Leef In Oorwinning

God se Skeppingsdoel vir die Mens

deur
Elmer Grobler

Die Aarde vir die Mens, of die Mens vir die Aarde?

Het jy al ooit diep nagedink oor die doel van die lewe en spesifiek jou lewe? Meeste Christene neem die lewe vanselfsprekend en dryf net saam met die Christelike stroom. Maar weet jy waarlik waarheen jy as Christen oppad is? Nou praat ek nie van oppervlakkige antwoorde, soos, ‘ja ek weet ek is oppad hemel toe’, nie. Ek vra vir jou ‘n diepsinnige vraag. Waarheen is jy oppad in jou Christelike lewe? Anders gestel, wat is die doel van jou Christelike lewe — eerstens hier op aarde, maar hierna in die hemel?

Meeste Christene het geen, of andersins ‘n baie beperkte of selfs verwronge idee van waarheen hulle oppad is. Ek was self een van hierdie Christene totdat die Here in Sy groot genade my geestesoë begin oopmaak het vir die dieper waarhede van God’s Woord. Ek nooi jou om saam met my ‘n bietjie diep na te dink oor basiese Bybelwaarhede.

In Gen 1:26-28 lees ons: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers ... oor die hele aarde ... En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers ...” 

Wat was in God se gedagtes toe Hy die mens geskep het? Wat was God se ware motief vir die skepping van die mens?  Ons lees eerstens dat Hy die mens na Sy eie beeld geskep het. Tweedens, dat Hy die mens beveel het om te vermeerder, die aarde te vul, en oor die aarde te heers. Hieruit kan ons reeds belangrike afleidings maak, maar het God dalk meer in gedagte gehad toe Hy die mens geskep het as wat ons in Genesis 1 lees? 

Die vraag wat onbeantwoord bly in hierdie Skrifgedeelte is, het God die mens vir die aarde geskep, of die aarde vir die mens? Met ander woorde, het God reeds in gedagte gehad om die mens te skep toe Hy in Gen 1:1 gesê het, “Laat daar lig wees ...”, of het Hy eers die aarde geskep en toe besluit om die mens te skep om daaroor te heers? 

Waarom is die antwoord op hierdie vraag belangrik?

Die antwoord op hierdie vraag maak ‘n enorme verskil met betrekking tot jou en my doel as Christen! As die laasgenoemde waar is, is jy en ek, en alle mense maar toevallig hier op aarde. Die feit dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het ... is bloot ‘n demonstrasie van die groot liefde en genade van God, en die hele doel daarvan is bloot om die arme verlore mensdom van ‘n ewige verdoemenis te red. Behalwe daarvoor, het God eintlik geen ander doel gehad met die skepping en die Evangelie nie. Die skepping van die mens was eintlik ‘n fout wat God met die Kruis-Evangelie kom regstel het. 

As hierdie scenario waar is, het jy en ek ook eintlik geen bepaalde doel hier op aarde of in die hemel nie, moet ons maar net die tyd so voorspoedig moontlik omkry vir solank as ons nog hier op aarde is, en is dit heeltemal reg om maar saam met die Christelike stroom te dryf sodat ons net eendag veilig in die hemel kan kom. Daarom het ons ook effens ‘n verlange na die wederkoms, want hier op aarde gaan dinge maar somtyds swaar en ons glo dat alles in die hemel volmaak gaan wees en daar sal geen swaarkry meer wees nie. Wanneer dit egter met ons goed gaan op tydelike gebied, verlang ons nie te veel na die hemel nie, want eintlik het ons nou al klaar die ewige lewe, en hierdie ewige lewe behandel ons heel goed hier en nou.

Die feit van die saak is egter dat hierdie scenario ‘n verwronge begrip van God se skeppingsdoel en die Evangelie is, want God het nie die mens vir die aarde gemaak nie, maar die aarde vir die mens! God het die mens reeds beplan voordat Hy die aarde geskep het —  en wel met ‘n baie bepaalde doel! Laat ons na ‘n paar Skrifgedeeltes gaan kyk. (Beklemtoning regdeur my eie.)

Mat 25:34: “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. “

Mat 13:35: “... Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af. “

Eph 1:4: “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld ...” 

2 Tim 1:9: “ wat ons gered en geroep het met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is ...” (before the world began, ..” (AV))

Tit 1:2: “... in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het, ...”

1 Pet 1:17-20: “En as julle Hom as Vader aanroep ... Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos, ... wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, ...”

Op 13:8: “En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.“

Op 17:8: “... en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is.

‘n Toekomstige Bestemming en Doel

Wanneer was die grondlegging van die wêreld? Die grondlegging van die wêreld het begin die oomblik toe God gesê het, “Laat daar lig wees ..” Met ander woorde, God het die mens beplan voordat Hy die aarde geskep het! God het dus ‘n baie bepaalde doel en plan in gedagte gehad met die skepping van die mens — veel groter en hoër as slegs om oor die aarde te heers! Die feit van die saak is dat die aarde vir die mens geskep is — nie die mens vir die aarde nie!

Die aarde is geskep as ‘n woonplek vir die mens en die onderwerping en heerskappy daarvan is die mens se opleidingsveld vir ‘n toekomstige hoër doel! Wat is hierdie hoër toekomstige doel?

Die Bruid van Christus

Ons skryf meer hieroor in 'n volgende artikel, maar om kortliks op te som:

Die doel van die skepping is om 'n nageslag vir God en 'n Bruid vir Sy Seun te verwek na Sy beeld om saam met Hom oor die skepping te heers in ewigheid. Hierdie doelwit sal verwesenlik word met die wederkoms van Jesus Christus. Daarom moet die wederkoms van Christus die primêre fokus van elke Christen wees en die bereiking van die hele wêreld met die Evangelie ons hoogste aardse doel.

Lees gerus verder: Die Bruid van Christus - Feit of Fobie?

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
Leef In Oorwinning