Leef In Oorwinning

Hoe Om God Se Roeping Vir Jou Lewe Te Vind

deur
Elmer Grobler

Die vraag is nie of jy geroep is nie

In die artikel, Roep God Elke Christen?, het ons die drievoudige roeping van God vir elke Christen bespreek. Ons het gesê dat die derde saak waartoe die Here elke Christen roep is diensbaarheid. Die Here wil ons gebruik as Sy instrumente hier op aarde. As dit nie hiervoor was nie, kon ons maar netsowel hemel toe gegaan het na ons redding en heiligmaking, want dan het ons geen doel meer hier op aarde nie.

Paulus verduidelik hierdie beginsel baie doeltreffend in Fil 1:21-24, waar hy sê: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie. Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar om in die vlees te bly, is nodiger om julle ontwil.”

Die vraag is nie of jy geroep is nie. Die vraag is net, na watter deel van die wingerd roep die Here jou om te arbei. Om hierdie vraag te kan beantwoord, moet jy eerste die vraag vra: Roep die Here my voltyds of deeltyds? ‘n Deeltydse roeping is wanneer ek ‘n voltydse sekulêre beroep beoefen en die Here my roep tot deeltydse betrokkenheid by een of ander aksie.

Ons sien hierdie prentjie pragtig in die Ou Testament, veral in die boek Numeri, waar die Here die Leviete afgesonder het vir voltydse tempeldiens. In terme van Sy verbond met Israel het die Here beveel dat elke eersgeborene — mens of dier — aan Hom behoort vir Sy diens. In plaas van elke eersgebore kind in die huisgesin, het die Here egter die Leviete afgesonder vir Sy voltydse diens. Ons lees in Num 3:41: “En jy moet vir My—Ek is die HERE—die Leviete neem in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel, en die vee van die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die vee van die kinders van Israel.” Dit was egter die roeping van elke Israeliet om die Leviete en die tempeldiens te onderhou met hulle offers, tiendes en offergawes.

Indien jy in ’n sekulêre beroep staan, is jou werk ook jou roeping wanneer jy weet dat jy in die Here se volmaakte wil vir jou lewe is. Die enigste verskill tussen ‘n beroep en ‘n roeping, is die wete dat jy in die volmaakte wil van God staan. Daar is egter vier dinge wat die Here van elkeen van ons vra, of ons nou voltyds of deeltyds geroep is. Die enigste verskil is die hoeveelheid tyd wat ons aan ons primêre roeping moet bestee. Die vier dinge is:

  • Jou gebedsondersteuning
  • Jou finansiële ondersteuning of -opoffering
  • Jou gawes, talente en bekwaamheid
  • ‘n Deel van jou tyd

Die vraag is nou, hoe weet ek presies waartoe die Here my roep?

1. Verstaan God se skeppingsdoel en doel met Sy Kerk

In hierdie artikel rig ek my in die besonder tot deeltydse geroepenes, alhoewel die beginsels ook op voltydse geroepenes van toepassing is. Om die Here se roeping vir my lewe te vind, moet ek in die eerste plek verstaan wat God se doel en plan met die skepping is. In die artikel, ‘Is die Bybel nog relevant vir ons wêreld vandag?’, verduidelik ek dat die doel van die skepping is om 'n nageslag vir God en 'n Bruid vir Sy Seun te verwek na Sy beeld om saam met Hom oor die skepping te heers in ewigheid.

Wanneer ek dit verstaan, kry Jesus se Groot Opdrag vir my nuwe betekenis. Nou verstaan ek waarom dit so belangrik is om die Evangelie uit te dra tot aan die uiteindes van die aarde, want die Bybel leer vir ons dat die Bruid van Jesus Christus verteenwoordigend sal wees van elke volk, stam en taal in die wêreld — en God se skeppingsdoel is om ‘n nageslag vir God na Sy beeld en ’n Bruid vir Jesus Christus te verwek. (Op 5:9.) Die primêre taak van die Kerk is dus drievoudig: 1. Die redding van siele, 2. Dissipelskap, en 3. Wêreldsending. Al die ander dinge waarmee die Kerk besig is, is sekondêr. Met ander woorde, die primêre taak van die Kerk is om ongeredde mense na Jesus Christus toe te lei, van hulle ware dissipels te maak, en so veel as moontlik van hulle uit te stuur na die sendingvelde van die wêreld om die Evangelie uit te dra tot aan die uiteindes van die aarde.

Die primêre taak van hulle wat nie geroep is vir voltydse diens nie, is om hulle wat wel is, te ondersteun en te onderhou. Die Here roep elkeen van Sy kinders om deel te wees van die span wat Sy Groot Opdrag uitvoer.

2. Stel jouself tot die Here se beskikking.

Hier is ‘n baie belangrike beginsel wat elke kind van die Here moet verstaan. Soos reeds genoem, het ons die Christen se drievoudige roeping in die artikel, Roep God Elke Christen?, bespreek. Die dag toe jy tot geloof in Jesus Christus gekom het, het jy jouself tot die Here se besikking gestel. Ons praat ook van ‘n oorgawe gemaak. Jy het jouself tot Jesus Christus as jou Verlosser verbind. By implikasie beken dit dat jy jou lewe tot die Here se beskikking gestel het vir Sy doel. Nou wil Hy jou gebruik vir Sy doel. As jy nie beskikbaar is vir Sy doel nie, leef jy in ongehoorsaamheid.

Die Here vra bo alles jou beskikbaarheid! Die Here sal niemand gebruik wat nie beskikbaar is nie! Die Here roep almal, maar Hy werk slegs met beskikbares. Die Here sal nie Sy roeping vir jou lewe aan jou openbaar voor en tensy jy jouself ten volle tot Sy beskikking gestel het nie. Sê-nou Hy wil jou roep tot voltydse diens — is jy beskikbaar? Die Here Jesus forseer Sy roeping op niemand af nie — daarom openbaar Hy Homself slegs aan hulle wat ‘n algehele oorgawe gemaak het.

Die Here sal minstens hierdie vier dinge van jou vra as jy deur Hom gebruik wil word: ‘n getroue gebedslewe, ‘n deel van jou inkomste, jou gawes en talente (waar van toepassing), ‘n deel van jou tyd (waar van toepassing). Is jou gawes, tyd en finansies tot die Here se beskikking? Indien wel, kan jy Hom vertrou om Sy seën daarop en op jou werk en beroep te plaas! Indien nie — wees gereed om God se doel vir jou lewe te mis!

3. Vertrou die Here om jou te wys na watter bediening(e) Hy jou roep

Maak dit ‘n saak van gebed, en vra die Here by watter aksie(s) Hy wil hê jy moet betrokke wees. Jy kan aanvaar dat dit een of meer van die aksies is in jou gemeente, of wat Hy reeds oor jou pad gestuur het of sal stuur, of vir jou ‘n besondere affiniteit of visie gee of gegee het — op voorwaarde natuurlik dat die aksie in harmonie is met God se skeppingsdoel soos ons dit in punt 1 verduidelik het. Jy kan die Here vra om Sy roeping aan jou te bevestig uit Sy Woord — maar indien nie, wees getrou aan die leiding wat jy het.

4. Wees verbind tot jou roeping

Wanneer die Here jou geroep het om by ‘n sekere aksie betrokke te wees, wees ‘committed’ — wees verbind tot getrouheid. Moenie op jou gevoelens staat maak nie — verbind jouself op grond van die Here se roeping. As die Here jou roep om in gebeds– en finansiële ondersteuning betrokke te wees by ‘n aksie, wees getrou daarin. ‘n Aksie sukkel om finansiële beplanning te doen met sporadiese bydraes. Onthou net, alle bedieninge en aksies gaan deur tye van beproewing en toetse. As hulle wat deur die Here geroep is sou moed opgee wanneer dit swaar gaan, sou hulle die Here wat hulle geroep het, teleurstel en sal die Here andere in hulle plek roep. Soos die Here van hulle wie Hy voltyds geroep het verwag om getrou en verbind te wees tot hulle roeping, so verwag Hy van jou om getrou en verbind te wees tot die aksie waarvoor Hy jou geroep het om te ondersteun.

Leef jou doel en roeping

Jou sekulêre werk kry eers ware betekenis wanneer jy verstaan dat die Here vir jou hierdie werk gegee het om jou gesin, maar ook Sy Koninkrykswerk te onderhou. Jou lewensdoel en roeping is nie jou sekulêre werk nie — jou lewensdoel en roeping is dit wat jy vir die Koninkryk van God bereik deur middel van jou sekulêre werk. Wanneer jou gesin se behoeftes swaarder weeg as die Here se Koninkryksbehoeftes en jy die laasgenoemde afskeep ten gunste van jou eie en jou gesinsbehoeftes, moet jy weet jy is besig om God se roeping vir jou lewe te minag en Sy doel vir jou lewe mis te leef! Weet ook dat die Here jou gaan toets hierin!

Terselfdertyd kan jy op die belofte van die Here in Mat 6:23 staatmaak: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Wees egter versigtig — moet nooit met die Here probeer onderhandel nie — wees net getrou aan Sy roeping en Sy Woord! Moenie vir een oomblik glo dat omdat jy vir die Here gee, Hy ‘n verantwoordelikheid het om aan jou terug te gee nie. Wat jy wel kan glo is dat jy Hom kan vertrou in elke behoefte!

As jy jouself tot die Here se roeping vir jou lewe verbind het, neem vir jouself die Aäronitiese seën in Num 6:24-26:

“Die HERE sal (my) seën en (my) behoed; die HERE sal sy aangesig oor (my) laat skyn en (my) genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor (my) verhef en aan (my) vrede gee.”
Vers 27: “So moet (julle) dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën.”

Met hierdie artikel as agtergrond, kan jy nou vir Here vra of Hy jou roep om, ondere andere, ‘n ondersteuningsrol vir hierdie bediening te vervul.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
Leef In Oorwinning