weergebore is, maar op valse fondamente bou! Ek sou graag ‘n hele boek net hieroor wou skryf, maar dit is nie die onderwerp van hierdie skrywe nie.

Liewe vriend, as jy nog nie weergebore is nie, het jy geen verskoning nie! Jy is oop oë oppad hel toe en jy het dit self gekies want jy verwerp God se doel en plan vir jou lewe vir solank jy in hierdie toestand voortleef! Genadetyd is besig om uit te loop en die dag dat God se genadedeur vir jou gaan toeklap is dalk nader as wat jy besef!

Die Groot Geheim ...

Die tweede ding wat met jou moet gebeur om God se doel en plan vir jou lewe te vind is, jy moet by ‘n plek kom waar jy jou ten volle en onvoorwaardelik daaraan oorgee en onderwerp. Jy moet by ‘n plek van algehele en onvoorwaardelike oorgawe aan God se doel en plan vir jou lewe kom. Hierdie is weereens ‘n hele onderwerp op sy eie en boeke en boeke is al oor hierdie onderwerp geskryf. Ten spyte daarvan is dit slegs ‘n klein persentasie van weergebore Christene wat ooit by hierdie plek kom.

Laat ek ‘n geheim aan jou bekend maak. Jy sal NOOIT optimaal deur God gebruik word vir Sy doel en plan vir jou lewe tensy jy by hierdie plek kom nie! Jy sal daarom ook nooit die blywende, oorvloedige lewensvreugde en –vervulling smaak wat die resultaat is van ‘n lewe binne God se volmaakte doel en plan vir jou lewe, tensy jy by hierdie plek kom nie! As jy wil weet hoe om met die Heilige Gees vervul te word en hoe om God se volmaakte doel en plan vir jou lewe deelagtig te word, volg hierdie skakel.

Die Here wil jou as instrument gebruik om ook die Onbereikte Wêreld met die Evangelie te help bereik. Volg die skakel hieronder vir meer besonderhede.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

Leef In Oorwinning