Leef In Oorwinning

Jou Passie vir God en Sy Wêreld

deur
Elmer Grobler

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Joh 3:16 - die kragtigste en passievolste stelling wat die wêreld nog ooit gehoor het!. Ek het reeds twee ander artikels geskryf oor Joh 3:16, naamlik, ‘Die Passie van God vir die Wêreld’ en ‘Die Wêreld van God se Passie’. Nou kom ons by die derde, naamlik, jou passie vir God en Sy wêreld.

Die Evangelie het twee kante ...

Ons het tot nou toe stilgestaan by God se passie vir die wêreld, maar nou kom ons by die anderkant van die Evangelie — naamlik, my en jou passie vir God en Sy wêreld. Die Evangelie van Jesus Christus behels ‘n tweerigting verhouding tussen die mens en God. Die Bybel gebruik dikwels die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou om hierdie verhouding te beskryf. Om die waarheid te sê, het God die huwelik ingestel as ‘n voorbeeld van die verhouding wat Hy met ons en Sy Kerk wil hê. Daar staan onder andere in Op 19:7: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.”  

Kan jy jouself voorstel dat ‘n man en ‘n vrou in die huwelik met mekaar verbind is, maar die vrou het nie haar man ten volle lief met haar hele hart nie. Sy het met haar man getrou hoofsaaklik vir sekuriteit, ‘n goeie lewe en gerief. Sy slaap in dieselfde bed met hom snags, maar sy is nie ten volle verbind tot hom en sy doel in die huwelik vir haar lewe nie. Hulle leef eintlik twee afsonderlike lewens sonder die intimiteit en eenheid van ‘n gemeenskaplike lewensdoel en bestemming.

Dit is hartseer dat hierdie ‘n ware prentjie is van ‘n groot deel van die Kerk van Jesus Christus vandag! Baie Christene vandag is so aardsgebonde en aardsgesind dat hulle geen passie vir die ewigheid het nie! Hoe is dit moontlik dat iemand kan sê, ek het Jesus lief, maar geen verlange na Sy wederkoms het nie? Hoe kan iemand sê, ek het Jesus lief, maar geen begeerte hê om in die ewigheid met Hom verenig te word nie? ‘n Passie vir Jesus se wederkoms, en daarom vir die wêreld van Joh 3:16, moet dus ‘n onmiskenbare kenmerk van ‘n ware weergebore kind van God se lewe wees!

Die voorkant van die Evangelie

Om Jesus Christus as my Verlosser aan te neem is slegs een kant van die Evangelie. Die voorkant van die Evangelie gaan oor God se passie vir Sy wêreld en vir my, maar die anderkant van die Evangelie gaan oor my en jou en die Kerk se passie vir God en Sy wêreld! Die Evangelie van Jesus Christus kan vergelyk word met ‘n goue muntstuk met twee kante. Op die voorkant is daar ‘n afdruk van Jesus Christus se gesig en daar staan geskryf: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het ...” Maar op die agterkant is daar ‘n afdruk van jou gesig en staan daar, “Want so lief het Pieter of Sannie (plaas jou eie naam hier in) vir God en daarom God se wêreld gehad, dat hy of sy, hom- of haarself gegee het, ...” Jesus sê vir jou en my: My kind nou verwag ek dat jy My so lief sal hê dat jy jouself, jou lewe, vir My en My plan en doel vir My wêreld sal gee.

Die agterkant van die Evangelie

Joh 3:16 het ‘n b-gedeelte wat God oor jou en my lewe wil skryf. In Joh 3:16b wil Hy graag skryf: “Want so lief het Pieter of Sannie (plaas jou eie naam hier in) vir God, en daarom God se wêreld gehad, dat hy of sy, hom- of haarself gegee het, sodat elkeen wat in Jesus glo nie verlore mag gaan nie maar die ewige lewe mag hê.”

Hierdie is die onvermydelike eindresultaat van Joh 3:16, want in Rom 12:1 lees ons: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” Laat ons Rom 12:1 parafreer. Daar staan in werklikheid: “En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die passie van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers vir Sy hemelse doel en plan met jou lewe, die Kerk en die wêreld. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” Dit is ook die inhoud van die eerste gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” Mat 22:37.

Wat is die gevolg van my passie vir God?

Die gevolg van my liefde vir God is tweërlei: eerstens, God herstel my gevalle karakter en persoonlikheid na Sy beeld — die Bybel noem dit heiligmaking. Die tweede is dat ek deur Hom gebruik word vir Sy ewigheidsdoel en -plan vir die Kerk en die wêreld! Ons lees in 2 Tim 2:21: “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy 'n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.”

God wil my as Sy instrument gebruik — maar die mate waarin Hy my kan gebruik hang af van my liefde vir Hom! God gebruik nie ysblokke nie — hy werk met vuur. As ek wil dat die vuur van die Heilige Gees deur my moet werk, moet ek aan die brand wees vir God en Sy wêreld! God wil elkeen van Sy kinders gebruik en Hy roep elkeen tot Sy diens!

Jesus roep elkeen ...

Dit beteken nie dat die Here elkeen roep tot voltydse diens nie – maar dit beteken wel dat Hy elkeen roep! Het jy al Sy roepstem gehoor? In 1 Joh 2:15 staan daar: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie.” Die volume van die stasie van 1 Joh 2:15 se wêreld is so hard in die oor van baie Christene dat hulle nooit die stem van die Heilige Gees vanuit die stasie van Joh 3:16 se wêreld hoor nie! Hoor jy die roepstem van die Here vanuit die wêreld van Joh 3:16? Het jy jouself al ten volle oorgegee vir Sy ewigheidsdoel en -plan met jou lewe?

Die verkeerde wêreld ...

Liewe kind van God, die Here wil van jou en my Sy instrumente maak om Sy hemelse doel en plan vir die wêreld en die Kerk tot uitvoering te bring! God wil jou en my gebruik om Sy skeppingsdoel tot vervulling te bring! Hy wil nie ons lewensvreugde wegneem of die lewe vir ons moeilik maak nie. Hy wil juis aan ons oorvloedige lewe en hemelse lewensvreugde en vervulling skenk!

Die probleem is dat baie Christene soek hierdie oorvloedige lewe en vervulling in die wêreld van 1 Joh 2:15 — die mens se wêreld — Demas se teenswoordige, sondige wêreld — maar dit is die verkeerde wêreld.

Hierdie wêreld bring geen versadiging nie. Hierdie wêreld sal jou dors nooit les nie — jy sal drink en drink en nooit versadig word nie. Die oorvloedige lewe wat Jesus vir ons wil gee sal ons slegs in God se wêreld — die wêreld van Joh 3:16 vind, wanneer ons deur God as Sy instrument gebruik word!

Hoe word ‘n mens ‘n instrument in die hand van God?

Jesus gee vir ons die antwoord onder andere in Han 1:8: “julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ...” Die geheim om ’n instrument in die hand van God te word en God se passie vir ‘n verlore wêreld te kry is ‘n Geesvervulde lewe. (Ef 5:18) En die geheim van ‘n Geesvervulde lewe is algehele oorgawe — ’n lewe wat ten volle en sonder voorwaarde tot God se beskikking gestel is vir Sy ewigheidsdoel en -plan, soos ons dit in Rom 12:1 gelees het.

God vra ‘n Romeine 12:1-oorgawe van elkeen van Sy kinders — nie om ons te bind of te straf nie — maar juis om ons te seën met die volle seën van die Evangelieboodskap!

Die gevolg van so ‘n algehele oorgawe sal onvermydelik ‘n lewende passie vir ‘n verlore wêreld in my lewe tot gevolg hê — want dit is die passie van die Heilige Gees. Pinkster en die Groot Opdrag van Jesus Christus is onlosmaaklik aan mekaar verbonde! Iemand wat getuig van die vervulling met die Heilige Gees sal onvermydelik ‘n passie vir ’n verlore wêreld en Jesus se Groot Opdrag hê — want dit is die passie van die Heilige Gees!

Kan Jesus Joh 3:16b oor jou lewe skryf?

“Want so lief het jy (plaas jou eie naam hier in) vir God en God se wêreld gehad, dat jy jouself gegee het, sodat elkeen wat in Jesus glo nie verlore mag gaan nie maar die ewige lewe kan hê.” As jy soek na God se volmaakte wil en plan vir jou lewe, wil ons jou graag help om dit te vind. As dit wat jy gehoor het ‘n honger en dors in jou siel ontketen om deur God gebruik te word, is jy nou op die regte plek. Miskien is jy moeg geswoeg en geskrop in die teenswoordige wêreld — die verkeerde wêreld. Jy smag daarna om deel te word van God se groot plan en doel met Sy wêreld — God se wêreld – die wêreld van Joh 3:16.

Miskien is jy teleurgestel met hierdie wêreld. Kan ek iets in jou oor fluister — hierdie wêreld sal jou definitief teleurstel — indien dit nog nie het, sal dit kom — maar teleurstel sal hierdie wêreld jou beslis! Dit is slegs in God se wêreld waar hoop op ’n beter toekoms altyd helderder skyn en die beste altyd voorlê!

Niks sal egter in jou lewe verander tensy jy ‘n besliste stap van algehele wilsoorgawe in gebed neem nie. Ons praat nou met gelowiges! Laat ons dit herhaal, want sommige Christene dink dit is net op ongelowiges van toepassing! Niks sal in jou lewe verander tensy jy ‘n besliste stap van algehele geloofsoorgawe van jou Wil in gebed neem nie!  

Baie Christene ervaar nooit die volle krag en passie van die Heilige Gees in hulle lewens nie omdat hulle slegs ‘n intellektuele of ‘n emosionele oorgawe gemaak het. Hulle vereenselwig hulleself intellektueel en emosioneel met die kruisdood van Jesus, maar deins terug vir die praktiese implikasie daarvan vir hulle lewe. Hulle aanvaar ten volle dat Jesus vir hulle gesterf het, maar deins terug om geestelik saam met Hom te sterwe. Die Vader se wil is dat jy sal oorgaan tot ’n aktiewe algehele geloofsoorgawe van jou Wil aan Jesus Christus in gebed! Nie my wil nie, maar U wil vir my lewe!

‘n Algehele geloofsoorgawe in gebed is die ‘katalisator’ wat die krag en passie van die Heilige Gees in jou lewe ontsluit. ‘n ‘Katalisator’ in die wetenskap is iets wat ‘n chemiese reaksie veroorsaak. In die geestelike sin van die woord is ’n algehele geloofsoorgawe in gebed die begin van elke geestelike ‘chemiese reaksie’ of persoonlike herlewing. Die praktiese implikasie van so ‘n algehele oorgawe van jou Wil is dat jy jouself gewillig verklaar om jou rug te draai op elke vorm van sonde en elke ding wat teenstrydig is met God se Woord, Sy wil en Sy plan vir jou lewe. Die Heilige Gees forseer Homself op niemand af nie — maar wanneer jy jou Wil onvoorwaardelik in geloof in gebed aan Hom oorgee vir Sy doel en plan met jou lewe en Sy wêreld, stort Hy die passie en krag van God in jou lewe uit!

Jy het moontlik alreeds jou lewe aan Jesus oorgegee as jou Verlosser — maar het jy al jou lewe aan Hom oorgegee as jou Here? Jesus het die inisiatief geneem — Hy het Sy eie lewe aan die Kruis gegee om jou passie te koop met Sy eie kosbare bloed. Nou wag Hy vir jou om op Sy passie te antwoord en jou liefde vir Hom te bewys deur ’n volle oorgawe van jou hele lewe aan Hom!

As jy meer wil weet oor hierdie onderwerp, lees hierdie artikel, ‘Die Geheim van ‘n Oorvloedige, Doelgerigte Lewe’. As jy gereed is om nou ‘n algehele oorgawe te maak en begeer om deur God gebruik te word vir Sy groot en hemelse doel en plan vir die wêreld, nooi ek jou om die volgende gebed te bid.

‘n Lewensveranderende toewydingsgebed ...

Moenie hierdie gebed haastig bid nie. Neem jou tyd en worstel deur elke sin totdat jy volkome vrede gekry het dat jy met elke uitstaande aspek in jou lewe met betrekking tot hierdie gebed gehandel het — en totdat die passie van die Heilige Gees kragtig deurbreek in jou lewe.

Vader, ek het ‘n begeerte om deur U gebruik te word. Ek het vandag ‘n nuwe visie gekry van u groot, ewigheidsdoel en -plan met die wêreld en U Kerk — en ook met my persoonlik. Vergewe my dat my lewe tot nou toe so onvrugbaar en selfgerig was. Vergewe my dat ek U volmaakte doel en plan vir my lewe mis geleef het. Vergewe my geestelike kortsigtigheid. Vergewe my opstandigheid, ongehoorsaamheid, ongeloof en gebrek aan Goddelike passie. Vergewe my waar ek U Heilige Gees in my lewe geblus of bedroef het. Druk U vinger op elke ding in my lewe wat U Heilige Gees beperk, blus of bedroef. (Bely alle bewuste sonde in jou lewe by die naam.)
Was my in die kosbare Bloed van die Lam en reining my van elke sonde en selfgerigtheid. Heilig my geheel en al. Verlos my van elke sonde, en maak my vry van elke afgod en elke wêreldse liefde in my lewe.
Ek gee in hierdie oomblik (vir die eerste keer of by hernuwing) elke terrein van my lewe — gees, siel en liggaam, wil, intellek en emosie — algeheel en onvoorwaardelik aan U oor om te gebruik tot vervulling van U Goddelike, ewigheidsdoel en -plan vir die wêreld, die Kerk, en vir my lewe. Vul my met U Heilige Gees en neem volle beheer van my lewe. Ek skuif agter die stuurwiel van my eie lewe uit en gee dit aan U oor.
Ek neem U op U Woord in Ef 3:16-20 wat sê: “dat Hy aan (my) mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, ... en (ek) in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat (ek) vervul kan word tot al die volheid van God. En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat (ek) bid of dink, volgens die krag wat in (my) werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid!”
Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus my Here. Amen.

Die Here roep jou tot betrokkenheid by die Onbereikte Wêreld

Volg die skakel hieronder vir meer besonderhede.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

Leef In Oorwinning